Wednesday 7 January 2015

Laaste dag


En só eindig my 40 dae in die Mund. Vannaand is my laaste blog in dié forum. 40 dae terug het ek my eerste blog geskryf en vooruit gekyk na die tyd wat voorlê. Vandag was die laaste dag van die 40 dae en kyk ek 'n bietjie terug na die 40 dae wat verby is.

Vandag het ek so by myself gedink ek kan nie glo 40 dae is verby nie. Maar aan die ander kant as ek eerlik moet wees, het dit werklik lank gevoel. 

Redelik in die begin van my tyd hier toe ek nog ernstig geworstel het met God oor die hele stilword besigheid, het ek een oggend Prediker 3  gekry. Eers in my slaap en toe letterlik toe ek my Bybel oopmaak. Daar is 'n tyd vir alles (Daar is 'n tyd - Dit is tyd). So ek besef daar is ook 'n tyd om dié tyd klaar te maak. Die geleentheid om hier te kom aflos het uit God se hand gekom. En 'n paar wonderwerke het gebeur net om te bevestig ek moes hier wees. Ek het vir die grootste gedeelte van laas jaar geweet ek moet by 'n tyd kom waar ek moet stilword. Maar die geleentheid het hom nie voorgedoen tot nou toe nie. En toe dit so uitwerk dat ek letterlik vir 40 dae ('n belangrike getal in die Bybel) hier gaan wees, het ek besef God het 'n afspraak met my. Maar ek ook met myself. 

My lysie van goed wat ek wou doen, hoor en bereik in die tyd is redelik lank. Dit nou benewens die eintlike rede hoekom ek hier is, om te kom bedien. Sommige van die sake het ek suksesvol begin en mee volgehou soos dié blog wat ek geslaag het om elke dag te skryf. Ander nie so suksesvol nie of het ek nie by uitgekom nie. 

Kom ek begin sommer by die bediening. Dit was 'n ongelooflike voorreg en watter heerlike tyd van bediening. Die eerste Sondag het ek maar gedas op die preekstoel gestaan, maar dit werk nie vir my gebeentes nie. Teen die laaste Sondag het ek maar net normaal soos ek altyd preek gedoen en dit was so gemaklik, Maar ek glo dat elke preek het iewers iemand geraak wat dit moes hoor. Verder het ek soos altyd lekker musiek gemaak saam met die band. Ek dink ons het die Lofprysing in 'n nuwe dimensie laat leef in die tyd. Veral die dankseggingsdiens die 28 Desember en Oujaarsaanddiens. En soos  altyd het ek weer baie goeie lof ontvang vir hoe ek my talent en gawe in die verband uitleef. En dan wonder ek weereens hoe werk dinge? Altyd wanneer dit gebeur is mense gaande, doen jy aansoek vir 'n pos, gebeur daar niks (maar later meer hieroor). Die prediking het ook baie goed gegaan en ek dink die terugvoer en aanvraag vir die materiaal was goed. Ek glo ek is gestuur in die tyd vir 'n bepaalde rede en diens en ek glo dat dit vir Pieter sal ondersteun in sy bediening verder die jaar.

Fisiek voel ek tevrede oor my vordering. Een ding wat ek al in die lewe geleer het, is dat een is dit baie makliker om fisieke doelwitte vol te hou en te laat slaag, want dit is "sigbaar". En twee dien dit as motivering om die meer ontasbare doelwitte te  laat slaag. Eers as jy werklik glo jy kan en aan jouself bewys dit is moontlik, raak dit makliker om aan die ander dimensies aandag te gee. So het ek die eerste dag begin draf. Ek het weliswaar nie elke dag (benewens die beplande afdag elke week) gedraf of geoefen nie, maar ek het in my doelwit wat dit betref geslaag. Onthou ek was totaal onfiks en het baie jare laas regtig gedraf. Soveel so dat ek Saterdag my eerste 10km in sowat 5 jaar gedoen het. Dit was 'n fenominale gevoel van deurbraak. Ek het my oefenprogram afgewissel dat ek drie keer 'n week al om die ander dag 'n ver afstand gedoen het en die tussenin dae interval hardloopoefening gedoen en dan ook bietjie liggaamsbou. Ek voel werklik goed en sterk na die vyf weke. Terug by die huis gaan ek dit bietjie aanpas, maar ek is baie gedermineerd om nou na my groter doelwit, die Comrades te bly werk.

