Dié koninkrykbeginsels is so waar in alle aspekte van ons lewe. Die tye wanneer mens selfsugtig raak en net na binne leef, of kwaad raak omdat jy "niks" kry nie (of dit nou vriendskap, liefde, 'n glimlag of net simpatie is), is dit gewoonlik ook wanneer 'n mens self niks gee nie.
Wanneer ek bedien en ek weet dat die Gees gebruik my en ek doodmoeg by die huis kom, dan besef ek maar net watter voorreg dit is om te gee.
Dis genade om as as kinders van die Here so baie aan mekaar te kan gee. In ons kapitalistiese lewens dink ons so baie keer gee beteken net geld. Of by die skool en selfs by die kerk gee mense partykeer baie makliker geld as om self te help of moeite te doen om iets te bring. Maar ons het soveel om te gee.
Ek leer in my eie lewe al hoe meer, hoe meer ek my eie gemak soms opsy skuif, my eie "nie lus nie" of verskoning van te moeg of besig wees en myself gee, hoe meer geseënd is ek.
Dit wat jy terugkry is soveel meer as die bietjie wat jy gee. As jy na die tyd terugkyk dan besef jy hoeveel jyself geseën is in jou eie gee.
Soms hoef 'n mens net 'n glimlag te gee. Of 'n handdruk of 'n bemoedigende woord of 'n gebed. Of iets klein wat jy vir iemand doen.
Ná vanoggend se erediens besef ek die genade van gee met jou gawes, talente en roeping. En ek besef weereens hoe belangrik dit is dat ons mekaar as gemeente dien met ons gawes. Dit is ons voorreg om as koninkryksburgers te kan gee en mekaar te kan bedien of dit nou deur 'n ete is, 'n gloeilamp te vervang of te bemoedig of te leer.
Dankie Heilige Gees dat ons in die Kerstyd kan dink aan wat dit beteken om te gee en dat ons in Jesus se voetspore kan volg!
No comments:
Post a Comment