Sunday, 30 November 2014

Eerste treë op die Oranjemund reis

Die Chinese het 'n spreuk wat lui: " 'n Reis van 'n 1000 myl begin met die eerste tree."
So begin my reis in Oranjemund toe Saterdag 29 November letterlik met die eerste tree van een van my doelwitte vir die 40 dae in Oranjemund - om weer fiks te word.
Ná ek gebid en vra het, loop ek 'n paar Nike cross trainers raak teen 'n spotgoedkoop prys wat ek kan bekostig net vóór ek uit Kaapstad weg is.
Ek hou by my voorneme en trek die tekkies vroegoggend aan en vat die pad. Die eerste tree op my fikswordpad. Ek was lanklaas só onfiks en het vir lank nie gedraf nie nadat ek my ore uitgeleen het aan 'n spesialis op 'n tyd in my lewe toe ek nie baie sterk was nie. Met die gevolg dat ek vir 'n paar jaar nie gedraf het nie. Geswem ja. Maar draf is 'n ander...nou ja unieke 'reis'. 

Ek is heel beïndruk met my byna ses kilometer wat ek gemaklik draf. Maar teen die aand is my lyf toe nie meer so beïndruk nie en Sondagoggend staan ek moeiliker as gewoonlik uit die bed uit op. Voor ek klaarmaak vir kerk doen ek dit toe weer. 20 minute intervalle en ek oorleef! Dit raak moeiliker soos mens ouer word, maar ek het begin en teen dag 40 gaan ek 10 km kan kafdraf.


My reis in Oranjemund begin later die oggend met 'n verkenningstog. Karin vat my vir ontbyt by Motolek. Ek besef dis die platteland. Die Namibiese platteland. Maar later meer oor dié Oranjemund 'diamantjies'. Daarna volg 'n bekendstelling met die dorp.

Nou, vir die van julle wat nog nooit in Oranjemund was nie, dis 'n dorp. Nie 'n groot dorp nie. 'n Dorpie. Heelwat kleiner as Malmesbury, maar darem so bietjie groter as Mooreesburg of Piketberg. Iets in daai lyn. 

Nou net om dit in konteks te plaas, ek het later vinnig die verkenningstog in die dominee se Mercedes herhaal. Alleen. Sodat ek nie verdwaal kerk toe nie - hiers nie 'n berg, toring of enige ander baken om rigting te hou nie, want dis plat en ek is mos een van daai unieke skepsels wat nie weet waar noord of wes sonder 'n kompas lê nie. Nou dit neem ongeveer so 10 minute om deur die dorp te ry. Dis nou as daar nie verkeer is nie. En ek vermoed dit gebeur nie baie hier nie. Òf as jy agter 'n 'Munder' beland nie. Kyk, as jy gedink het Slaapstad is laid back en gefrustreerd raak met Kaapse bestuurders se gekruiery, moet jy die Munders beleef! Só ry ek mos Sondagoggend om betyds vir 'band practice' by die kerk te wees. Die 5 minute rit neem toe net 2 minute. Maar nadat ek my ghitaar twee keer ge-tune het, vir Mike ontmoet het, alles op die preekstoel reggesit het, Karin my vir 'n toer deur die kerk geneem het, kom die laaste lede van die musiekgroep rustig ingewandel. Dis toe dat ek besef ek is in Afrikatyd.

Hoe dit ook al sy, die dorp is 15 minute groot. En die pad see toe neem ook so 10 minute - behalwe as jy agter 'n Munder natuurlik beland - dan neem dit 30. 
Maar so word ek toe vir my toer deur die dorp geneem en die 15 minute reis en 10 minute see toe bygetel, neem ons toe 'n goeie drie ure, en Karin praat onophoudelik. 

Nadat ons drie keer die roete kerk toe gery het, en weer 'n keer van die pastorie af net om seker te maak ek verdwaal nie Sondagoggend op pad kerk toe nie, en ál die ander plekke, gemsbokke, en see besoek het, skop ek voete uit. 

Oranjemund se reis het begin!

