Verlede week het ek met 'n blog begin waar ek bietjie saam met jou wil dink oor ons spiritualiteit. Jy kan dit weer hier lees.
Die vraag wat ek gevra het is hoe leef ons as kinders van God in die wêreld? Om absoluut met jou hele hart en siel en verstand vir God lief te wees, maar tog in die wêreld en in jou kultuur relevant te wees.
Verlede week moet ek in 'n vraelys vir 'n aansoek by 'n gemeente invul wat my spiritualiteit is. Gelukkig is daar 'n vraelys wat jy by die konselent kan kry om dié te bepaal. Nodeloos om te sê tussen die vier moontlikhede, was al my tellings basies dieselfde.
Ander mag van my verskil, maar ek beskou dit as geestelik onvolwasse wanneer jy een styl so ver bo 'n ander verhef dat daar geen ruimte vir enige ander aanbiddingstyle of spiritualiteite is nie. Ons as Christene mag nooit esklusief wees nie. Jesus was nooit eksklusief nie. Jy kan maar net na sy keuse van dissipels kyk om dit te waardeer.
God is ook nie ekskusief nie, want almal is deel van die koningkryk en die kerk en dis tog hoe Hy dit verkies. Diversiteit. God hou van die verskillende smake, klere, tale, kulture en gewoontes.
As God en Jesus inklusief is in die manier waarop Hy die kerk en koningkryk bou, dan kan ons mos nie onsself wil ekskulisifiseer nie.
Die ander kant van die munt is dan ook, dat verskillende kerke tog vir verskillende smake voorsiening maak. Of 'n gemeente met verskillende eredienste wat vir verskillende tipe aanbiddingstyle ruimte maak. Niks fout daarmee nie.
Maar my gevoel is geestelike leiers en geestelik volwasse kinders van God moet iets van al die elemente in hul samestelling hê.
Jy kan tog nie anders as om teologies verantwoord met die Bybel om te gaan en met jou aanbieding nie. Jou teologie moet tog suiwer en woordgebonde wees sover as jy kan en so in die prediking aangebied word. Ons aanbidding is egter nie net kopkennis nie. Ons harte moet tog gevul wees met entosiasme oor ons Verlosser en ons moet die warmte van ons gemeenskap met mekaar kan ervaar. En tog is ons nooit onbewus van die mistieke, die Almagtige Mistiese God wat so groot is, en tog soveel bemoeienis met ons kom maak. Om stil te word en na die stem van die Gees te luister. Maar wat help dit alles, om die kennis te kry, God met jubelende harte te loof en aanbid en Sy stil stem te hoor, as jy nie eerstens mekaar versorg en daarna uitgaan na 'n stukkende en verlore wêreld om diensbaar te wees en die liefde van Jesus te gaan wys en vertel nie.
'n Spiritualiteit is goed. Daar is tog 'n manier waarop jy God beter hoor of waarin jy God meer vrymoedig aanbid, maar kom ons laat ruimte vir mekaar en leer bymekaar.
Volgende keer wil ek bietjie verder dink oor ons spirtualiteit en lig en donker en ons kulturele invloed.
No comments:
Post a Comment