My grootste doelstelling of oogmerk was om te luister. In dié proses was daar van my vrae waaroor ek baie duidelike antwoorde gekry het en ander nog nie. Ek wil nie in detail ingaan op die stadium nie. 

Wat egter wel betekenisvol is, is die pad wat die Heilige Gees met my gestap het. Ek het baie geleer in die tyd. Sekere "goed" het oor my pad gekom wat wel beteknisvolle verskil in my lewe begin maak het. Die eerste stap, en dit was werklik onverwags vir my, was dat die Heilige Gees begin het met 'n skoonmaakproses in my lewe en gedagtes. Die boodskap wat egter reeds in die begin na my gekom het, was om te wag. Ek het skaars hier aangekom of die Heilige Gees sê vir my ek moet wag (Die antwoord lê in die wag). En so kry ek die boodskap net telken oor en oor. Vir ongeduldige Wilco in die natuurlike dimensie is dit maar moeilik. Maar dan besef ek, ek het geduld as deel van die vrug van die Gees. So God praat en sal meer praat soos wat Hy goeddink en besig is, want die wag is deel van die reis.

En so ook, lees ek vandag op dag 40, 'n Psalm wat my half tussen die oge slaan. Iewers in die verlede het ek bo-aan Psalm 146 geskryf: "My bediening." En toe ek dit vanoggend  lees praat die Psalm weer met klokhelder gebuier in my hart. Ek is stil optimisties dat PAPPA wel besig is om, in die stil briesie te fluister. So geduldig hou ek my ore oop om te hoor.

Ek het ook wonderlike terapie geleenthede gehad en wow, my hart bons van opgewondenheid as ek sien en ervaar hoe die lig deurbreek en nou, meer as ooit, weet ek dat God Hipnoterapie oor my pad gestuur het dat ek mense kan help. En ek weet die tyd was ook 'n antwoord op dié vraag en oor my teruggaan Kaapstad toe. So ek is opgewonde om weer alles in te sit en ek staan vas in geloof vir kliënte. Die stop-smoking moet werklikwaar nou begin vlieg. En ek is baie opgewonde om met 'n "gewigsverlies"-program te begin wat ek al lankal beplan het. Ek sien 'n geweldige mark en ek geniet dit ontsettend. En so ook terapie vir ander emosionele sake, motivering, stress release en dies meer.

Oor my "mislukkings" of die goed waarby ek nie uitgekom het of nie werklik kon volhou nie, gaan ek nie skryf nie. Ek het weliswaar byvoorbeeld nie die helfte gelees wat ek graag wou nie. Maar op die ou einde was alles deel van die leerskool en dit groter proses. Die paar weke was werklikwaar 'n hoogtepunt in my lewe en ek voel hoe borrel die transformasie in my are.

Ek dink die belangrikste les in die tyd is een dat die Heilige Gees kom bevestig my bediening aan my deur direkte woord en terugvoer van mense, indirekte terugvoer, God se direkte roeping en ook my eie passie. Tweedens bevestig dit ook weer my musiekbediening. Ek weet dit is en maak 'n groot deel van my samestelling en bediening uit. Derdens het ek uiteindelik begin om myself in my skryftalent en -passie uit te leef. En dit is ook 'n bevestiging vir my dat dit beslis deel is van wie ek is en my bediening. En laastens my terapie wat ook my hart laat warm klop wanneer ek sien wat God deur my doen. So tans bly die vraag waaroor ek nog moet stil wag vir my, hoe en waar wil God dit wat Hy my gemaak en geroep het om te doen gebruik? Ek wag dat die regte deur sal oopgaan. Vinnig? Ek weet nie. Soos ek bo geskryf het, ek verstaan nie altyd die proses nie. Ek weet ek is reg, ek het baie om te gee en wil my roeping en passie uitleef. Hoe om raakgesien te word? Ek weet dit is deel van die antwoord waarop ek moet wag.

