Die laaste paar blogs was diep sake. Ek wil ook nie almal heeltyd vermoei met my eie worstelinge en meditasies nie, maar aan die ander kant glo ek ook dat iets hiervan dalk net iets vir iemand kan beteken. Daarom skryf ek soos dinge gebeur en op my hart gedruk word.
Die tema van die bundel is: Wilco se 40-dae-in-die-Mund-refleksies. Die Heilige Gees druk al die grootste deel van die jaar dit op my hart om 'n stilword tyd te kry en te luister. Dit wou egter nie realiseer nie behalwe vir drie dae erens in die begin van Julie. Maar die begeerte daarna het net al hoe dringender geword en toe kry ek die geleentheid om vir ses weke, of te wel 40 dae, hier in Oranjemund te kom aflos. Die perfekte geleentheid. Dit is stil en rustig en alles het perfek uitgewerk.
Weliswaar was die stilword-proses heelwat moeiliker as wat ek gedink het dit gaan wees. Dit is moeilik genoeg vir my om stil te word en ek sukkel nog altyd met die "luister-na-God-se-stem"-ding. Nie dat ek een oomblik twyfel dat Hy praat op en deur verskillende wyses en mense nie. Daarvoor het ek Sy stem al té duidelik in my lewe gehoor. So sekere dissiplines kom bietjie makliker as ander.
Tog ervaar ek dat God só gracious, genadig, is dat Hy jou vat waar jy is en deur die Gees met jou die pad stap na waar jy moet kom.
Soos ek nou die dag geskryf het, besef ek toe ek moet meer genadiglik op myself wees en besef dat God wel besig is.
Vanoggend toe tref dit my mos nou soos 'n nat snoek wat die Gees doen.
Die Heilige Gees het my toe, teen my eie sterkste verwagtinge of oortuiginge in, eers teruggevat na die verlede. Nie om daar te gaan vassteek nie. Juis om te gaan skoonmaak. Want 'n mens kan nie vorentoe beweeg as daar toue en ankers is wat jou vasbind nie. Dit moet los en af. Jy moet vry wees. Paulus sê in Fillipense 3:13 ek maak my los van wat agter is. Dit is soms 'n proses.
Seker so twee maande terug wys God my duidelik in 'n droom dat Hy besig is om my in sy furnace, sy smeltkroes, sy vuur, skoon te brand. Jy weet soos silwer wat gesuiwer word. In 1 Petrus 1:7 praat hy van ons geloof wat soos goud deur die vuur gelouter word.
Om suiwer silwer, of enige ander edelmetaal te kry, moet ál die onsuiwerhede verwyder word. Dit word gedoen teen temperature van duisende grade. As alles gesmelt is kom alles wat nie deel is van die edelmetaal nie boontoe en word verwyder en die metaal sak af ondertoe. Só suiwer God ons deur verskillende dinge in ons lewens soos die Woord, mede-gelowiges en omstandighede. Vandag herinner God my aan die droom en ek besef waarmee Hy die afgelope tyd besig is. Dinge word skoongemaak en gesuiwer. Sommige is baie pynlike besluite. Gewoontes, gedagtes en sake word uitgesorteer en afgehandel. Geen wonder ek is so melancholy die laaste twee maande nie!
Die tweede openbaring kom uit Prediker 3 wat al 'n geruime tyd op my hart druk. Ek word wakker met 'n baie swaar las vanoggend oor 'n ding wat ek moet afhandel en Prediker 3 kom net skielik in my gedagtes op. Ek besef God sê vir my iets en ek word rustiger. Later wil ek Bybelstudie doen en ek maak my Bybel oop om na my Psalm vir die dag te blaai en raai waar val my Bybel oop. Ja, Prediker 3. Nou kyk, ek glo nie in 'n, slaan-jou-Bybel-oop-en-hardloop-daarmee-oplossing nie. Daarvoor is ek 'n tè ernstige en verantwoordelike teoloog. Maar ek glo ook nie aan toeval nie. So ek weet vanoggend praat God reguit met my.
Die van julle wat my ken weet ek mediteer al lankal oor die seisoene in ons lewens. Kort opgesom, dit is wat Prediker 3 sê. Luister die song wat ek heelbo gelink het. Daar is 'n tyd vir alles. As ons die tye en seisoene in ons lewens ontken, benadeel ons net onsself en die normale prosesse van die lewe. Dit bevestig maar weer net, daar bestaan nie iets soos goed of sleg nie. Dit is perspektiewe wat gekoppel is aan persoonlike voor-of-afkeure. Nee, daar is seisoene. Tye in ons lewens waar die verskillende kante van 'n saak na vore kom. Hoeveel keer in die lewe benadeel onsself nie omdat ons vaskyk in wat ons dink sleg is, of nie goed na ons subjektiewe mening op daardie bepaaalde tydstip, en dan mis ons 'n blessing net omdat dit aan die ander kant lê. Of ons klou vas aan 'n seisoen en beweeg nie aan nie.
Lewe is organies dinamies. Dit groei en sterf die hele tyd.
Ek besef hoe ek myself vir jare vasgeketting het met goed in die verlede waaraan ek vasklou.
Dit is tyd om af te haal, los te maak, gedagtes te vernuwe en aan te beweeg. Dit is tyd.
Nog 'n ding wat die Heilige Gees my toe wys so uit Prediker 3 en in my meditasie en luister vanoggend, is dat ek nie in die woestyn is nie. Vir so lank dink ek ek is in die woestyn en ek moet die beloofde land in. Ek worstel met God oor die woestyn. So tong in die kies, nou sit ek letterlik midde-in 'n woestyn. God se humor!
Maar toe vanoggend wys God my ek sit in ballingskap. Daar is 'n merkwaardige verskil. Ek is al lankal deur die Jordaan uit die woestyn. Ek het al soveel van die melk en heuning van die beloofde land geproe. Maar weens my eie keuses en soveel dinge wat gebeur het, het ek in die ballingskap beland. Dit is hoekom God my die reeks, Kies 'n lewe van oorvloed, ook gegee het. Hy herstel jou eers. Wys jou waaroor dit gaan. Help jou om jou kop reg te kry. En dan haal hy jou uit en vat jou terug. En vanoggend besef ek daar is 'n tyd. En die tyd is hier om uit te trek terug en die die tempel te herstel.
Vir elke ding is daar 'n tyd...'n tyd van suiwering, 'n woestyntyd, 'n ballingskaptyd en dan 'n tyd van oorvloed en beloofde land en om in die "tempel" te dwell. Van die verlede agter jou sit en jou uitstrek na wat voor is.
No comments:
Post a Comment