Wednesday, 31 December 2014

Refleksie op 2014


En so wals 2014 ook uit. Wie kan glo die jaar is verby? Dit voel vir my eerlik of dit gister laas jaar dié tyd was. Ek onthou nog hoe ek in Blouberstrand gesit en oor die jaar nagedink het. Later kerk toe en saam met vriende die nuwe jaar ingegaan. En hier is ons alweer aan die einde van nog 'n jaar.

In refleksie dink ek daar is baie hoogtepunte en ook die laagtepunte. Maar alles is deel van die groter prentjie om die jaar besonders te gemaak het. Die goeie en mooi en óók die uitdagings. Persoonlik moet ek eerlik sê ek is dankbaar vir die storms. Dit het my baie sterker gemaak. Perspektiewe gegee. En my weer by die kern van my wese gebring. En bo alles, baie dieper in Christus gewortel sodat ek nog stewiger kan bou op Hom, standvastig in my geloof. Die gemors is uitgegooi. Nou kan ek bly staan op die waarheid (les gister se blog).

En tot oorlopens toe vol van dankbaarheid. Op my verjaardag (ja kan jy glo, dié was ook al twee maande terug!) het ek 'n dankbaarheidsfees gehou. Want ons het net soveel om voor dankbaar te wees. Ek het. Ek het op daardie stadium 'n lysie gemaak van 50 goed waarvoor ek dankbaar kan wees. Daardie lysie het nou verder gegroei. Kan ons ooit genoeg dankbaar wees teenoor ons PAPPA Vader vir alles?

Een van die grootste hoogtepunte vir my was dat Liada 21 geword het. Ek kan nie glo my meisikind so groot geword het nie. Dit voel vir my eerlik soos gister wat sy gebore is en hier is my kind nou 'n volwasse vrou. En daarmee saam is ek so opgewonde oor haar studies wat sy in die nuwe jaar begin. Sy gaan Teologie swot met die oog op Maatskaplik. Ek sien met verwagting uit na hoe die Heilige Gees haar gaan lei. En ek weet PAPPA Vader het 'n wonderlike roeping vir haar en sien uit na die ontvouing daarvan in die komende jare.

Op Zarièlda is ek net so trots. Die ligstraaltjie van my is die jaar al derde jaar Agri-wetenskappe. Ek is opgewonde wat God ook in haar lewe doen en baie trots op haar verkiesing op die HK. Sy is so 'n voorbeeld vir almal, hardwerkend en werklik 'n liefdeskind.

Moeder het twee nuwe knieë gekry dié jaar en dit is 'n groot spanning wat weg is. Dankie Vader vir mediese tegnologie ook. Dit het haar 'n nuwe lewe gegee en ek glo sy gaan nog produktiewe jare voor haar hê.

Ag en dan is daar soveel wonderlike en spesiale mense in my lewe dat, as ek nou begin name noem, ek baie lang lyste sal maak. Maar dankie vir elkeen wat 'n besondere rol in my lewe speel en gespeel het en in die nuwe jaar gaan speel.

Daar is natuurlik ook groot challenges agter die rug. My son het by die Son gesak, maar dit was sekerlik my beste besluit wat ek kon neem. Die praktyk kom maar nog met rukke en stote aan die gang wat sy eie unieke uitdagings gebied het, maar hoe ongelooflik elke kliënt wat gehelp is!

Dan was daar wonderlike bedieningsgeleenthede deur die jaar. Ag elke mannesel en net wonderlike vriendskappe.

Daar was ook dom keuses, mense wat jy te na kom of seermaak al is dit nie jou bedoeling nie, tye wanneer jy nie in karakter en met integriteit optree nie. Jammer vir elkeen wat dalk 'n letsel deur my optrede of toedoen opgedoen het. Ek het daaruit geleer en gegroei. En so moes ek ook baie vergewe die jaar. Vryspraak en dankbaarheid is seker die twee grootste sleutels tot 'n lewe van oorvloed.

So, aan 'n ieder en 'n elk, die wat naby is én die wat 'n bietjie verder is, ja ook my vyande, 'n baie voorspoedige 2015 en mag julle elkeen in dié jaar dieper groei in Christus tot volwasse seunskap en meer van Sy beeld in jou lewe en in jou kerk reflekteer.

