Monday, 8 December 2014

Geestelik hoog, maar stewig gegrond (#1)

Ek brand al lank om (nou nie soos my voete nie) te skryf oor geestelik sterk te staan, maar tog gegrond te wees in hierdie lewe. Dit het nou nie direk iets met Oranjemund te doen nie, maar met mense. En hier is mense. As ek so om my rondkyk dan sien ek al die verskillende kante van juis dit waaroor ek hier skryf ook hier.

In die negentigs was dit 'n modewoord in die NG Kerk om te praat oor jou "spiritualiteit". Wat daarmee bedoel is, was eintlik om te sê met watter tipe aanbiddingstyl jy jouself vereenselwig of mee gemaklik is. Of die teologiese stroom waarmee jy saamgaan. Veral dominees was baie ywerig om mekaar se "spiritualiteit" te verneem en daaroor te debateer soos net dominees kan.

Ek dink en mediteer al lank oor die saak en dalk is die tyd reg om hieroor op "virtuele papier" te begin dink. Ek gaan so paar blogs hieroor skryf, maar in die volgende paar weke, dus nie direk na mekaar nie

Aan die een kant ervaar ek soms die spanning in my lewe. Soms voel dit of ek een kant toe getrek word en dan weer na die ander kant. Ek het ontdek die geheim lê in die balans. Elke mens moet vir hom of haarself die balanspunt ontdek.
Om werklik 'n lewe van oorvloed te leef, om werklik 'n getuie vir Jesus op die aarde te wees, moet jy hier teenwoordig wees.
Dit help nie om so "heavenly minded" te wees dat jy "of no earthly good" is nie.
Maar overgeset wonder ek altyd of die evangelie werklik in mense se lewens grondgevat het wanneer 'n persoon so gefokus is op sy lewe hier en nie 'n koninkryksambassadeur is nie,
Fyn balans inderdaad.



Ek sien sommer die beeld van 'n koordloper. Jy het balans nodig om van die een kant na die ander kant te kom.

Maar dan, as ek die Bybel lees, sien ek dat dit nie veronderstel is om moeilik te wees nie. Om die waarheid te sê ons kompliseer dit.
Prediker leer ons om die lewe te geniet. Met verantwoordelikheid en om God in alles wat ons doen te eer.
Jesus was beslis nie iemand wat op die wolke gesweef het nie. Hoewel Hy se bediening baie ernstig opgeneem het, was Sy voete stewig op die grond.

So hoewel dit fyn balans kos om op daai kabel te bly, doen die koordloper dit omdat dit vir hom lekker is.
Almal van ons wat al so entjie in die lewe gevorder het weet die lewe is nie altyd net maklik of eenvoudig en sonder uitdagings nie, Maar dan weer weet ons ook dit is nie net altyd swaarmoedig en somber nie.

In my lewenswandel, en my wandel met God, wil ek volkome in Hom wees, Sy volheid beleef en weet Hy is my bron en my rots in my lewe, maar ek wil stewig geplant op diè aarde wandel en lèèf.

Dit sal lekker wees as jy saam met my die volgende paar weke hieroor dink.

No comments:

Post a Comment