Tuesday, 6 January 2015
Geestelik hoog, maar stewig gegrond (#5)
Ek wil vannaand, op dié platform, net by nog een aspek van Spiritualiteit stilstaan. Ek gaan vorentoe op 'n nuwe blog nog verder hieroor dink.
In een van die vorige blogs oor die onderwerp het ek gesê ek wil nog stilstaan by die invloed van ons kultuur op ons spiritualiteit.
Gelukkig is die dae besig om verby te gaan waar die kerk 'n simbool van 'n kultuur was. Hoeveel onregte is deur die kerk in die verlede gepleeg in die naam van kultuur. Dink maar net aan ons eie onreg met apartheid en die Duitse volksmoorde.
As kerkmoraliteit gevoed word uit volksmoraliteit waar die kerk die baken en instandhouding van kultuur en kultuurgebruike word in plaas van Koninkryksbeginsels en waardes, maak dit van die kerk 'n boggelrug karikatuur. Kortom, dit is nie meer kerk en liggaam van Christus nie. Die begrip kerk beteken geheel en al iets anders. Maar ek wil nie nou hierby stilstaan nie. Ek begin eersdaags 'n hele blog om oor die kerk te besin om later in 'n boek te omskep.
Die verwarring vir baie Christene is egter dat kultuur gesien word as die basis vir hul spiritualiteit. Die probleem met so 'n wegspringplek is dat jy eksklusief in plaas van inklusief raak. Dan begin dit 'n geval word van "ons" versus "hulle". Waar ons nie saam met ander Christene van ander taal, kultuur en gebruike kan aanbid nie, want "my kultuur" en "my gebruike" en "my voorkeure" kry bevoorregte voorrang bo die Koninkryk, liefde en God se waardes.
Daarmee sê ek hoegenaamd nie daar is iets verkeerd om God in jou taal en in die konteks van jou gebruike en kultuur te aanbid nie. Ekself is passievol oor Afrikaans en om ons gebruike te handhaaf, maar dit staan beslis nie bo Bybelse vereistes en waarhede nie. Huidiglik wil ek graag in Afrikaans en Afrikaners bedien, want dit is waar ek tans my roeping beleef.
Omdat ons egter groot geword het binne 'n kultuur, taal en sekere gewoontes kom dit natuurlik. Dit is in ons ingeprent en vasgelê sodat dit ons DNA word, Maar as 'n wedergeborene in God se Koninkryk het God aan my 'n ander DNA kom gee. Een van lewe in oorvloed. En dié is 'n baie ryker, meer vervullende en geseënde erfenis. Daarom is dit vir my so tragies dat soveel kinders van PAPPA Vader hul blind staar teen die tydelike. Dit verhef tot die absolute asof Afrikaans (of enige ander taal waarin 'n persoon hom bevind) die hemelse taal gaan wees en dit net "Boere" gaan wees wat voor die troon staan. En so dink elke ander taal en kultuur. Dit is 'n godsdienstige wêreldbeeld van eksklusiewinisme op grond van wêreldse verdeeldheid, beslis nie Koninkryksbeginsels nie. Die Koninkryk bind mense nie saam op vleeslike of menslike vereistes en ooreenkoms nie. Dit kan nie, want die wese van die vlees is om te verdeel. Om te kom steel en te verneitig.
Ware spiritualiteit kom vanuit 'n verhouding met God Drie-enig. Nie ons vlees of vleeslike herkoms nie. Dit kom uit liefde vir God en jou naaste. Om God te aanbid vir wie Hy is, nie godsdienstige retoriek en handeling nie.
Ek vang myself dat ek dikwels, as ek dalk vies word omdat 'n Christen uit 'n ander kultuur en agtergrond dinge anders doen, selfs soms teen my totale Westerse verstaan van Christenskap. In retrospeksie moet ek egter dan bely dat ek uit my vlees en nie in die Gees gedink, gepraat of opgetree het nie. Weereens, daar is niks fout om God te dien en te aanbid in ons taal en kultuur nie. Juis. Maar die geheim lê IN, nie UIT nie. Kultuur bepaal nie ons spiritualiteit nie, Koninkryksbeginsels soos in die Woord bepaal dit hier en nou. Nie eendag "in die hemel" nie.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment