Kerstyd is liggietyd. Oral word ons verras met liggies. Flinkerende warmte verwelkom jou in voorheen donker strate, vaal winkels en sentrums en vrolik andersinds vervelige huise op tot 'n feestelikheid. Ek is mal oor die liggies in Kerstyd. Die een tyd in die jaar wat 'n nuwe gees geskep word en ons herinner dat te midde van die donker, daar 'n helder lig skyn.
Gister het geskryf oor die lig en donker in terme van ons spiritualiteit. God se lig skyn in en deur ons. Ons hoef net Sy lig te weerkaats. Oral waar ons beweeg verlig God 'n donker wêreld.
Vanaand wil ek hier aan die vooraand van Kersfees verder oor lig en donker mediteer, maar dié slag in terme van die kerk. Hierdie slag gaan ek maar net liggies hieraan raak. Ek beplan om later terug in die Kaap 'n blogreeks oor die kerk te begin skryf. Nie vanuit 'n negatiewe oogpunt nie, maar juis vanuit die die standpunt, "waarom glo ek (nog) in die kerk."
Soos kersliggies 'n andersinds donker, verbeeldinglose dorp kan ophelder, kom verlig God 'n donker, soekende wêreld, godsdienste, filosofië en mense se donker harte. Sy lig is die enigste hoop. Dit gee hoop waar daar andersinds geen hoop is nie. Lewe waar daar nie eers meer 'n sprietjie gestaan het nie en droogte die aarde laat uitbars in pynlike skurwe velle.
Jesus kom as die lig. Hy alleen kan waarlik lig laat skyn. Ons kan ligte aansit, kerse brand, spotlights skyn, maar ons kan nie die son vervang nie. Wanneer ons die krag afsit of die kers uitblaas, is die donker terug. As die son vir 'n breukdeel van 'n sekonde moet ophou skyn, sê die slim mense vir ons, sal die aarde ophou bestaan. Dit gee dus baie meer as net lig. Die son is die energie vir ons bestaan.
Jesus se lig is beslis nie net die lig aan die einde van die tonnel nie. En beslis nie die trein wat in aankoms is nie. Nee Jesus se lig is die bron. Die energie wat ons laat bestaan. Dit IS ons bestaan. DitJesus se lig is liefde wat ons ondervang en beskerm van alle kante maak nie saak wat die aanslag teen jou is nie (Romeine 8:37-39). Van die begin af was Hy die lig, sê Johannes. As Jesus se lig vir 'n oomblik moet ophou skyn, sal die ganse heelal tot vernietiging geruk word.
Jesus se lig is God se liefde. As God Sy liefde vir net 'n breekdeel van 'n breukdeel van 'n sekonde van die ganse kosmos moet ontrek, sal dit ophou bestaan. God se liefde is die lig, die energie, wat polsend deur elke stukkie van die gansheid klief om dit in stand te hou. Dieselfde liefde wat neerbuig en jou, ja ek en jy klein en nietige mensie, in Sy hand neem en red en versorg en onderhou.
God se lig skyn oor almal, sê die Woord. Gelowig en ongelowig. Genade op genade. Maar God het 'n spesiale groep mense. Sy volk - in die Ou Testament was dit 'n fisieke volk, Israel. In die Nuwe Testament is almal wat in Jesus glo Sy uitverkore volk. Deel van God in Christus.
En nou kom God en Hy skyn Sy lig in 'n besonderse manier deur Sy kerk in die wêreld. Ongelooflik soos dit is, werk God nie sonder mense nie. Ons en God is een in Christus. En God werk nie los van die kerk nie.
Die hartseer vir my is, dat aan die vooraand van 2015, die kerk deur die wêreld afgelag en afgeskuif word as 'n nikseggende argaïse instelling wat geen relefansie meer het nie. Maar die ergste van dit alles is dat mense in die kerk dit glo. Die kerk het so een geraak met die wêreld en ons kulture dat dit totaal en al irrelevant geword het. En ons praat nou nie van ons kleredrag nie, maar ons denke en optrede.
Dit is nie die kerk waarvan die Bybel praat nie. Nie die kerk wat Jesus kom vestig het nie. Die kerk is nie net nóg 'n godsdiens met nóg 'n spul reëls en regulasies en soeke na God nie.
Die kerk van die Nuwe Testament, die kerk wat Jesus agtergelaat het, die kerk wat Sy liggaam is, die kerk wat die Gees van God het, IS God op hierdie aarde. Ons IS Jesus se liggaam.
Die kerk IS God se krag. Is God se lig. Is God se verteenwoordiging.
Dit is hoe Hy besluit het om dit te doen. En daarom is ons nie net nog 'n spul wickey wackey klomp godsdienstiges nie. Ons IS die lig. As die wêreld nabyheid by God soek, sielerus van al hul arbeid en bekommernis, ware lewe na hy uitgewoed is in sy gierigheid en soeke na plesier en seks, uitgebrand van al sy filosofië en pogings om eksisteniële sin te vind, is die kerk daar.
Ons hoef nie slim te wees, sterk te wees of relevant te wees nie. Ons moet net lig wees. Net God deur ons laat skyn. As God se liefde skyn, verdryf dit alle vrees, alle afstand, alle pyn, alle gebrek, alle selfgeregtigheid, alle sinneloosheid en alle siekte.
My uitroep na God die Kerstyd is soos Jabez: "Vader seën ons dat ons u lig sal wees wat soos 'n soeklig, met u lig alle donker sal verdryf, dat wat ons doen u liefde sal wees. Bewaar ons van die pyn en drama, spot en vervolging van die wêreld. En gebruik my in u kerk om te vestig en te doen wat u my geroep het om te wees. "
No comments:
Post a Comment