Wat nou? Eerstens eindig ek met dié blog oor my refleksie in die Mund vannaand. Ek beplan om voort te gaan met ander blogs oor verskeie onderwerpe. Ek gaan met opgewondenheid en passie terug huis toe om met die terapie voluit aan te gaan. Ek vertrou God vir baie dinge soos 'n motorfiets om meer beweeglik en effektief te wees. En ek wag op geleenthede om te kan bedien. En veral vir dié geleentheid.

Maar belangrikste is om elke dag voluit 'n lewe van oorvloed te kies, en elke geleentheid wat oor my pad kom om te bedien, ten volle aan te gryp.

Dankie Oranjemund en die NG Gemeente en ál die lidmate vir 'n wonderlike tyd en geleentheid. Dit was inderdaad 'n voorreg en 'n seëning.

AMEN

Tuesday 6 January 2015

Geestelik hoog, maar stewig gegrond (#5)


Ek wil vannaand, op dié platform, net by nog een aspek van Spiritualiteit stilstaan. Ek gaan vorentoe op 'n nuwe blog nog verder hieroor dink.

In een van die vorige blogs oor die onderwerp het ek gesê ek wil nog stilstaan by die invloed van ons kultuur op ons spiritualiteit.

Gelukkig is die dae besig om verby te gaan waar die kerk 'n simbool van 'n kultuur was. Hoeveel onregte is deur die kerk in die verlede gepleeg in die naam van kultuur. Dink maar net aan ons eie onreg met apartheid en die Duitse volksmoorde.

As kerkmoraliteit gevoed word uit volksmoraliteit waar die kerk die baken en instandhouding van kultuur en kultuurgebruike word in plaas van Koninkryksbeginsels en waardes, maak dit van die kerk 'n boggelrug karikatuur. Kortom, dit is nie meer kerk en liggaam van Christus nie. Die begrip kerk beteken geheel en al iets anders. Maar ek wil nie nou hierby stilstaan nie. Ek begin eersdaags 'n hele blog om oor die kerk te besin om later in 'n boek te omskep.

Die verwarring vir baie Christene is egter dat kultuur gesien word as die basis vir hul spiritualiteit. Die probleem met so 'n wegspringplek is dat jy eksklusief in plaas van inklusief raak. Dan begin dit 'n geval word van "ons" versus "hulle". Waar ons nie saam met ander Christene van ander taal, kultuur en gebruike kan aanbid nie, want "my kultuur" en "my gebruike" en "my voorkeure" kry bevoorregte voorrang bo die Koninkryk, liefde en God se waardes.

Daarmee sê ek hoegenaamd nie daar is iets verkeerd om God in jou taal en in die konteks van jou gebruike en kultuur te aanbid nie. Ekself is passievol oor Afrikaans en om ons gebruike te handhaaf, maar dit staan beslis nie bo Bybelse vereistes en waarhede nie. Huidiglik wil ek graag in Afrikaans en Afrikaners bedien, want dit is waar ek tans my roeping beleef.

Omdat ons egter groot geword het binne 'n kultuur, taal en sekere gewoontes kom dit natuurlik. Dit is in ons ingeprent en vasgelê sodat dit ons DNA word, Maar as 'n wedergeborene in God se Koninkryk het God aan my 'n ander DNA kom gee. Een van lewe in oorvloed. En dié is 'n baie ryker, meer vervullende en geseënde erfenis. Daarom is dit vir my so tragies dat soveel kinders van PAPPA Vader hul blind staar teen die tydelike. Dit verhef tot die absolute asof Afrikaans (of enige ander taal waarin 'n persoon hom bevind) die hemelse taal gaan wees en dit net "Boere" gaan wees wat voor die troon staan. En so dink elke ander taal en kultuur. Dit is 'n godsdienstige wêreldbeeld van eksklusiewinisme op grond van wêreldse verdeeldheid, beslis nie Koninkryksbeginsels nie. Die Koninkryk bind mense nie saam op vleeslike of menslike vereistes en ooreenkoms nie. Dit kan nie, want die wese van die vlees is om te verdeel. Om te kom steel en te verneitig.

Ware spiritualiteit kom vanuit 'n verhouding met God Drie-enig. Nie ons vlees of vleeslike herkoms nie. Dit kom uit liefde vir God en jou naaste. Om God te aanbid vir wie Hy is, nie godsdienstige retoriek en handeling nie.

