Ek vermoed elkeen sal aan die einde van die jaar op 'n ander manier terugkyk na die jaar wat verby is. Sommige sal dalk voel dit was goed, ander sal sê dit was 'n moeilike jaar, dalk 'n hartseer of seer jaar, of dalk 'n jaar vol tevredenheid en genoegdoening.
Baie mense sal sekerlik dankbaarheid oorkoepelend oor die jaar sit. En mag almal dankbaar wees, veral diegene wat met die meer "negatiewe" emosies oor gebeure na die jaar terugkyk, want die feit dat ons dit gemaak het na die einde van die jaar en wel hier kan wees en sekerlik meer as genoeg gehad het om te eet en 'n bed om in te slaap moet ons al klaar oorweldig met danbaarheid.
Hoe dit ook al sy, ek wil vir 'n oomblik stilstaan by die hele ding van dankbaarheid vir 'n suksesvolle jaar of omdat jy voel jy was suksesvol.
Hoe definieër ons sukses? Dit is aan die een kant 'n baie individuele ding. Maar aan die ander kant is daar tog sekere kriterea wat die samelewing in geheel of die wêreld soms in ons kele wil afdruk as 'n definisie vir sukses. Wel beslis kan geld, of materiële welvaart beslis nie die enigste maatstaf vir sukses wees nie. Dalk 'n hoë posisie? Groot sakeryk? Of sukses op die sportveld of met musiek of 'n ander kunsvorm?
Aan die ander kant is ek bekommerd dat ons soms prestasie onderspeel met ons morele prekies van sukses is eintlik om 'n goeie ouer en huweliksmaat te wees of om gebalanseerd te wees of om nie deur die jaar in die rut race uit te gebrand het nie.
Verder wonder ek ook hoeveel van ons het maar net weer deur die jaar geploeter, van naweek na naweek geleef, van somer na herfs na winter na lente na somer. Elke dag dieselfde roete werk toe gery, dieselfde kantoorroetine deurgegaan, huistoe gery, kos gemaak, kinders versorg en doodmoeg in die bed geval. Huweliksmaats wat mekaar verdra ter wille van oorlewing. Kinders wat wees voel maar dankbaar moet wees vir die versorging. Individue wat uitgebrand die vakansie injaag om net so moeg weer die volgende jaar aan te pak. Gebalanseerd? Allermins! Suksesvol volgens die prestasie kriterea? Hoegenaamd nie.
So wat is sukses? Hoe gaan ons onsself meet aan die einde van die jaar? Ek dink daar moet iets van ál ie bogenoemde fasette in wees. Kom ek verduidelik.
'n Hypno-kolega skryf 'n artikel en hy vra die vraag, gaan sukses daaroor om jou goal, doelwit, te bereik of oor die reis na die doelwit?
My eerste reaksie, hoeveel mense het regtig doelwitte? Hoeveel mense jaag 'n goal vir die jaar na? Hoeveel mense dink hoegenaamd oor die einde van 2015 wat nog te sê 2020?
En as jy nie 'n destinasie (jammer vir dié anglisisme, maar eindbestemming klink net nie so sterk nie) het nie, hoe kan jy die reis aanpak? Dis goed en wel om te sê geniet die reis en leef in die nou, maar sonder 'n visie, gaan mense dood - geestelik, emosioneel en verstandelik (Spreuke 29:18).
Meeste mense sê natuurlik dis te veel werk om te dink en doelwitte te stel. Dis mos makliker om net te ploeter...maar wat is die resultaat? Die teenoorgestelde is egter eerder waar, want doelwitte gee 'n mens energie. Maar ek wil nie nou hier daarop ingaan nie. Volgens dié kriterea was ekself ook nie met alles suksesvol nie, maar wat my opgewonde maak is dat ek mintens dinge kon uitsorteer as gevolg daarvan.
Dus, daar moet 'n kombinasie wees, 'n balans wat gehandhaaf word tussen 'n visie en om daaarnatoe te werk aan die een kant, maar om op só wyse na die eindbestemming op pad te wees dat jy die reis daarheen geniet. Dat jy elke oomblik mindful op hierdie reis in die volheid van die nou leef en en dit beleef, maar jou oog gefokus op die doelwit, die prys.
Sukses is dus na my mening aan die een kant 'n prestasie. Iets wat jy wil bereik, behaal, bymekaar wil maak of doen. Jy moet kan terugkyk aan die einde van die jaar en sê ek het eindbestemming X, Y en/of Z behaal.
