Thursday, 1 January 2015

Leer in 2015 by ons dierevriende

2015 het aangebreek. die '14 is verby. Afgestof. Agtergelaat. Vir baie van my vriende en geliefdes was 2014 werklik 'n jaar vol uitdagings en opdraendes. Ekself het gedink 2013 was rof, maar 2014 het sy eie uitdagings ingehou.

Is dit nie interessant hoe baie mense nog moeg en selfs verslae op 31 Desember die ou jaar agterlaat om op die 1 Januarie met 'n nuwe huppel in hul stap die nuwe jaar te begroet nie? Dis asof die begin van 'n nuwe jaar nuwe lewensenergie, visie en veerkragtigheid in mense se lewens bring. Gewoonlik is dit van korte duur totdat mense weer in dieselfde roetines en slegte gewoontes vasgeval raak. En dan herhaal die siklus homself.

Tog is daar maar net sommige jare wat meer uitdagings bring. Die lewe gebeur. Die ekonomie vat n dip. Skuiwe wat plaasvind. Dalk die onverwagte tragedie soos dood of 'n ongeluk of 'n inbraak.

Gister het ek gereflekteer oor die dankbaarheid waarmee ons terugkyk na die jaar wat verby is. En inderdaad is daar so baie. En doen ons wat Paulus ons mee adviseer, "Wees dankbaar in alle omstandighede." Dit is een van die sleutels tot 'n lewe van oorwinning.


 
Die afgelope paar dae hou ek ons dierevriende so dop. En spesifiek so op Oujaarsaand. Soos my twee vriendjies hierbo wat net bo die studeerkamervenster in die pastorie besluit het om nes te skrop, of is dit bou? Die twee vintjies is te oulik om dop te hou. Hoe hulle heeldag woel en werskaf, rondvlieg en sing. Kommervry, tydloos en sonder gejaag. Beslis het die rotte van die rut race hulle verbygegaan.  Nie bekommerd oor die dood of die lewe nie, want hulle leef instinktiewelik uit die verstaan van God se versorging in en deur alles.

Op pad kerk toe vir die oujaarsdiens ry ek verby 'n Gemsbok wat wei. Ek gee die honde en die kat kos. En ek dink by myself, hulle weet nie dis die einde van 'n ou jaar en die begin van 'n nuwe jaar nie. Hulle gaan nie klappers skiet en partytjie hou nie. Hulle gaan maar net voort soos gister. Die een dag dieselfde as die vorige.

Nou God het ons as mense net bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak (Psalm 8), en daarom kyk ons met baie ander dimensies en redenasie vermoƫ na die lewe as ons dierevriende. Daar is emosies betrokke. En daarom kan ons feesvier. Ons kan die hoogtepunt van 'n nuwe jaar wat aanbreek waardeer en geniet. Maar is daar nie tog iets te leer uit die kommerloosheid waarmee ons dierevriende deur die lewe gaan nie? Hulle (ons troeteldiere) gee liefde en beskerming sonder voorbehoud. Diere verskaf plesier aan die mens. En ons kan dit geniet. Die Gemsbok wat wei, die kat wat op jou skoot kom purr, die hond wat jou met 'n opgewonde blink in die oog kom groet.

Dalk is dit net nodig dat ons, as mense, aan die begin van 2015 ook ophou bekommer, ophou dink die gejaag gaan ons erens bring en lewe gee, glo dat om ons lewe net op arbeid (werk) te mors gaan ons vrede, geluk en vervulling bring. Of ons gejaag na plesier, geld, seks en goed. Dalk is dit goed om net vir 'n slag te aanvaar dat ons as kinders (seuns) van God leef as Koninkryksburgers in 'n ander stel waardes waar daar werklik geluk, lag, vervulling, liefde en al die antwoorde reeds tot ons beskikkng is in Christus Jesus ons Here.

Dalk is dit tyd om oor te gee. Dalk bied 2015 juis aan ons diƩ beste jaar ooit wanneer ons so begin leef.

No comments:

Post a Comment