Ek vang myself dat ek dikwels, as ek dalk vies word omdat 'n Christen uit 'n ander kultuur en agtergrond dinge anders doen, selfs soms teen my totale Westerse verstaan van Christenskap. In retrospeksie moet ek egter dan bely dat ek uit my vlees en nie in die Gees gedink, gepraat of opgetree het nie. Weereens, daar is niks fout om God te dien en te aanbid in ons taal en kultuur nie. Juis. Maar die geheim lê IN, nie UIT nie. Kultuur bepaal nie ons spiritualiteit nie, Koninkryksbeginsels soos in die Woord bepaal dit hier en nou. Nie eendag "in die hemel" nie.

Monday 5 January 2015

Om te doen waarvan jy hou


Ek het vandag, nadat ek 'n paar kliënte gesien het, die opmerking gemaak dat as 'n mens vir soveel jare in 'n werksituasie was waar jy nie jouself kon uitleef nie, en soos in my geval die laaste paar jaar pleinweg ongelukkig en frustrerend was om dit sagkens te stel, dan waardeer jy dit as jy kan doen wat jy moet doen. Dit wat jou lewensroeping of doel op aarde is. Dit wat jy nie net uiterlik nie, maar van binne toegerus is om te doen.

Dan sit jy alles in om dit na die beste van jou vermoë te doen, want jy weet hoe groot voorreg dit is. Elke oomblik is kobaar as jy jouself kan uitleef, diensbaar kan wees en boonop daarvoor vergoed word.

Jim Rohn het gesê 'n mens moet jou passie jou werk maak, dan sal jy nie weer 'n dag in jou lewe werk nie. Want as jy geniet wat jy doen, is dit nie werk nie. Bob Proctor verskil so effe van Jim en sê 'n mens kan van enige werksituasie 'n sukses maak.

Bob is sekerlik reg, maar dit wat jou roeping in die lewe is, of dit nou is om met woorde te toor, syfers te ontsyfer, karre op die pad te hou, geboue te bou, mense gesond te maak, of om mense in nood weer hoop te gee en te versorg of in die bediening te wees, kom natuurlik en glad,  sonder vreeslike gemor of gehakkel.

Jim Rohn was egter in die kol. En ek glo dit is hoe God die mens geskape het. Elkeen uniek as individu, om hom- of haarself te kan uitleef in jou bepaalde roeping en talente. Jou talent en natuurlike aanvoeling, hoef nie net jou stokperdjie te wees nie. Net 'n luukse wat jy vir naweke bêre nie. Dit kan jou bron van inkomste wees sodat jy nie weer 'n dag "hoef te werk" nie.

Daar is soveel mense wat egter wonder, wat is dit nou eintlik? Wie is ek werklik? Die vraag is: Wat is in jou gereedskapkas? Wat het God vir jou gegee en wanneer jy dit gebruik, maak jou so opgewonde, gee jou so 'n tinteling, dat jy net kan aanhou en aanhou daarmee?

Dit sê nie ál jou talente moet in werk omskep word nie. Meeste mense doen tog sekerlik werk waarvoor hulle min of meer aangelê is. Jou ongelukkigheid met die werk het dalk eerder met verskeie ander faktore te make as die spesifieke werk wat jy doen. Hoe groot rol speel ander mense in jou ongelukkigheid? Die vraag is wat maak jy met jouself in daai omstandighede. Hoe hanteer jy dit ten beste vir jouself deur  in die eerste plek aan jou eie gesindheid te werk.

Vir my is dit wat ek die laaste amper 40 dae maand gedoen het die hoogtepunt en dit wat ek elke dag of week wil doen. Preekmaak, preek, musiekmaak en Praise & Worship, skryf en mense help in terapie is vir my die hoogtepunt van my lewe. Ek leef daarvoor. Die laaste paar weke het ek die voorreg gehad om myself volkome te kan uitleef in my talente en gawes, my roeping en wat ek toegerus is om te doen. Ek het my beste gegee. En ek voel tevrede, want dit is waar ek my hoogste vrede en vreugde vind. En só kan ek God verheerlik.

Prediker sê duidelik doen wat jou hand vind om te doen en geniet jou arbeid. Wanneer ek teruggaan na Kaapstad moet ek weer verder bou aan my praktyk en die stop smoking. En ek wil nou ernstig ook werk met gewigsverlies. Dit is net so goed om mense te kan help terwyl ek op God wag om die regte deur oop te maak bedieningsgewys.

Sunday 4 January 2015

As die kerkklok ophou lui



"Het die klok vanoggend  gelui?" vra Nadine.
"Nee, ek weet nie," antwoord ek en Laurance, "Ons het ook pas gestop."
"Het die klok gelui?" vra Karin 'n paar minute later.
'n Halfuur later sê Nadine: "Die klok lui nie. Die ketting is seker af."

Later bespreek ons nie die stil kerkklok. "Oom Mike sal maar in die toring moet loop opklim en die ding gaan regmaak," sê Nadine. 
"O, weet hy hoe?" vra ek.
"Ja," sê Nadine, "Hy is gedurig daar bo in die toring."

Later wonder ons of iemand agtergekom het die klok lui nie. Die aand toe die klok 24:00 gelui het en 'n paar nabye inwoners wreed uit hul slaap wakker geruk is, het almal geweet die klok lui. Maar nou dat dit stil in die tydgleuf van die luiende kerklok is, wonder ons of dit ooit waargeneem word.

Die kerkklok en kerktoring is seker een van die duidelikste voorbeelde hoe 'n praktiese gebruik, sakraal en later godsdiens geraak het. Vandag het baie kerke genadiglik met die uitgediende gebruik gebreek. Maar nou begin ek wonder, kom mense nog agter die kerkklok lui nie meer in hul omgewing nie?

Bring luiende kerklokke mense kerk toe? Of hou dit mense weg? Bly mense weg as die kerkklok nie meer lui nie, of kom hulle juis?

'n Beierende kerklok is sekerlik die teken van lewe? Of is dit eerder dood? So as die kerkklok ophou lui, beteken dit die kerk is dood, of juis dat die kerk begin lewe? 

Miskien het die tyd in die geskiedenis van die mensdom aangebreek dat die kerklokke ophou lui, maar die lidmate, as die kerk se lewende stene van vlees en bloed (1 Petrus 2:5), self die beierende kerklokke sal wees deur God se liefde helder in 'n soekende wêreld te laat lui.

Saturday 3 January 2015

Refleksie na my vyfde week in Oranjemund


Die tyd tussen Kersfees en Nuwe jaar is altyd 'n besige tyd in die kerk en vir werkende dominees en pastore. Vier dienste in sewe dae. So ek het nogal ná die eerste in baie jare 'n bietjie ge-crash en besef die intensiteit is veel dieper as wat mens altyd dink. Bygesê ek is nog nie "bedieningsfiks" nie. 

Maar nadat dit alles gesê is, wat 'n wonderlike voorreg en geleentheid wat ek met beide hande aangegryp het. Môre is my laaste diens hier in Oranjamund. My sesde Sondag. Agt dienste in totaal. Ek gaan die mense en die dorp en die omgewing mis. 'n Mens raak tuis in so lang tyd.

Wat my by 'n ander punt bring, Dié ervaring laat my egter uitsien wanneer ek 'n "standplaas" gaan hê waar ek voluit vir God se koningkryk kan arbei en 'n gemeente kan bou wat werklik liggaam van Jesus is.

Die afgelope paar weke het, soos ek nou al gereeld geskryf het, die Heilige Gees my deur 'n paar dinge geneem. Een groot ontdekking was dat ek in "ballingskap" was die afgelope paar jaar (ek sal veder in die toekoms in meer detail hieroor skryf). En nou is ek besig om terug te keer en die tempel te herbou. 

Die boodskap wat ek egter  laas jaar al reeds vir 'n hele paar maande gekry het en ook toe ek hier aangekom het en nou dié week weer, is om te wag op God. In stille afwagting te wag. O hene, en dis moeilik. 

Punt een, is een van my grootste swak punte ongeduld en dit het my al duur te staan gekom. Maar dan weer besef ek, die vrug van die Gees sluit geduld in, so ek het dit en moet net in die bron bly. Twee is ek moes iemand wat 'n ding wil doen. Ek hou nie van 'n gerond sittery nie. Die werk moet aangepak en afgehandel word. Drie, hoe lank moet ek nou wag? (Duh). Vier, al ons normale natuurlike menslike vrae, soos, moet ons nie self ook iets doen nie? Hoe weet ek dis die Gees se stem? Wat is die balans tussen wag en doen? Ag ek maak myself moeg.