Maar sukses is ook om te kan terugkyk en die juwele op die reis te kan onthou. Daardie spesiale oomblikke. Daai lesse wat jy geleer het te koester. Die sukses van daai hindernisse wat jy oorkom het te smaak. Om te weet ek het my reis met integriteit gestap. Ek het nie mense vernietig in die proses nie. Ek het nie my waardes prysgegee of my gesin of huwelik opgeoffer nie. Om te weet jy het die nou volkome geniet en beleef.
Wat my bring by nog 'n faset van sukses. Sukses is, so wil dit vir my voorkom, nie een eksklusiewe saak nie, maar 'n inklusiewe samevoeging van verskillende elemente. En dit is om op die reis met integriteit, karakter, etiese optrede en binne jou waardes te wees. Ek vra myself die vraag het ek werklik so geleef? Ek onthou twee of drie jaar terug het diè saak so sterk by my opgekom en ek het begin dink hoe wil ek hê mense moet my onthou aan die einde van my lewe. As iemand met integriteit en karakter? As iemand wat nie afgewyk het van sy waardes nie? En face dit, in ons dag word 'n etiese leefwyse as oudmodies beskou. Maar is ek bereid om só te leef? Dit gaan jou beslis nie red nie. Maar is dit nie op die ou einde juis deel van ons anderslyk as koninkryksburgers nie? En ek wonder oor een of twee situasies die jaar of ek wel so opgetree het?
Maar laastens, ons reis is beslis nie los van ons daaglikse lewens nie. Weereens 'n fyn lyn tussen om te verval in 'n groef van daaglikse oorlewing en om wel in die nou in die daaglikse roetine maksimum die lewe te leef. Die enigste verskil tussen 'n groef en 'n graf is die diepte. So hoe bly jy uit die graf?
Prediker 3:12-13 het vir ons die antwoord - Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is 'n gawe van God. Vers 22 - Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk; dit is wat hom toekom. Wie kan hom laat sien wat ná hom sal gebeur? 9:9-10 - Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie.
Sukses is na aanleiding van Prediker om nie vasgevang te raak in die sinneloosheid van die lewe nie. Dit wat die vlees, die natuurlike mens, dikwels na strewe - mag, rykdom, plesier, seks, drank, kos, kennis ens. Nee sin en dus sukses kom wanneer jy dit wat jy elke dag doen volkome kan geniet en in 'n gelukkige verhouding staan. Iemand spesiaal waarnatoe jy kan huis toe kom aan die einde van die dag.
My konklusie so ver is, as ons onsself aan die einde van die jaar wanneer ons in dankbaarheid terugkyk en vra hoe suksesvol die jaar was, wil meet, dan is daar vier elemente waaraan ons ons sukses kan meet. Ons kan dalk ook praat van vrugbaarheid. Of nog beter, 'n lewe van oorvloed!
Het ek voluit geleef op pad na my doelwitte (met die veronderstelling dat jy doelwitte het waarnatoe jy werk) met integriteit, karakter, waardes en 'n etiese lewensstyl? En met voluit leef bedoel ek om die reis te geniet, mindful in die nou te leef en dat dit wat jy doen vir jou vreugde verskaf saam met die persoon wat jy liefhet.
As ons op 'n skaal van tien ons sukses volgens dié kriterea meet en nie tevrede is met die resultaat nie, is dit dalk 'n goeie uitdaging om onsself in die komende jaar daarna uit te strek.
Was ek suksevol? Beslis nie 'n tien nie, maar darem ook nie 'n een nie! Dalk rondom 'n vier, maar nou het ek dit minstens vir myself uitgemaak hoe die besigheid werk! En daarvoor gee ek myself 'n tien uit tien!
Sjoe!!!!!! Toe ek begin lees, toe dog ek....nou hìer en oor hierdie onderwerp sal ek genoeg te sê hê...........tot ek klaar gelees het, en besef het dat ek ook maar die hele besigheid verkeerd gehad het.........en toe jy begin by Prediker toe weeeet ek hier kom die wysheid wat my hele lewe verander het!!! Die dag wat mens opstaan en gaan slaap en voel daar is niks meer oor nie, tot ek op my kniee gegaan het en gevra het........nou wat nou..........is ek met totale stille vrede oorweldig met die woorde.....Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen.................en nou, toe ek jou blog lees..........toe weet ek weereens.......ek is ok.........en my sukses word bepaal deur met totale toewyding alles aan te pak wat my hande vind om te doen, en as ek neerval, dan moet ek die les leer wat daarin vir my weggesteek is, opstaan........en my hande weer uitsteek en verder probeer, help ,werk, dien, gee..........en vashou! Dankie weereens vir jou ongelooflike skrywes!!
ReplyDelete