Wednesday 7 January 2015

Laaste dag


En só eindig my 40 dae in die Mund. Vannaand is my laaste blog in dié forum. 40 dae terug het ek my eerste blog geskryf en vooruit gekyk na die tyd wat voorlê. Vandag was die laaste dag van die 40 dae en kyk ek 'n bietjie terug na die 40 dae wat verby is.

Vandag het ek so by myself gedink ek kan nie glo 40 dae is verby nie. Maar aan die ander kant as ek eerlik moet wees, het dit werklik lank gevoel. 

Redelik in die begin van my tyd hier toe ek nog ernstig geworstel het met God oor die hele stilword besigheid, het ek een oggend Prediker 3  gekry. Eers in my slaap en toe letterlik toe ek my Bybel oopmaak. Daar is 'n tyd vir alles (Daar is 'n tyd - Dit is tyd). So ek besef daar is ook 'n tyd om dié tyd klaar te maak. Die geleentheid om hier te kom aflos het uit God se hand gekom. En 'n paar wonderwerke het gebeur net om te bevestig ek moes hier wees. Ek het vir die grootste gedeelte van laas jaar geweet ek moet by 'n tyd kom waar ek moet stilword. Maar die geleentheid het hom nie voorgedoen tot nou toe nie. En toe dit so uitwerk dat ek letterlik vir 40 dae ('n belangrike getal in die Bybel) hier gaan wees, het ek besef God het 'n afspraak met my. Maar ek ook met myself. 

My lysie van goed wat ek wou doen, hoor en bereik in die tyd is redelik lank. Dit nou benewens die eintlike rede hoekom ek hier is, om te kom bedien. Sommige van die sake het ek suksesvol begin en mee volgehou soos dié blog wat ek geslaag het om elke dag te skryf. Ander nie so suksesvol nie of het ek nie by uitgekom nie. 

Kom ek begin sommer by die bediening. Dit was 'n ongelooflike voorreg en watter heerlike tyd van bediening. Die eerste Sondag het ek maar gedas op die preekstoel gestaan, maar dit werk nie vir my gebeentes nie. Teen die laaste Sondag het ek maar net normaal soos ek altyd preek gedoen en dit was so gemaklik, Maar ek glo dat elke preek het iewers iemand geraak wat dit moes hoor. Verder het ek soos altyd lekker musiek gemaak saam met die band. Ek dink ons het die Lofprysing in 'n nuwe dimensie laat leef in die tyd. Veral die dankseggingsdiens die 28 Desember en Oujaarsaanddiens. En soos  altyd het ek weer baie goeie lof ontvang vir hoe ek my talent en gawe in die verband uitleef. En dan wonder ek weereens hoe werk dinge? Altyd wanneer dit gebeur is mense gaande, doen jy aansoek vir 'n pos, gebeur daar niks (maar later meer hieroor). Die prediking het ook baie goed gegaan en ek dink die terugvoer en aanvraag vir die materiaal was goed. Ek glo ek is gestuur in die tyd vir 'n bepaalde rede en diens en ek glo dat dit vir Pieter sal ondersteun in sy bediening verder die jaar.

Fisiek voel ek tevrede oor my vordering. Een ding wat ek al in die lewe geleer het, is dat een is dit baie makliker om fisieke doelwitte vol te hou en te laat slaag, want dit is "sigbaar". En twee dien dit as motivering om die meer ontasbare doelwitte te  laat slaag. Eers as jy werklik glo jy kan en aan jouself bewys dit is moontlik, raak dit makliker om aan die ander dimensies aandag te gee. So het ek die eerste dag begin draf. Ek het weliswaar nie elke dag (benewens die beplande afdag elke week) gedraf of geoefen nie, maar ek het in my doelwit wat dit betref geslaag. Onthou ek was totaal onfiks en het baie jare laas regtig gedraf. Soveel so dat ek Saterdag my eerste 10km in sowat 5 jaar gedoen het. Dit was 'n fenominale gevoel van deurbraak. Ek het my oefenprogram afgewissel dat ek drie keer 'n week al om die ander dag 'n ver afstand gedoen het en die tussenin dae interval hardloopoefening gedoen en dan ook bietjie liggaamsbou. Ek voel werklik goed en sterk na die vyf weke. Terug by die huis gaan ek dit bietjie aanpas, maar ek is baie gedermineerd om nou na my groter doelwit, die Comrades te bly werk.

My grootste doelstelling of oogmerk was om te luister. In dié proses was daar van my vrae waaroor ek baie duidelike antwoorde gekry het en ander nog nie. Ek wil nie in detail ingaan op die stadium nie. 

