Saturday, 29 November 2014

Reis na Oranjemund

So kom ek Vrydagaand die eerste keer in Oranjamund aand. Dit is die eerste keer wat ek in dié dorp my voete loop sit. Om die waarheid te sê, dit is die eerste keer dat ek in Namibië is.
En so begin my eerste blootstelling aan 'n ander land in Afrika. Ek het al 'n paar lande in die wêreld gesien, maar dit is die eerste tree uit die veiligheid van Suid-Afrika in 'n ander land in die "donker" kontinent,

Nodeloos om te sê dat die reis na Oranjemund reeds 'n paar weke gelede begin het nadat ek op 'n "advertensie" vir 'n aflosdominee in die Desember-vakansie gereageer het. En so het 'n warboel van reëlings in my reeds warboelagtige lewe van die afgelope twee maande begin.

  • Paspoort - verval, doen aansoek, gaan haal - alles binne 'n week - check!
  • Vervoer reëlings - busse, bussies, taxi's - roete is beplan - check
  • Werksvisum - vorm kry, uitdruk, invul, scan, dokumente waarmerk, e-pos, en ten einde laaste weer paspoort scan, waarmerk en e-pos - check
  • Dokumente courier - check
  • Toestemming vir toegang om in die dorp te mag wees - dokumente en ID - check 
  • e-posse met reëlings en vrae en nog vrae - check
En so vlieg twee, drie weke in 'n oogwink verby en voor ek my oë kan uitvee word die laaste groete gegroet en wag ek vir die Van Wyks se bussie om my in die vroeë oggendure te kom oplaai.

Die reis neem my weer deur die Noord-Kaap, in my nuutgevonde hartverloor-plek. Namakwaland. 'n Maand gelede het ek my se voete vir die eerste keer in Springbok en Nababeeb loop sit, hoor jy. En het die besigheid nou in my se hart loop intrek! Sak en pak. Boots en all. En so, sonder dat dit so beplan was, is ek weer by nuutgevonde dierbare nuwe vriende in Springbok.

Eerste middag loop ek weer 'n draai deur oom Jopie se plek en verken sommer die dorp. Te laat om bus te vang Nababeeb toe. Maar vroegmôre Vrydagoggend is ek op die bus na Nababeeb en so loop ek deur die stofstrate en gaan soek 'n paar van dié dierbare mense op. Weereens ontdek ek die sout van die aarde.

Die middag is egter 'n nuwe ervaring vir my. Ek loop haal 'n taxi wat my sal deurneem tot by die grenspos duskant Oranjemund. Onthou, my vel is wit. En dik. Ons wit mense is mos trots. Ons ry met ons se eie karre. Ons ken nie van die taxi-besigheid nie. 

Gelukkig het my wedervaringe met die MiCity my al 'n paar lesse geleer. Soos dat almal maar dieselfde is. Dat onse 'witmense' soms onsself heeltemal te hoog ag. Sonder rede. Dat duisende mense daagliks van dié 'publieke' vervoer moet gebruik maak omdat hulle geen ander keuse het nie. En dat daar Kinders van die God op die taxi's sit en dit selfs bestuur en maar net so hard saam bid om veilig by hul bestemmings aan te kom.

Terwyl "Hoekom Here" en "Hy is jou rots" in my ore oor die luidsprekers weergalm, dink ek aan die lewensreis. Dat ons almal graag met luukse Mercedes sedan-motors of grand 4x4's of ambeie, skuus Fortuners, orals sou wou heenjaag, moet ons soms die ander alternatiewe neem. 

Maar of jy luuks jaag of saam met 'n groep kruip, solank jy weet waar jou eindbestemmings is, geld dieselfde beginsels vir almal, wit en bruin en swart, ryk en arm, geleerd en ongeskoold. Dit het die lewe ons geleer. Dis nie die masse wat sukses behaal nie, maar die gefokusde persoon of groep mense wat weer waar die einddoel is en dit wat tot hul beskikking is, gebruik om hul destinasie te bereik!

Vir nou is my eindbestemming 40 dae in Oranjemund, om te luister, te mediteer, te luister, te bid, te luister en die pad uit te kaart...

No comments:

Post a Comment