Die "Munders" praat van Oranjemund as 'n oase in die woestyn. En dit is letterlik so.
Wat vir my baie interessant was, is om die verandering in die habitat te sien. Wanneer jy uit die Namakwaland na "die Port" (Port Nolloth) ry, word jy omring met die pragtige koppies, berge, klipplate en fynbos. 'n Habitat wat vir my idillies mooi is. Ek kan net dink hoe dit moet ontplof in die blommeprag. Maar dan soos jy nader aan die kus kom, verander die omgewing totdat jy letterlik in die woestyn is.
Die koppies maak plek vir plat aarde so ver jy kan sien..
Die klipplate word sandvelde.
Die fynbos...wel dit bly fynbos, net wyd verspreid.
So tussen die plate sandvelde met die vaal knoppies fynbos tussen-in, lê Oranjemund, ingevurk tussen die Oranjerivier en die Atlantiese-oseaan. 'n Groen oase inderdaad met bome, parke en water.
Oranjamund self is nie 'n aanskoulike dorp nie. Eenvoudig. Lane loop dwars en strate loop vertikaal in 'n grid. Hier is geen aanskoulike huise nie. Geen argitektoniese wonders wat die verbyganger wil dwing om te kyk nie. Geen imposante historiese of moderne geboue nie. Nee net 'n plein eenvoudige myndorpie.
Wat egter anders is, is die mense wat in die vaal huise, waarvan sommige regtig baie mooi tuine het, woon. Warm harte. Vriendelike mense, Mense wat tevrede en gelukkig is. Gesinsmense. Familiemense,
Maar benwens die mense, is daar drie uniekhede aan Oranjamund - Gemsbokke wat in die dorp wei, heinings om die Gemsbokke uit die tuine te hou en groen parke waar die Gemsbokke vrylik wei.
Gemsbokke
Glo dit nou of jy wil of nie. Maar die Gemsbokke loop soos heilige koeie in die strate van Oranjamund. Motoriste ry maar gedienstelik om hulle. Voetgangers respekteer hulle. Almal verdra hulle.
En meestal staan hulle stil om afgeneem te word! Seker maar oorlat hulle weet die kamera gaan nie van hulle biltong maak nie!
Houtheinings
Ek weet nou nie wat was eerste, die heinings of die Gemsbokke nie, maar elke huis in Oranjemund word omhein met 'n houtheining. Baie netjies en doelgerig. En dit is darem soveel mooier as 'n spul onpersoonlike yster pallasades!
Parke
Oranjemund het parke. En baie. En dis groen. Amper iets soos in Parklands. Elke paar blokke is daar 'n groot parkie waar die kinders kan speel of die ma's kan kom skinder.
Ek wonder egter net wie geniet die parkies die meeste, die Gemsbokke of die kinders?
Oranjemund is werklik 'n oase in die woestyn met uniekhede wat die inwoners hier hou en met groot tranedal laat trek. Mense wat nog die lewe smaak....
No comments:
Post a Comment