Monday, 29 December 2014
Geestelik hoog, maar stewig gegrond (#4)
Daar is 'n ou grappie dat die Doppers in Potch vir die studente gesê het dis okei om te dans, solank jy dit net nie geniet nie. Wat dié storie goed oorbring, is die miskonsepsie dat om geestelik sterk te wees, spiritueel te wees, beteken om 'n boring, ernstige en uitsiglose lewe te leef. Dat diesulkes se koppe die hele tyd in die wolke is.
Ek het al 'n paar blogs gedoen oor die vraag na spirtualiteit en ons lewens. Ek het gehoop daar sal meer respons en saamgesels wees, maar ek hoop ons kan 'n gesprek hieroor aan die gang kry. Maar vandag wil ek bietjie verder gesels oor die lewe van 'n kind van God.
Eerstens is dit belangrik dat ek net weer baie duidelik 'n onderskeid hier tref. Ek praat nie van godsdiens nie. Om die waarheid te sê, bogenoemde stellings is sekerlik waar van godsdienstigheid. Die realiteit is dat enige geestelike praktyk godsdiens kan word as 'n mens nie versigtig is nie. Maar ware spiritualiteit is myle van godsdienstigheid verwyder. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat God 'n intense afkeer aan godsdiens het.
Met 'n geestelike lewenswandel of spiritualiteit bedoel ek 'n lewe saam met God, deel van God, in God deur Jesus. Jesus is die grootste inklusiewe liefdesdaad wat God kon doen. Godsdiens maak Jesus eksklusief. Asof Hy net bedoel is vir sekere uitverkorenes wat aan seke menslike dogmas en voorwaardes en rituele voldoen. Die Jesus van die Bybel is allermins dit.
Om die waarheid te sê, ek wil sover gaan om te sê dat die ou mooi prentjie wat ons so dikwels teken van God in die middel, mis die hele punt. In dié voorstelling trek ons 'n ronde sirkel met 'n sirkel in die middel van waaruit wawiele geteken word wat die verskillende fasette van ons lewe verteenwoordig. Ek weet, ons probeer met verskillende voorstellinge die verskeie dele en rolle in ons lewe verklaar en in plek kry. Dalk is ons probleem juis ons Westerse dualisme waar ons die leuen wil glo dat die verskillende dele van ons lewe nie mag oorvleuel of interaksie mag hê nie. Asof ek, wat ek glo in politiek en kerk onder andere, geskei kan word. Dit is wanneer ons begin sê my godsdiens is 'n private saak. En dit is juis die probleem. Dit is godsdiens. Een van die wawiele. En as jy nou mooi piëtisties is, dan sal God die middelste sirkel uitmaak. En godsdiens is 'n speek van die sirkel.
Of nog 'n ergenis in ons Westerse denke is die hierargiese sisteem. Hier probeer ons dit só hanteer: God is die belangrikste in my lewe (asof dit ooit waar is) en dan my vrou en dan my gesin en dan kom my werk en so aan. Regtig? En dan kom ons met mooi stellintjies soos: Dit waaraan ons die meeste tyd spandeer, bepaal ons lewe en dan voel almal skuldig want die meerderheid mense se lewe wod 80% van die tyd opgemaak deur die werk.
So wat is 'n geestelike lewe of spiritualiteit volgens die Bybel? Ons lewens is tog geïntigreer. Elke deel van jou is deel van die geheel van jy. Jy kan nie wie jy is probeer marginaliseer en in kassies plaas nie. Die grootste probleem met bogenoemde twee modelle is heelwaarskynlik dat dit fokus op take of rolle of funksies, nie op wie jy is nie. Ons het dalk al sulke gesplete persoonlikhede ontwikkel en gedistansieër geraak met ons eie is, dat ons net in terme van funksie kan dink.
Paulus som dit die beste op in Handeling 17:28 - Dis tog juis deur/in Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan.
Ons is een met Jesus en een met God. Individueel én as kerk (later meer hieroor in 'n volgende blog). Dit beteken jy adam God se asem. God is nie maar net 'n deeltjie van my lewe as 'n kind van Hom nie. Hy is beslis nie godsdienstige handeling nie. Nee God se wese is nou deel van my.
So beteken dit ons moet heeldag in meditasie en gebed sit, Bybelstudie doen, ernstige gesprekke mee besig wees? Beteken dit ons moet vaal, vervelig en uitsigloos wees?
Ek dink juis die teendeel. God is vol humor. Soos God vir Job sê, kyk na die seekoei, sy stert is so reguit soos die seder, sy boudspiere inmekaargevleg (40:12). Ek dink dit is baie snaaks.
Jesus het nie geskroom om na 'n bruilof te gaan en water in wyn te verander nie. God is kleurvol. Kyk net na die blomme en plantegroei. Ek wil nie nou hier in te veel detail ingaan nie. Die punt wat ek wil maak, is dat God het die mens na Sy beeld geskape. Die vrug van die Gees is juis 'n goeie ontspanne lewe.
En ons, individueel en as kerk, as beeld en liggaam van God, moet die lewe wat Hy vir ons kom gee het, geniet. Voluit. Die wêreld het 'n opsessie met "happiness", geluk, ontwikkel. Almal soek na geluk en alles moet na happiness lei. En dan word dit gesoek in alles behalwe die bron. Die vrug van die Gees is onder ander vreugde. Maar die beeld van God wat die wêreld dikwels het, is 'n spul vaal dansers sonder genot en lewensritme.
Ek dink die kerk, kinders van God, moet die voorbeeld stel van 'n voorspoedige, uitbundige gelukkige en vrugtevolle lewe. Dis tyd dat ons as kerk ophou antwoorde soek in die wêreld en die trends probeer navolg en weer terugdraai na die Bron. En leef soos Hy bedoel het dit moet wees en dit in Jesus kom herstel het.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment