Die wonder vir my is God se beloftes aan jou as mens, as individu. 'n Mens sal dink daar is soveel kinders van God oor die wêreld dat Hy beslis nie aan almal se spesifieke probleme of situasies kan of sal wil aandag gee nie. Maar boonop is God in Sy liefde so gaaf, dat Hy selfs na dié mense luister wat Hom nie eers wil eer of erken in en met hul lewens nie.
Maar nee, God gee nie net kollektief nie, Hy stel belang in elke kind van Hom persoonlik, En Sy Woord staan vas en as jy op Hom vertrou en glo in Sy Woord, sal Hy uitkoms gee.
Wat vir my eweneens wonderlik is, en my by die punt van dié blog bring, is hoe die Heilige Gees ons in ons situasie kom bedien, antwoord en lei.
Een van die groot redes hoekom ek die tyd op Oranjemund is, is sodat ek kan luister. Om te wag en God se stem te kan hoor. Vir té lank in my lewe het ek dit nié gedoen nie. Vir te lank het ek my eie kop gevolg. En ek sê nie 'n mens moet nou jou verantwoordelikheid afskuif nie. Nee dit sal nooit gebeur nie. Maar God weet beter. HY IS immers. Hy was gister daar, HY IS vandag en HY IS ook môre.
So is dit altyd wonderlik as God jou midde-in jou situasie kom antwoord. Ek weet al die afgelope agt maande ek moet by diè plek uitkom. Ek bid en vra dit al so lank. En sonder dat ek dit werklik toe weer soek, toe ek begin dink ek gaan nie die geleentheid kry nie, kom die kans om hier na Oranjemund te kom. En wonderwerke volg:
- My vervalde paspoort word binne 'n week herstel en ek stap met 'n nuwe een by Binnelandse sake uit
- Al die reëlings werk net reg uit
- Die werksvisum word goedgekeur die week voor ek kom
- Ek kry alternatiewe vervoer om tot hier te kom
- En so gaan die lysie aan.
En so vanoggend, toe ek met PAPPA Vader begin worstel oor my eie onvermoë om te kan stilword, praat die Gees met my uit die Woord, in my Bybelstudie. En dit is die wonder vir my.
So het een van my beste vriende van baie jare, Daniël Viljoen, daar ver in Ozzieland nie so lank terug nie ook vir PAPPA gevra vir bevestiging nadat 'n nuwe pos oor sy pad gekom het. Hy was gelukkig as kapelaan waar hy was en wou nie graag sy sekuriteit opgee vir 'n nuwe onsekere toekoms nie. Maar die nuwe pos was 'n nuwe uitdaging met wonderlike nuwe beroepsvooruitsigte. En so, in sy Bybelstudie, antwoord die Gees met twee bevestigende skrifgedeeltes vir hom. Nou 'n maand later, weet hy hy het die regte skuif gemaak en is hy baie gelukkig in sy nuwe werkomgewing.
Op my verjaardag getuig Oom Herklaas Kruger van God se getrouheid met 'n hartkondisie waarvoor hy hospitaal toe moet gaan. Eweneens kry hy Woord. Laas week is hy toe wel geopereer, maar die wonderwerk is dat alles reg uitgewerk en hy twee dae later reeds huis toe is en dit baie goed gaan met hom.
Vanoggend kry ek toe diè Woord, Psalm 130:5-6 - "Ek wag op die Here, ek wag en hoop op Sy woord. Ek wag op die Here, meer as wagte wag op die môre, wag op die môre."
En ek besef, as God met ons wil praat en overgeset as ons Sy stem wil hoor, moet ons wag. My ongeduldige, westerse, moderne kitsoplossing en antwoord bloed (in 'n sisteem wat jou wil dwing om altyd die regte antwoord onmiddelik te moet hê) verstaan nie wag nie.
"Here kan u maar nie net die antwoord per e-pos, of dalk SMS, of nog vinniger, per WhatApp net stuur nie," wil ek vra. "Ek sukkel met die stilword en wag ding. Ek sukkel om te luister en te bid."
Maar God werk nooit verby dit wat Hy weet is die beste nie.
Wag, smaak dit my, is Sy manier. As ons Skepper weet Hy seker maar die beste hoe om iets in ons harde koppe in te kry. Hoe om ons gedagtes te vernuwe. Hoe om ons verkeerde geloofsoortuigings, vrese, mites en wanopvattings van ontslae te raak. Om gesuiwer te word totdat ons geen ander keuse het as om NET volkome IN Hom te wees en OP Hom alleen te vertrou nie.
Moses moes dit leer, die volk moes dit leer, Elia moes dit leer, Dawid moes dit leer, Selfs Jesus moes dit leer en die apostels en Paulus het dit beslis geleer. En baie meer mense as die paar in die Bybel. Wag totdat die Gees antwoord.
Verder lees ek toe Klaagliedere 3 die een vers na die ander oor wag en stilword en hoe belangrik dit is om te leer om te wag en stil te bly totdat God antwoord.
Goed les geleer.
God is getrou, Hy kom gee vir my 'n reënboog in my nag. Ek kan wag. Daars niks verkeerd met wag nie. Ek hoef nie dadelik al die antwoorde te kry nie.
Ek moet wag. Want so sal ek die antwoorde kry.
Ek gaan wag, want dis Sy belofte aan my, ek sal sy woord hoor.
Ek wag geduldig, want môre kom beslis wanneer ek wag.
Ek weet nie hoe nie. Ek sukkel in my eie vleeslike menswees. Maar ek weet Hy gaan my leer, want Hy het dit vir my gegee, Hy het die belofte en die woord gegee, Hy sal dit voleindig as ek doen...en my doen is die werkwoord, WAG.
No comments:
Post a Comment