Saturday, 13 December 2014
Refleksie na my tweede week in Oranjemund
Ek het al 'n paar keer die afgelope maand gesê ek weet nie waarheen het die tyd dié jaar heen gevlieg nie. Ek kan byna dieselfde sê van die afgelope week. Ek weet dit was nog Dinsdag erens, maar toe ek weer sien is ons deur 'n vakansiedag, Vrydag uit en hier is die week verby en môre begin die nuwe week weer.
Welliswaar is die lewe opwindend. Ek besef net meer en meer hoe belangrik dit is om met "mindfulness" te leef. Carpe diem - Gryp die dag. Leef in die nou. Wees bewus van dit wat nou gebeur, wat jy nou ervaar, wat jy op dié oomblik beteken.
Só gryp ek vandag die dag vir 'n vinnige heen en weerkie na die Port (Port Nolloth). Met my terugkom ry ek toe na die uitkykpunt bo by die Swartkop Natuurreservaat wat iemand (nie eers 'n inwoner nie) my dié week van vertel het. En wat 'n belewenis was dit nie. Vir die eerste keer sedert ek hier is, het ek ervaar dat ek regtig stilword. En het daarmee saam die pragtiste sonsondergang gesien.
Ek vermoed ek gaan in die komende paar weke 'n hele paar keer weer op dié kop gaan loop sit.
In my refleksie het ek 'n paar dinge besef. En soos die brug tussen twee grense (boonste foto) is ons lewens soms in oorgangstye van die een "grens" na 'n volgende "grens". Jy kan dit seisoene ook noem. Selfs deur die Jordaan-trek-ervaringe. Wat ek weet die plek is waar ek nou in my lewe is. Ek is besig om van die woestyn-winter-grens na die beloofde land-somer-grens oor te gaan. Stadige transformasie wat begin plek inneem.
Grensbrugtye is eintlik baie opwindende tye. Dis tye van skoonmaak, van refleksie en agterlaat en skoon begin en ontvou-tye.
En so in my refleksie besef ek maar dit is tyd, in die oorgrens beweeg van my, dat ek nou werklikwaar van 'n vreeslike gogga moet begin ontslae raak. Daai gogga (of spinnerak soos sommige dit noem) het 'n naam, en sy naam is, ja, perfeksionisme. Baie van my teleurstellings, uitstel (procrastination), luiering, nie klaarmaak nie kan ek toeskryf aan my perfeksionistiese streep. Ek, 'n talent of iets soos 'n stuk werk of 'n song is net nooit goed genoeg nie. So ja, daar is dit in die ope. En dit is nou een grens wat in my lewe agtergelaat moet word. Die brug moet gekruis word. En dit wie ek is in Christus en in myself moet net beskikbaar wees om gebruik te word.
En so, as die son ondergaan op week 2, besef ek, ek moet genadig wees met myself. Daar was tye wat ek gefaal het, daar was goed wat ek nie gedoen het nie en daar was tye wanneer ek moeg was. Maar dis oukei. Want in refleksie, het ek eintlik baie gedoen, deurbrake gehad, baie beteken en 'n baie goeie onderhoud gehad met werklik positiewe verwagtinge.
My grootste besef is ek het nie nodig om al doer in my refleksies, wag, stilword-tyd te wees nie. Dis nie 'n kompetisie nie. Dit hoef nie perfek te wees nie. Luister net. En as jy nie nou hoor nie, sal jy wel, want jy SAL Sy stem hoor sê: "Hier is die regte pad, draai om en loop hierlangs." (Jesaja 30: 21) "Wees stil en weet ek is die Heer," se God in Psalm 46:10 en vir Sagaria sê die Gees: "Wees stil voor die Here," (2:13) en "Nie met mag of krag nie, maar met my Gees. sê die Here die Almagtige" (5:6).
As ek terugkyk op die week, is die grootste les wat ek leer, dat stilword beteken gee net oor. Maak net los en laat toe dat die Gees jou gees lei.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment