Thursday, 11 December 2014
Gemsbok aan 'n leiband?
Om te kan lag is seker een van die wonderlikste ding in die lewe. En ons Afrikaners is goed daarmee. Ons maak maklik grappe in enige omstandighede en oor enige situasie op enige plek.
Om te lag gebruik 'n mens sowat 'n derde minder spiere as om te frons.
Lag bring positiewe of goeie hormone na vore wat jou laat goed voel, stres verlig en sommer net die lewe blinker laat lyk,
Lag is volgens Spreuke goeie medisyne vir die siel. En is dit nie so nie? Maak nie saak hoe somber 'n situasie lyk of in watse gat 'n mens its nie, die oomblik as jy begin lag, dan lyk die wêreld sommer weer goed en sien 'n mens dikwels weer kans vir 'n saak.
Die kosbaarste is die storievertellers wat ons het. In die Namakwaland het ek van dié streek se humor ervaar en dit was 'n heerlike lafenis,
Ons vermoë om in feitlik enige situasie humor raak te sien en daaroor te lag, maak situasies dikwels soveel draagliker.
En op die punt, as ek vir 'n oomblik my ernstige self kan wees, wonder ek oor ons Afrikaners se tweesydigheid in die verband. Aan die een kant lag ons maklik en soek humor in alles, maar aan die ander kant is ons een van die negatiefste en pessimistiese volkere op aarde.
Ek bewonder mense wat spontaan kan grappe maak. Of interessante stories vertel. Of grappe kan onthou.
Ekself het maar 'n redelike droeë sin vir humor wat nie almal altyd vang nie.
Maar so loop ek mos vamiddag by die Spar hier in Oranjemund in. Ek het nog nie voorheen die bord aan die regterkant net so as jy by die deur inkom, raakgesien nie. Of eerder, ek het die bord raakgesien, maar nie ál die fynskrif gelees nie.
Om een of ander rede vang my oog dit toe raak en toe begin ek lag.
Honde word nie in die winkel toegelaat nie. Goed, dit maak sin. Maar ook nie katte nie...Ek het nog net een keer in my lewe 'n kat aan 'n leiband gesien. Ek is ook 'n katliefhebber en ek weet, dis nie asof jy vir jou kat kan sê: "Kom Gemmer, ons gaan gou vir 'n stappie nie." Katte regeer. Punt. Hulle is beslis nie 'n dier wat op 'n inkopietog saam met jou sal gaan nie. Honde is mos nou 'n totaal ander storie.
Voëls word ook nie in dié kruidenierswinkel in Oranjemund vrye toegang gegun nie. Ek is nie seker watse voëls die bestuur in gedagte gehad het toe die bord vasgesit is nie, maar ek glo nie iemand sal 'n valk of 'n arend saambring om inkopies te doen nie. Ook sekerlik nie jou ringnekduiwe nie. 'n Budgie dalk? Of is die bestuur bang iemand se papegaai sit op sy eienaar se skouer en vloek die ander kliënte in die gange?
Maar toe ek by die laaste reëltjie kom, bars ek uit van die lag. Gemsbokke word nie toegelaat om in die Spar te kom wei nie. Nou kyk, ek is ook 'n bok vir sports, maar ek weet darem nie of dié bokke van Oranjemund só vol sports is nie. Hulle lyk maar taamlik droog en verveeld vir my.Selfs droog.
Die eerste beeld wat by my opkom is dié van 'n omie met 'n baie ruig wit baard, gekoekte lang wit hare, veltpet op die kop, verwaarloosede kakiebaadjie, kakiebroek en vellies en hy lei 'n Gemsbok aan 'n leiband rond.
Gemsbok aan 'n leiband? Nog nie een gesien nie. Weet nie of iemand dalk 'n hans Gemsbok agter in die yard as 'n troeteldier aanhou nie, maar ek dink darem nie so 'n eienaar sal sy bok in die Spar wil laat gaan wei nie.
Of is die bord vir die Gemsbokke self daar op. Kyk, hulle loop mos redelik mak in die dorp rond. En as jy nie jou voorhekkie toehou nie, is die laaste rose wat dit darem nog gemaak het in dié oase in die woestyn ook daarmee heen. Maar in die Spar inloop? Ek weet darem nie of hulle die moeite sal doen nie. Daars dan nie eers lekker sappige gras om aan te smul nie. Dalk 'n verlepte blomkool of so iets.
Ek reken nou maar so by myself, as Gemsbok wel nou uit nuuskierigheid by die Spar loop inwandel op sy middagstappie, sal hy sekerlik regs kyk, sien dat honde, katte voëls én hyself verbied word. Ewe eerbiedig en gehoorsaam omdraai en uistap en maar oorkant by die museum gaan verder wei.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Wilco.................jy was seker op n Donderdag in die Spar, want dan kom die groente en vrugte lorrie van die Kaap af in...........en ek dink die Gemsbokke weet dit, en sal dan, net dan n kans probeer vat om daar by ou Eva (die dame wat die groente en vrugte weeg) 'n ou ietsie gaan probeer hollang!
ReplyDelete