Wat egter wel betekenisvol is, is die pad wat die Heilige Gees met my gestap het. Ek het baie geleer in die tyd. Sekere "goed" het oor my pad gekom wat wel beteknisvolle verskil in my lewe begin maak het. Die eerste stap, en dit was werklik onverwags vir my, was dat die Heilige Gees begin het met 'n skoonmaakproses in my lewe en gedagtes. Die boodskap wat egter reeds in die begin na my gekom het, was om te wag. Ek het skaars hier aangekom of die Heilige Gees sê vir my ek moet wag (Die antwoord lê in die wag). En so kry ek die boodskap net telken oor en oor. Vir ongeduldige Wilco in die natuurlike dimensie is dit maar moeilik. Maar dan besef ek, ek het geduld as deel van die vrug van die Gees. So God praat en sal meer praat soos wat Hy goeddink en besig is, want die wag is deel van die reis.

En so ook, lees ek vandag op dag 40, 'n Psalm wat my half tussen die oge slaan. Iewers in die verlede het ek bo-aan Psalm 146 geskryf: "My bediening." En toe ek dit vanoggend  lees praat die Psalm weer met klokhelder gebuier in my hart. Ek is stil optimisties dat PAPPA wel besig is om, in die stil briesie te fluister. So geduldig hou ek my ore oop om te hoor.

Ek het ook wonderlike terapie geleenthede gehad en wow, my hart bons van opgewondenheid as ek sien en ervaar hoe die lig deurbreek en nou, meer as ooit, weet ek dat God Hipnoterapie oor my pad gestuur het dat ek mense kan help. En ek weet die tyd was ook 'n antwoord op dié vraag en oor my teruggaan Kaapstad toe. So ek is opgewonde om weer alles in te sit en ek staan vas in geloof vir kliënte. Die stop-smoking moet werklikwaar nou begin vlieg. En ek is baie opgewonde om met 'n "gewigsverlies"-program te begin wat ek al lankal beplan het. Ek sien 'n geweldige mark en ek geniet dit ontsettend. En so ook terapie vir ander emosionele sake, motivering, stress release en dies meer.

Oor my "mislukkings" of die goed waarby ek nie uitgekom het of nie werklik kon volhou nie, gaan ek nie skryf nie. Ek het weliswaar byvoorbeeld nie die helfte gelees wat ek graag wou nie. Maar op die ou einde was alles deel van die leerskool en dit groter proses. Die paar weke was werklikwaar 'n hoogtepunt in my lewe en ek voel hoe borrel die transformasie in my are.

Ek dink die belangrikste les in die tyd is een dat die Heilige Gees kom bevestig my bediening aan my deur direkte woord en terugvoer van mense, indirekte terugvoer, God se direkte roeping en ook my eie passie. Tweedens bevestig dit ook weer my musiekbediening. Ek weet dit is en maak 'n groot deel van my samestelling en bediening uit. Derdens het ek uiteindelik begin om myself in my skryftalent en -passie uit te leef. En dit is ook 'n bevestiging vir my dat dit beslis deel is van wie ek is en my bediening. En laastens my terapie wat ook my hart laat warm klop wanneer ek sien wat God deur my doen. So tans bly die vraag waaroor ek nog moet stil wag vir my, hoe en waar wil God dit wat Hy my gemaak en geroep het om te doen gebruik? Ek wag dat die regte deur sal oopgaan. Vinnig? Ek weet nie. Soos ek bo geskryf het, ek verstaan nie altyd die proses nie. Ek weet ek is reg, ek het baie om te gee en wil my roeping en passie uitleef. Hoe om raakgesien te word? Ek weet dit is deel van die antwoord waarop ek moet wag.

Wat nou? Eerstens eindig ek met dié blog oor my refleksie in die Mund vannaand. Ek beplan om voort te gaan met ander blogs oor verskeie onderwerpe. Ek gaan met opgewondenheid en passie terug huis toe om met die terapie voluit aan te gaan. Ek vertrou God vir baie dinge soos 'n motorfiets om meer beweeglik en effektief te wees. En ek wag op geleenthede om te kan bedien. En veral vir dié geleentheid.

Maar belangrikste is om elke dag voluit 'n lewe van oorvloed te kies, en elke geleentheid wat oor my pad kom om te bedien, ten volle aan te gryp.

Dankie Oranjemund en die NG Gemeente en ál die lidmate vir 'n wonderlike tyd en geleentheid. Dit was inderdaad 'n voorreg en 'n seëning.

AMEN

No comments:

Post a Comment