Punt is, God sê wag totdat ek gepraat en gewys het. Die Bybel is oorvol voorbeelde in die Ou- en die Nuwe Testament. Abraham, Moses, Elia, die dissippels in die bovertrek, Paulus, net om 'n paar te noem. Gedurig sê God dit in die Woord: "Wag totdat jy van my gehoor het en toegerus is."

Ek is dus steeds op die wagtydperk en ek besef dit help nie om ongeduldig te wil wees en dit te wil aanjaag nie. As Hy wil praat in die veertig dae, dan is dit reg. Maar as Hy nog eers ander planne het, dan sal Hy dit so doen. Hy is God en Hy is soewerein en frankly, dit haal soveel spanning van my af om net oor te gee en te luister. Al wil ek hoe graag weet hoe en wat en waarheen. Maar ballingskap is eina en ek het genoeg seergekry deur my eie ding te doen in God se koninkryk. So nou wag ek.

Op 'n ander fisieke noot. Ek het vanoggend my eerste 10 km in 5 jaar gehardloop. (Daar was darem twee stappe tussen Melkbosstrand en Bloubergstrand verlede jaar, maar om te hardloop is in 'n ander kategorie). Dit was 'n heerlike gevoel van oorwinning en deurbraak. Dus nog net oefen om nog 80 te kan bydoen vir die Comrades oor twee jaar!

Môre breek my laaste week hier in Oranjemund aan. Ek kan nie glo my tyd het tot 'n einde gekom nie. Hoewel dit lank was, voel dit soos 'n oogwink. Woensdag is my 40 dae verby. Wat 'n reis was dit nie in soveel opsigte nie! Maar vir die laaste paar dae gaan ek elke dag steeds voluit aanpak en maksimum beleef en geniet.

Friday 2 January 2015

My skadu volg my


Een van Koos du Plessis se gunsteling frases was: "Dis net 'n skadu teen die muur." Is dit nie dikwels die realiteit waarmee ons gekonfronteer word nie? Dikwels verkoop jy jou siel vir 'n saak, 'n luuksheid, iets wat jy as 'n noodsaaklikheid beskou, 'n droom kar, huis of vrou net om later te besef dit was net 'n skadu teen die muur,

Skadu's is eintlik fassinerende goed. Toe ek 'n kind was het my skadu my ure lank gefassineer. Ek het probeer om die skadu te vang, soms uit te oorlê of te verander. Jou skadu is jy, maar ook nie. Dis of langer of korter, soms dikker soms (genadiglik) dunner. Dit maak jou na. Karikatuur jou soms. En as jy dit moet letterlik opneem, sal dit jou beslis Groen Dakkies toe dryf.

Jou skadu vloei grasieus saam met jou. Sonder moeite. Jou skadu het nie nodig om te eet, te drink of te slaap nie. Soms is dit daar en soms...net weg. En tog volg dit jou sodra die son skyn of dit volmaan is. Jy kan hom nie ontvlug nie.

Jou skadu herinner jou eintlik dat jy hier is. Dat jy mens is van vlees en bloed. Jy kan voel, aanraak en proe. Jy kan elke oomblik van jou lewe geniet en die omgewing om jou. Jy kan elke oomblik koester, want jy besef die lewe is kort,

Soms kry jy dat 'n mens jou wil skadu. Dit kan tot erge spanning en angstigheid in jou lewe lei soos wat die wonderlike vrou in my lewe ervaar met sò 'n menslike skadu. Hoe gemaak om daai skadu te verwyder sonder om skade aan te rig?

2015 lê ook voor ons uitgestrek soos 'n skadu. Dis nog 'n skim. Tans is dit 'n baie lang skadu, maar soos die jaar vorder, word dié skadu al hoe korter totdat dit weer opgeslurp word in 'n nuwe lang skadu. Sommige mense glo jy kan die skadu presies uitwerk. Ander verkies om maar net saam met die skadu te vloei,

Ek dink die lewe is iets van beide. 'n Balans wat moet kom tussen leef in volkome afhanklikheid van God, maar nie passifisties nie. Jy moet weet waarheen jy op pad is. Wat jou visie en doelwitte is en hoe jy diensbaar gaan wees. Anders eindig die jaar ook maar net weer as 'n skadu teen die muur en jy wonder wat was die betekenis of wat het jy beteken.



Thursday 1 January 2015

Leer in 2015 by ons dierevriende

2015 het aangebreek. die '14 is verby. Afgestof. Agtergelaat. Vir baie van my vriende en geliefdes was 2014 werklik 'n jaar vol uitdagings en opdraendes. Ekself het gedink 2013 was rof, maar 2014 het sy eie uitdagings ingehou.

Is dit nie interessant hoe baie mense nog moeg en selfs verslae op 31 Desember die ou jaar agterlaat om op die 1 Januarie met 'n nuwe huppel in hul stap die nuwe jaar te begroet nie? Dis asof die begin van 'n nuwe jaar nuwe lewensenergie, visie en veerkragtigheid in mense se lewens bring. Gewoonlik is dit van korte duur totdat mense weer in dieselfde roetines en slegte gewoontes vasgeval raak. En dan herhaal die siklus homself.

Tog is daar maar net sommige jare wat meer uitdagings bring. Die lewe gebeur. Die ekonomie vat n dip. Skuiwe wat plaasvind. Dalk die onverwagte tragedie soos dood of 'n ongeluk of 'n inbraak.

Gister het ek gereflekteer oor die dankbaarheid waarmee ons terugkyk na die jaar wat verby is. En inderdaad is daar so baie. En doen ons wat Paulus ons mee adviseer, "Wees dankbaar in alle omstandighede." Dit is een van die sleutels tot 'n lewe van oorwinning.


 
Die afgelope paar dae hou ek ons dierevriende so dop. En spesifiek so op Oujaarsaand. Soos my twee vriendjies hierbo wat net bo die studeerkamervenster in die pastorie besluit het om nes te skrop, of is dit bou? Die twee vintjies is te oulik om dop te hou. Hoe hulle heeldag woel en werskaf, rondvlieg en sing. Kommervry, tydloos en sonder gejaag. Beslis het die rotte van die rut race hulle verbygegaan.  Nie bekommerd oor die dood of die lewe nie, want hulle leef instinktiewelik uit die verstaan van God se versorging in en deur alles.

Op pad kerk toe vir die oujaarsdiens ry ek verby 'n Gemsbok wat wei. Ek gee die honde en die kat kos. En ek dink by myself, hulle weet nie dis die einde van 'n ou jaar en die begin van 'n nuwe jaar nie. Hulle gaan nie klappers skiet en partytjie hou nie. Hulle gaan maar net voort soos gister. Die een dag dieselfde as die vorige.

Nou God het ons as mense net bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak (Psalm 8), en daarom kyk ons met baie ander dimensies en redenasie vermoë na die lewe as ons dierevriende. Daar is emosies betrokke. En daarom kan ons feesvier. Ons kan die hoogtepunt van 'n nuwe jaar wat aanbreek waardeer en geniet. Maar is daar nie tog iets te leer uit die kommerloosheid waarmee ons dierevriende deur die lewe gaan nie? Hulle (ons troeteldiere) gee liefde en beskerming sonder voorbehoud. Diere verskaf plesier aan die mens. En ons kan dit geniet. Die Gemsbok wat wei, die kat wat op jou skoot kom purr, die hond wat jou met 'n opgewonde blink in die oog kom groet.

Dalk is dit net nodig dat ons, as mense, aan die begin van 2015 ook ophou bekommer, ophou dink die gejaag gaan ons erens bring en lewe gee, glo dat om ons lewe net op arbeid (werk) te mors gaan ons vrede, geluk en vervulling bring. Of ons gejaag na plesier, geld, seks en goed. Dalk is dit goed om net vir 'n slag te aanvaar dat ons as kinders (seuns) van God leef as Koninkryksburgers in 'n ander stel waardes waar daar werklik geluk, lag, vervulling, liefde en al die antwoorde reeds tot ons beskikkng is in Christus Jesus ons Here.

Dalk is dit tyd om oor te gee. Dalk bied 2015 juis aan ons dié beste jaar ooit wanneer ons so begin leef.