Saturday, 6 December 2014

Refleksie na my eerste week in Oranjemund

'n Week het verby gevlieg. Wat my sommer net weer laat besef hoe die tyd vlieg en vinnig die lewe verbygaan.  Iewers  gaan ek hieroor in die blogs reflekteer. Om daai balanspunt te vind tussen die mindfulness, leef in die oomblik, dit geniet en die doelgerigte werk. Maar dit vir later.

Die eerste week is verby met interessante ontwikkelinge en verwikkelinge. Ek het pragtige nuwe mense leer ken. Vandag het ons begrafnis gehou toe ons van Eric James afskeid geneem het wat onverwags Maandag dood is. En dit was werklik 'n voorreg om saam met Trudie en die familie 'n pad in diè tyd te stap, en steeds te stap. Die realiteit van die lewe is: oral is daar mense met hul eie vreugdes en leet, geboorte en sterwe wat daagliks deur die siklusse en seisoene van die lewe beweeg. En elkeen is God se besonderse kind.

Persoonlik was dit 'n week wat op sekere vlakke poistief was en ander vlakke nuwe refleksies, realiserings en groeiprosesse meegebring het. Ek voel trots op myself oor dit wat ek reggekry het, soos om daagliks te draf en my blog te skryf. Die eerste tree op 'n nuwe journey. Die afsterwe van slegte gewoontes en die kweek van nuwe belangrike goeies.


Wat Oranjemund aanbetref. Die weer is totaal anders as wat ek verwag het. Tot nou toe is dit maar redelik koel tot koud. Dalk verander dit nou. Die dorp is nie groot nie, maar groot genoeg. Ek dink ek besef ek sal in die platteland kan bly. Om die waarheid te sê, ek begin dink ek wil in die platteland bly. Daar is net iets daaraan om uit die onpersoonlike, doellose gejaag van die stad te kom.
Die strand is ongerep en stil. Die see praat met jou. En midde-in die woestyn lê die dorp soos 'n oase wat my diè week baie oor die lewe laat reflekteer het.

Maar bowenal besef ek weer die belangrikheid van die mense om ons en die bande wat ons bou. Om dit te koester. Ja ons elkeen het sy eie talente en roeping. En in die groter prentjie is elkeen se deel en bydrae en se wees (se EK IS) belangrik om die sisteem aan die werk te hou en 'n bydrae te lewer. En daarom is elkeen belangrik en kosbaar. Solank ons dit uitleef waarvoor ons hier geplant is. Ek het die voorreg om dit in die paar weke te doen. Ek besef dit is wat ek MOET doen. Ja met terapie en in Praise & Worship en in prediking. Met die totale my wees in mense se lewens.

Die afgelope week het ek skropplek gekry, begin reflekteer, begin nesskop. En alhoewel ek ongeduldig is, raak ek gefokus. Die volgende week gaan baie meer doelgerig wag- en luistertyd raak. Daar is baie vrae. En ek weet, vra, en vir jou SAL gegee word...

No comments:

Post a Comment