Wednesday, 10 December 2014

Vakansiedag in Namibië

Vannaand is 'n kort blog. Vandag was 'n vakansiedag in Namibië. Menseregte dag.
Ek weet nie eintlik wat dit beteken of wat het gebeur nie. Die dag het vir my maar normaal verby gegaan. Behalwe 'n heerlike braai vannaand.

Wat vir my nog 'n aanpassing is, is dat Afrikaners in Namibië is maar soos Afrikaners in Suid-Afrika. Oor die algemeen is soveel dieselfde as in Suid-Afrika. En tog sit jy in 'n ander land.
Hoewel hier die Namibiese Dollar is, is dit dieselfde waarde as die rand en word beide geldeenhede aanvaar. Die mense praat ook sommer dikwels van Rand en nie Dollar nie. Om net een voorbeeld te noem.

Ek wil nie in dié blog stilstaan by ooreenkomste en verskille tussen die twee lande nie. Ek weet nog heeltemal te min om so 'n vergelyking te probeer trek.

Wat ek wel weet is dat 'n Afrikaner 'n Afrikaner bly, dat braai braai bly, dat aanbidding aanbidding bly, dat 'n bier 'n bier bly, dat mense mense bly en dat min dinge in ons basiese menswees en kultuur verander, al is daar 'n grens tussen die twee lande.

Ek het nou nie heeltemal afgevat op dié vakansiedag nie, maar dit was inderdaad 'n heerlike rustige dag hier in Oranjemund.

1 comment:

  1. Jy het my nou laat dink...."ons" en "julle"....die kant en daai kant van die Oranjerivier. Vir ons aan dié kant (Namibiese kant) is die enigste verskil dat ons deur n grenspos moet gaan om aan daai kant te kom. Ons het ouers aan die kant en daai kant, ons kinders gaan hier skool as hulle klein is en daar as hulle groot is, ons het n posbus hier asook n posbus daar (Alexanderbaai), want dis net vinniger, beter en goedkoper om ons SA pos daar te gaan haal (dis nou voor die strike!). Ek en Phillip is daar gebore, maar bly hier........dit is asof alles so verdeel gedeel is...
    Tog het ek gedink ons is maar almal net Afrikaners, maar het nou besef (en hierdie is net my eie opinie) dat ons wel verskil.....ons is verseker eenvoudiger, en daarmee bedoel ek minder geklompiseerd in die sin dat as ons iets exiting beplan dan is dit om ons tent en stoele op die bakkie te laai, die honde in-te-prop op die agter sitplek, n paar koues in die bakkie deep freeze te sit en te gooi...water toe...enige water rivier of see...of sommer net die woesteyn of veld in! Ek dink in SA as mens iets exiting beplan sal dit na n Mall wees of Rock Concert iewers.....en dis ok! Ons pak nie make-up in nie, maar genoeg sonbrandroom, want die woestyn kan warm raak, nie hoë-hak-skoene nie, maar plakkies (selfs al gaan loop jy op die strand as die sand warm is....ok dis n grappie!) Haardroeërs word verseker by die huis gelos, want daar is nie 'n kragprop langs die Visrivier nie, ons pak n hoed of bandana in. Ons verkies bo alles om net grondpad te ry en glad nie teerpad nie.
    Met hierdie probeer ek nie vergelyk julle en ons nie, maar tog is daar verskille. Soos ek n tydjie gelede n prentjie gesien het met n hotelkamer wat daar staan Five Star Hotel en langsaan n tent in die veld en daar staan Five Billion Star Hotel...........nou daaaaai dink ek is die verskil!
    Ons/ek kry gedrags-probleme as ek vir langer as twee dae in die stad is, maar kan ure en dae langs die river, see en in die veld sit en die stile probeer "sagter draai", want dit "raas".
    Vir die groot voorreg is ek so dankbaar dat God my hier geplaas het vir die afgelope 30 jaar al, en ek dink Hy trek my voor omdat ek n lewe van absolute stilte en vrede mag lei.
    Lyk vir my ek is al lankal van die punt af, maar dankie dat ek op jou blog kon rondkrap......!!!!
    Mooi loop
    Annetté
    PS: Net nog iets.....Ons kry baie swaar as ons in SA is om nie vir elkeen te gee wat bedel en vra nie.......want dit is die regte ding om te doen, volgens ons. Ons stap nie by n Mall uit sonder n warm Ocean Basket wegneem ete vir die car-guard nie.........hier is dit nie so nie....ek kan nie nou dink of daar al ooit by ons gebedel was in Namibia nie...............

    ReplyDelete