"Het die klok vanoggend gelui?" vra Nadine.
"Nee, ek weet nie," antwoord ek en Laurance, "Ons het ook pas gestop."
"Het die klok gelui?" vra Karin 'n paar minute later.
'n Halfuur later sê Nadine: "Die klok lui nie. Die ketting is seker af."
Later bespreek ons nie die stil kerkklok. "Oom Mike sal maar in die toring moet loop opklim en die ding gaan regmaak," sê Nadine.
"O, weet hy hoe?" vra ek.
"Ja," sê Nadine, "Hy is gedurig daar bo in die toring."
Later wonder ons of iemand agtergekom het die klok lui nie. Die aand toe die klok 24:00 gelui het en 'n paar nabye inwoners wreed uit hul slaap wakker geruk is, het almal geweet die klok lui. Maar nou dat dit stil in die tydgleuf van die luiende kerklok is, wonder ons of dit ooit waargeneem word.
Die kerkklok en kerktoring is seker een van die duidelikste voorbeelde hoe 'n praktiese gebruik, sakraal en later godsdiens geraak het. Vandag het baie kerke genadiglik met die uitgediende gebruik gebreek. Maar nou begin ek wonder, kom mense nog agter die kerkklok lui nie meer in hul omgewing nie?
Bring luiende kerklokke mense kerk toe? Of hou dit mense weg? Bly mense weg as die kerkklok nie meer lui nie, of kom hulle juis?
'n Beierende kerklok is sekerlik die teken van lewe? Of is dit eerder dood? So as die kerkklok ophou lui, beteken dit die kerk is dood, of juis dat die kerk begin lewe?
Miskien het die tyd in die geskiedenis van die mensdom aangebreek dat die kerklokke ophou lui, maar die lidmate, as die kerk se lewende stene van vlees en bloed (1 Petrus 2:5), self die beierende kerklokke sal wees deur God se liefde helder in 'n soekende wêreld te laat lui.
No comments:
Post a Comment