In Afrikaans is daar 'n idoom wat lui: "Om jou vingers te verbrand," wat basies beteken om in die moeilikheid te kom, veral as jy in 'n ander se sake ingemeng het.
'n Ander spreekwoord lui: " 'n Haastige hond verbrand sy mond," wat beteken as jy haastig is, sal jy spyt wees.
Dit wat vandag met my gebeur het sou maklik een van daai "most embarrassing moments," gewees het as daar ander mense op die strand was. Gelukkig het niemand my gesien nie.
Dit is die eerste keer dat ek met plakkies afry see toe en nie tekkies aanhet nie, want ek besluit om wel die koue see bietjie aan te durf en met my voete in die water te gaan loop.
Ewe kordaat trek ek my plakkies in die kar uit en durf die stuk sand aan af water toe. Ek is mos gewoond aan ons Kaapse strande waar jy heerlik kaalvoet op die sand kan loop.
Maar toe is ek in vir 'n verrassing.
Eers is dit net warm. 'n Entjie verder raak dit ongemaklik. Toe begin dit brand. Maar die laaste stuk voel dit of ek op kole loop! Diè sand is nie "ons" sand nie en beslis nie 'n man se speelput nie.
Halfpad see toe begin ek al hoe vinniger loop. En toe raak dit 'n drafstappie en toe sommer 'n naeloop om my voete in die lawende koue water te kry!!!
Ek het nou wel nie my vingers verbrand en in die moeilikheid gekom nie en ek het ook nie oorhaastig opgetree en was daarom spyt nie.
Diè was eerder 'n geval van onkunde, onoordeelkundigheid en op die ou einde tydelike ongemak.
So as ek 'n nuwe spreekwoord kan begin, "Om jou voete te verbrand," dan sou dit beteken, verken eers jou terrein goed. Maak seker jy weet hoe die terrein is waar jy jou gaan begewe. Kry die nodige kennis sodat jy nie 'n "most embarissing moment" hoef te beleef nie.
Die lewe het baie fasette. Baie daarvan weet ons nie waarvoor ons ons gaan inlaat nie. Soos trou. Of kinders kry. Of 'n praktyk of besigheid begin.
Vandag se ervaring het my geleer, verken egter soveel as wat jy kan. Kry die nodige kennis voordat jy die stuk sand see toe sommer kaalvoet aandurf.. En dan, sou die sand brand, probeer maar met soveel waardigheid moontlik in die koue water kom en weer terug in die kar.
No comments:
Post a Comment