Nou jy mag dalk vir my sê: "Daar is geen openbaringslig hierin nie. Ons almal weet dit."
En nee, dit is niks uitermate uniek nie. Dit is vir die meeste van ons kopkennis. Verwerkte inligting wat ons kognitief op een of ander wyse probeer integreer.
En juis hier is die ding. Wanneer dit by geloof kom, is kopkennis maar een deeltjie van die totale prentjie. Kop en hart moet in samestemming kom. Dit moet 'hartskennis' wees. Wat maar net 'n manier is om te sê dit is 'n wete, 'n oortuiging, 'n vastigheid wat jou hele menswees oorheers. Bewustelike en onbewustelik, want dit spruit uit die dieptes van die geesdimensie. En daar begin die meeste van ons weer in die duister rondtas, want ons wil mos nou die besigheid probeer verstaan. Jy kan dit egter nie verstaan nie. Jy moet dit IS.
Terug na my punt, dit is juis hoekom dit vir my so 'n helder oomblik was. Psalm 36:10 sê immers: "In U lig sien ons die lig." So vir 'n oomlik beweeg ek in God se lig en iets wat kopkennis was, word 'n IS oomblik en 'n openbaring tref my.
Nou kom ek gee net gou eers weer 'n tree terug. Die laaste paar maande het die Heilige Gees ernstig met my begin praat oor my roeping in 'n gemeente. En dit is natuurlik deel van my wag en luistertyd (lees Dinsdag se blog). My roeping het nog nooit verander nie. En deur die Heilige Gees se leiding bedien ek op verskillende wyses en plekke. Ek het egter besef ek wil die kar voor die perde inspan. Eers sekuriteit kry en 'n suksesvoille praktyk opbou en van Imberbe (my en Francois se bediening oor verhoudings) 'n sukses maak.
Die eerste veranderinge het egter begin toe ek so maand terug ná my tyd in Nababeeb die Gees se stem begin hoor dat ek dinge verkeerd om doen. My roeping is die kern van wie ek is.
Ál die ander dinge is deel van daai roeping en bediening, maar dit kom vanuit 'n gemeentebediening en nie andersom nie. Maar hoe nou?En dìt bring my by my weerligstraal-moment. Dit kan wees dat dit in my oopgebreek het omdat die hele bedieningsding die afgelope tyd in my gebede, gedagtes en gees rondswerf. Dit kan bloot wees omdat die tyd reg is dat ek die Gees se stem hoor.
Ek wil graag groot dinge vir God en die koninkryk doen. Daarom het ek begin besef dit is krities belangrik dat ek my voet in die deur kry. 'n Mens moet op die pad wees om die roete te kan loop. Om net daaroor te visualiseer, te lees en te dink is nie genoeg nie. Jy moet actually jou voete in jou sandale steek en die stofstrate aandurf.
Sò, hier is my weerligstraal openbaring: Elke kind van God is uiters belangrik vir Hom. Om die waarheid te sê, elke mens op aarde is ongelooflik belangrik vir God (Joh.3:16). So te midde van biljoene mense, ken Hy elkeen. Is elkeen van Sy kinders vir Hom baie kosbaarder as diamante.
En hier is die ding! PAPPA Vader het elkeen sò lief, dat Hy mense in ons lewens plaas om saam met ons die lewensreis te stap. Elkeen is belangrik en vervul 'n belangrike funksie. Hoekom anders die beeld van die kerk as die liggaam van Christus wat mekaar dien en bedien met ons gawes?
Die persoon wat geroep is om voltyds in die bediening te staan, dien deur God se liefde sigbaar in die mense wat in sy of haar gemeente is, se lewens te wees.
Eenvoudig.
Dit het my weer laat besef - elke mens vir God so belangrik is dat Hy Sy liefde prakties en sigbaar deur ons aan mekaar gee en wys. Dit maak nie saak waar jy is nie, wie die persoon is nie, belangrik of onbelangrik, ryk of arm, groot of klein, watter geslag en oriëntasie of velkleur, Elke iedere een is sò belangrik vir God dat Hy elkeen besonderlik deur Sy geroepene in daai gemeente wil bedien.
Elke mens is belangrik. Elke plek is vir God belangrik. En daar waar ek geplant word, is ek 'n klein instrument in God se hand om Sy groot liefde in elke kosbare persoon te wees. Diè besef maak my kinderlik opgewonde. Ek besef vir die eerste keer werklik dat dit nie oor die groot dinge gaan nie. Oor die massas nie, want vir God gaan dit oor elke persoon! Dat ek Hom voluit kan dien in my bediening op enige plek aan elke persoon. En dan, as daar groter dinge kom, dan sal Hy dit kan gebruik.
Want elke iedere een is vir God kosbaarder as diamante.
No comments:
Post a Comment