Friday, 2 January 2015

My skadu volg my


Een van Koos du Plessis se gunsteling frases was: "Dis net 'n skadu teen die muur." Is dit nie dikwels die realiteit waarmee ons gekonfronteer word nie? Dikwels verkoop jy jou siel vir 'n saak, 'n luuksheid, iets wat jy as 'n noodsaaklikheid beskou, 'n droom kar, huis of vrou net om later te besef dit was net 'n skadu teen die muur,

Skadu's is eintlik fassinerende goed. Toe ek 'n kind was het my skadu my ure lank gefassineer. Ek het probeer om die skadu te vang, soms uit te oorlê of te verander. Jou skadu is jy, maar ook nie. Dis of langer of korter, soms dikker soms (genadiglik) dunner. Dit maak jou na. Karikatuur jou soms. En as jy dit moet letterlik opneem, sal dit jou beslis Groen Dakkies toe dryf.

Jou skadu vloei grasieus saam met jou. Sonder moeite. Jou skadu het nie nodig om te eet, te drink of te slaap nie. Soms is dit daar en soms...net weg. En tog volg dit jou sodra die son skyn of dit volmaan is. Jy kan hom nie ontvlug nie.

Jou skadu herinner jou eintlik dat jy hier is. Dat jy mens is van vlees en bloed. Jy kan voel, aanraak en proe. Jy kan elke oomblik van jou lewe geniet en die omgewing om jou. Jy kan elke oomblik koester, want jy besef die lewe is kort,

Soms kry jy dat 'n mens jou wil skadu. Dit kan tot erge spanning en angstigheid in jou lewe lei soos wat die wonderlike vrou in my lewe ervaar met sò 'n menslike skadu. Hoe gemaak om daai skadu te verwyder sonder om skade aan te rig?

2015 lê ook voor ons uitgestrek soos 'n skadu. Dis nog 'n skim. Tans is dit 'n baie lang skadu, maar soos die jaar vorder, word dié skadu al hoe korter totdat dit weer opgeslurp word in 'n nuwe lang skadu. Sommige mense glo jy kan die skadu presies uitwerk. Ander verkies om maar net saam met die skadu te vloei,

Ek dink die lewe is iets van beide. 'n Balans wat moet kom tussen leef in volkome afhanklikheid van God, maar nie passifisties nie. Jy moet weet waarheen jy op pad is. Wat jou visie en doelwitte is en hoe jy diensbaar gaan wees. Anders eindig die jaar ook maar net weer as 'n skadu teen die muur en jy wonder wat was die betekenis of wat het jy beteken.



1 comment:

  1. Dit is so baie special. Dankie daarvoor. Soms is skadus goed om jou te herinner dat jy nog bestaan, maar soms maak jou bestaan jou bang.Geniet elke oomblik ml en moenie dat enigiemand jou iets anders vertel nie. Leef vir die NOU en laat elke stukkie tyd insink en jou vervul met alles wat jy nodig het.

    ReplyDelete