Tuesday, 9 December 2014

Inkopies in Oranjemund


" 'n Mens het wel nie alles wat jy dalk soek dadelik beskikbaar hier nie," sê ek vamiddag aan iemand, "Maar die rustigheid en vrede het weer sy eie unieke voordeel."
So som ek toe in kort my ervaring en waarneming op om in Oranjemund  inkopies te doen.
Miskien is my subjektiewe ervaring nou die die beste meetsnoer nie. Ek kan "shop" as ek moet, maar dit is beslis nie my gunsteling tydverdryf nie. In elk geval is ek iemand wat nie van skares hou nie en malls wat letterlik kreun om al die mense wat in sy gange ronddwaal binne te probeer hou, maak my benoud.

Ek skat elke outjie het sy eie koukie (ons is immer unieke individue wat elkeen sy of haar eie unieke voor-en afkeure het), maar ek persoonlik besef al hoe meer ek verkies vrede bo gemak.
Eerlik, wat maak ons met alles wat ons so maklik koop?

Nog'n ding wat ek hier in Oranjemund ontdek, is hoe maklik 'n mens aanpas en jou skik na omstandighede. Dinge wat jy dink jy nooit in jou lewe sonder sal kan klaarkom nie, kom jy agter kan jy wel by aanpas. Dalk is ons almal so deur die kapitalistiese verbruikersmentaliteit gebreinspoel dat ons glo dit is die somtotaal van die lewe waarsonder ons nie sal kan bestaan nie.

Dit herinner my aan die keer wat ek in Mauritius was vir 'n uitreik. Op daardie stadium, en dit is nou al meer as 20 jaar terug, was daar net een mall in die land. Ons was een dag daar en ek onthou nog so goed hoe ons plaaslike gids groot oë rondgekyk het en gesê het wie het nou so plek nodig.
Nodeloos om te sê ek was nog baie jonk en het self nog nie verstaan die lewe bestaan nie net uit blink mall-gange nie.


Oranjemund se "sentrale sakekern" bestaan uit die winkels in die groot straat en die Spar en 'n paar sake-ondernemings of kantore in die een dwarsstraat soos in die foto's en nog enkeles in ander dwarsstrate.
Dan is daar die Eastgate Centre soos in die volgende foto.


Hier is 'n "bottelstoor" (Noordkapenaars praat so), hardeware winkel, meubelwinkel en 'n paar klein winkeltjies. Ek skat mall-verslaafde tieners sal sukkel met 'n doellose gedrentel in winkels vol blink goed wat hulle nie nodig het nie aan mense af te smeer wat dit nie kan bekostig nie sodat hulle daarmee kan spog by mense wat hulle nie ken nie.

Mans aan die ander kant dink ek geniet die inkopie-ervaring in Oranjemund. Eerstens is die keuses baie min, so jy hoef nie te sukkel om te kies en te wonder of dit die regte "brand" is nie. Tweedens hoef jy nie myle te loop en in ellalange rye te staan om vir die goed te betaal nie (ek moet egter meld dat die ry in die Spar laatmiddag en op Vrydae veral redelik lank kan word). Verder hoef jy nie vir ure agter die vrou aan te drentel nie, want alles is binne 'n radius van 5 minute se stap bymekaar. En laastens sal jy beslis genoeg mense raakloop wat jy ken om darem die tyd om te kry met kort geselsies.

Konklusie dus, koopmal dames moet liewers in die stad bly. Mans, julle is welkom in die paradys.

No comments:

Post a Comment