Saturday, 29 November 2014

Reis na Oranjemund

So kom ek Vrydagaand die eerste keer in Oranjamund aand. Dit is die eerste keer wat ek in dié dorp my voete loop sit. Om die waarheid te sê, dit is die eerste keer dat ek in Namibië is.
En so begin my eerste blootstelling aan 'n ander land in Afrika. Ek het al 'n paar lande in die wêreld gesien, maar dit is die eerste tree uit die veiligheid van Suid-Afrika in 'n ander land in die "donker" kontinent,

Nodeloos om te sê dat die reis na Oranjemund reeds 'n paar weke gelede begin het nadat ek op 'n "advertensie" vir 'n aflosdominee in die Desember-vakansie gereageer het. En so het 'n warboel van reëlings in my reeds warboelagtige lewe van die afgelope twee maande begin.

  • Paspoort - verval, doen aansoek, gaan haal - alles binne 'n week - check!
  • Vervoer reëlings - busse, bussies, taxi's - roete is beplan - check
  • Werksvisum - vorm kry, uitdruk, invul, scan, dokumente waarmerk, e-pos, en ten einde laaste weer paspoort scan, waarmerk en e-pos - check
  • Dokumente courier - check
  • Toestemming vir toegang om in die dorp te mag wees - dokumente en ID - check 
  • e-posse met reëlings en vrae en nog vrae - check
En so vlieg twee, drie weke in 'n oogwink verby en voor ek my oë kan uitvee word die laaste groete gegroet en wag ek vir die Van Wyks se bussie om my in die vroeë oggendure te kom oplaai.

Die reis neem my weer deur die Noord-Kaap, in my nuutgevonde hartverloor-plek. Namakwaland. 'n Maand gelede het ek my se voete vir die eerste keer in Springbok en Nababeeb loop sit, hoor jy. En het die besigheid nou in my se hart loop intrek! Sak en pak. Boots en all. En so, sonder dat dit so beplan was, is ek weer by nuutgevonde dierbare nuwe vriende in Springbok.

Eerste middag loop ek weer 'n draai deur oom Jopie se plek en verken sommer die dorp. Te laat om bus te vang Nababeeb toe. Maar vroegmôre Vrydagoggend is ek op die bus na Nababeeb en so loop ek deur die stofstrate en gaan soek 'n paar van dié dierbare mense op. Weereens ontdek ek die sout van die aarde.

Die middag is egter 'n nuwe ervaring vir my. Ek loop haal 'n taxi wat my sal deurneem tot by die grenspos duskant Oranjemund. Onthou, my vel is wit. En dik. Ons wit mense is mos trots. Ons ry met ons se eie karre. Ons ken nie van die taxi-besigheid nie. 

Gelukkig het my wedervaringe met die MiCity my al 'n paar lesse geleer. Soos dat almal maar dieselfde is. Dat onse 'witmense' soms onsself heeltemal te hoog ag. Sonder rede. Dat duisende mense daagliks van dié 'publieke' vervoer moet gebruik maak omdat hulle geen ander keuse het nie. En dat daar Kinders van die God op die taxi's sit en dit selfs bestuur en maar net so hard saam bid om veilig by hul bestemmings aan te kom.

Terwyl "Hoekom Here" en "Hy is jou rots" in my ore oor die luidsprekers weergalm, dink ek aan die lewensreis. Dat ons almal graag met luukse Mercedes sedan-motors of grand 4x4's of ambeie, skuus Fortuners, orals sou wou heenjaag, moet ons soms die ander alternatiewe neem. 

Maar of jy luuks jaag of saam met 'n groep kruip, solank jy weet waar jou eindbestemmings is, geld dieselfde beginsels vir almal, wit en bruin en swart, ryk en arm, geleerd en ongeskoold. Dit het die lewe ons geleer. Dis nie die masse wat sukses behaal nie, maar die gefokusde persoon of groep mense wat weer waar die einddoel is en dit wat tot hul beskikking is, gebruik om hul destinasie te bereik!

Vir nou is my eindbestemming 40 dae in Oranjemund, om te luister, te mediteer, te luister, te bid, te luister en die pad uit te kaart...