Een van die interessanthede van die (sondige, wêreldse) mensdom is om altyd die skuld te wil afskuif op ander of iets anders. Ons almal doen dit. Ons het altyd 'n verskoning vir ons gedrag wat buite onsself lê. Dit is tog so moeilik vir ons om verantwoordelikheid te aanvaar vir ons eie denke en ons eie optrede en die gevolge van die twee.
Daarmee saam is dit vir my fasinerend hoe ons, veral as Westerlinge, gedurig rede of oorsaak en skuld soek wanneer dinge, na ons mening, nie goed gaan nie. Ons vergeet so maklik Prediker 3 - daar is 'n tyd vir alles. En of jy nou daarin glo of nie, yin yang.
Nou benewens die feit dat vir elke aksie, is daar 'n gevolg of reaksie, wil ons so dikwels ander resultate sien al hou ons volhardend aan met dieselfde saad wat ons saai.
Maar dit daar gelaat, die feit is ons gaan deur seisoene in ons lewens of tye wanneer dit goed gaan en tye wanneer dit sleg gaan. En vergeet vir 'n oomblik ons (Westerse) persepsie, dat wanneer dinge nou slegter verloop as wat ons daarvan hou en ons dit as "sleg" beskou, dat ons dan begin voel of dink God het ons gelos of is ver van ons af.,
Die waarheid is: God is altyd by ons.
Dink vir 'n oomblik daaroor. Hoekom dink ons God is verder wanneer dit met ons "sleg" gaan?
God is altyd op dieselfde plek. Hy gaan nêrens nie. God sit op Sy troon en Jesus aan Sy regterhand. Hy het nie nodig om soos 'n afkop hoender rond te tas in die duister om ál die wêreld se probleme of die individu se krisisse te hanteer nie, want nie net IS Hy lig nie, Hy is in beheer.
God is, na my mening, nie net altyd op dieselfde plek nie, Hy is altyd dieselfde. In die rol van "teachers" (na aanleiding van die heel boonste prentjie), is God ALTYD die teacher.Nie net wanneer dit sleg gaan nie. Ook wanneer dit goed gaan. Hy bly dieselfde.
Dit is eerder ons persepsies wat verander. Ons belewenis en dit het baie meer met onsself te doen as met God.
.
Ek persoonlik vind dit baie moeiliker om te bid en naby aan God te wees wanneer dit sleg gaan. Wanneer dit goed gaan is my gemeenskap met God baie meer vrymoedig en intiem.
So verskil mense.
Maar dit maak op die einde nie saak of dit goed of sleg gaan nie. Of jy in die woestyn is en of jy in die paradys is nie. Of jy kaviaar eet en of jy droeë brood eet nie. God is dieselfde in AL jou omstandighede. Hy gaan nêrens. Hy verander nie. Hy IS. Vandag en elke dag dieselfde. So in dit alles is jy afhanklik van God en is Hy jou "teacher".
Oranjemund is letterlik soos 'n oase in die woestyn. Om hier te wees laat jou die kontras goed besef.
Ons lewens is gevul met kontraste op baie maniere en op baie vlakke.
Die belangrikste is om te besef, al isdaar soms woestyn in een plek in jou lewe, is daar steeds 'n oase in 'n ander deel.
En sodra jy die skoonheid van die woestyn kan sien en begin dankie sê, besef jy God regeer en is besig met ons elkeen, nie meer in die een plek en minder in die ander plek nie. Dalk is dit net ons wat geneig is om eenogig te kyk en Hom/Haar meer te wil raaksien in net sekere plekke.
God IS egter dieselfde teenwoordig orals. Ons kan dus ophou skarel en in SY oase rus vind.
No comments:
Post a Comment