Tuesday, 30 December 2014

Meer as 'n oorwinnaar

Ek lees vandag 'n woord in 'n teks raak wat my een van daai "light bulb"-oomblikke gegee het. Is dit nie vreemd hoe 'n mens dikwels 'n teks lees, en dan soos in baie daai teks lees, en dan eendag spring daar net iets op wat jou laat uitskree: "Dit is dit!" nie? Of net die teks vir jou laat oopbreuk in 'n nuwe lig. Dat jy iets verstaan, 'n openbaring kry, wat nuwe dimensies soos golwe oor jou laat spoel. Nou dit was so min of meer my emosies vandag.



Ek beskou Romeine 8 as seker dié belangrikste hoofstuk in die Nuwe Testament. Omdat Paulus hier die essensie van ons lewe in Christus so kragtig kom saamvat. Daar is heelwat verse in dié hoofstuk wat ons gedurig aanhaal. Een van die verse is vers 37: Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ’n klinkende oorwinning te behaal – deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het. (NLV) 
Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. (OV)

Ek lees nog altyd die "Meer as oorwinnaars"-gedeelte raak. Staan daarin vas. Maar skielik lees ek twee baie belangrike punte vandag raak wat die vers se betekenis vir my totaal in 'n nuwe dimensie hier aan die einde van die jaar en die begin van 2015 plaas.

Eerstens IN Christus. Die oorwinning het niks met ons te doen nie. Ook nie met 'n algemene werk van Jesus of sy koms of al hieride algemene waarhede nie. Nee, ek IS meer as 'n oorwinnaar, behaal die oorwinning, wanneer ek IN Christus is. Dit is die kern van my oorwinning. Die feit dat Hy alreeds en ten volle dit vir my kom doen het en nou heers oor elke mag en gesag.

Maar dan, en hier is 'n ontsettende kragtige openbaring, hierdie oorwinning is net moontlik, of word net moontlik gemaak, en is net vir my verkrygbaar, meedoenbaar, in wandelbaar, deur dié feit van Christus se liefde. Sy liefde wat alle verstand te bowe gaan. Sy liefde wat vir die natuurlike, menslike verstand en wêreldling totaal onverstaanbaar, onbegrypbaar is, Sy liefde wat so hoog en diep en breed en lank is dat ons dit nie kan peil nie. 

Dit is ook nie algemeen maar net liefde nie. Nee die posisie wat ons as oorwinnaars in Hom beklee, is gevestig, vasgesemt in die bewys van Sy liefde in wat Hy reeds kom doen het. SY vernedering om as mens af te kom, Sy heerskappy, Sy sterwe en opstanding en hemelvaart. Dat Hy SY liefde so blatant sigbaar kom ten toon stel. Ek hoef dus nie te wonder van watter liefde Paulus hier praat nie. Nee dis reeds vas en seker in God se liefdesdaad in Christus vir my. Sy genade vir my.

Nou trek hierdie waarheid, van Sy liefde, deur na Kolossense 2:7. As ons in Christus se liefde, wat God se liefde is, en nou in ons is, gewortel of geanker is en op dit bou, dan SAL en KAN ek nie anders as om meer as 'n oorwinnaar te wees in elke liewe omstandigheid, aanslag, versoeking of krisis nie. Saamgevat, die lewe,

Gewortel beteken nie net dat ek soos die penwortel van 'n boom só stewig geanker is dat niks my kan beweeg nie al waai die wind my takke hoe deurmekaar, maar dat ek al dieper en dieper groei. Al vasser en vasser raak. En dat ek van daaruit ál my voedingstowwe en water kry wat ek nodig het om te oorleef. Dit laat my dink aan Psalm 1. Dan SAL ek groen en voorspoedig  wees, want Jesus is my bron. En Hy IS die water wat lewe gee sodat niemand weer sal dors nie en Sy woorde is die bron van lewe.

Maar ek is ook soos 'n gebou wat op 'n stewige fondasie staan. Vas, onbeweeglik en 'n skuilplek en vesting. God se liefde gee vir ons dié vastigheid. Die onbeweeglikheid en maak ons 'n veilige hawe vir ander.

En soos wat ek, in geloof met dankbaarheid wat oorloop, dieper gewortel raak in Christus en vas staan op Christus, IS ek meer as 'n oorwinnaar maak nie saak wat die aanslag op my lewe is nie. Of dit die aanslag van goeie tye met die versoeking van gemaksigtigheid, selfbeheptheid, arogansie en verwaandheid is en of dit die krisis van 'n storm is, ek kan vasstaan as 'n oorwinnaar. Ek kan die stryd aanvat en daar uitstap met die goue belt hoog bo my kop. 

So, Jesus se liefde het ons oorwinnaars gemaak in 2014. Ons het oorleef. Ons is hier. 
Maar nou kan ons 2015 aanvat met 'n nuwe ingesteldheid. Ons kan vasstaan as oorwinnaars en ons kan weet, dit is Sy liefde wat ons laat oorwin. Niks anders nie.

Monday, 29 December 2014

Geestelik hoog, maar stewig gegrond (#4)



Daar is 'n ou grappie dat die Doppers in Potch vir die studente gesê het dis okei om te dans, solank jy dit net nie geniet nie. Wat dié storie goed oorbring, is die miskonsepsie dat om geestelik sterk te wees, spiritueel te wees, beteken om 'n boring, ernstige en uitsiglose lewe te leef. Dat diesulkes se koppe die hele tyd in die wolke is.

Ek het al 'n paar blogs gedoen oor die vraag na spirtualiteit en ons lewens. Ek het gehoop daar sal meer respons en saamgesels wees, maar ek hoop ons kan 'n gesprek hieroor aan die gang kry. Maar vandag wil ek bietjie verder gesels oor die lewe van 'n kind van God.

Eerstens is dit belangrik dat ek net weer baie duidelik 'n onderskeid hier tref. Ek praat nie van godsdiens nie. Om die waarheid te sê, bogenoemde stellings is sekerlik waar van godsdienstigheid. Die realiteit is dat enige geestelike praktyk godsdiens kan word as 'n mens nie versigtig is nie. Maar ware spiritualiteit is myle van godsdienstigheid verwyder. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat God 'n intense afkeer aan godsdiens het.

Met 'n geestelike lewenswandel of spiritualiteit bedoel ek 'n lewe saam met God, deel van God, in God deur Jesus. Jesus is die grootste inklusiewe liefdesdaad wat God kon doen. Godsdiens maak Jesus eksklusief. Asof Hy net bedoel is vir sekere uitverkorenes wat aan seke menslike dogmas en voorwaardes en rituele voldoen. Die Jesus van die Bybel is allermins dit.

Om die waarheid te sê, ek wil sover gaan om te sê dat die ou mooi prentjie wat ons so dikwels teken van God in die middel, mis die hele punt. In dié voorstelling trek ons 'n ronde sirkel met 'n sirkel in die middel van waaruit wawiele geteken word wat die verskillende fasette van ons lewe verteenwoordig. Ek weet, ons probeer met verskillende voorstellinge die verskeie dele en rolle in ons lewe verklaar en in plek kry. Dalk is ons probleem juis ons Westerse dualisme waar ons die leuen wil glo dat die verskillende dele van ons lewe nie mag oorvleuel of interaksie mag hê nie. Asof ek, wat ek glo in politiek en kerk onder andere, geskei kan word. Dit is wanneer ons begin sê my godsdiens is 'n private saak. En dit is juis die probleem. Dit is godsdiens. Een van die wawiele. En as jy nou mooi piëtisties is, dan sal God die middelste sirkel uitmaak. En godsdiens is 'n speek van die sirkel.

Of nog 'n ergenis in ons Westerse denke is die hierargiese sisteem. Hier probeer ons dit só hanteer: God is die belangrikste in my lewe (asof dit ooit waar is) en dan my vrou en dan my gesin en dan kom my werk en so aan. Regtig? En dan kom ons met mooi stellintjies soos: Dit waaraan ons die meeste tyd spandeer, bepaal ons lewe en dan voel almal skuldig want die meerderheid mense se lewe wod 80% van die tyd opgemaak deur die werk.

So wat is 'n geestelike lewe of spiritualiteit volgens die Bybel? Ons lewens is tog geïntigreer. Elke deel van jou is deel van die geheel van jy. Jy kan nie wie jy is probeer marginaliseer en in kassies plaas nie. Die grootste probleem met bogenoemde twee modelle is heelwaarskynlik dat dit fokus op take of rolle of funksies, nie op wie jy is nie. Ons het dalk al sulke gesplete persoonlikhede ontwikkel en gedistansieër geraak met ons eie is, dat ons net in terme van funksie kan dink.

Paulus som dit die beste op in Handeling 17:28 - Dis tog juis deur/in Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan. 
Ons is een met Jesus en een met God. Individueel én as kerk (later meer hieroor in 'n volgende blog). Dit beteken jy adam God se asem. God is nie maar net 'n deeltjie van my lewe as 'n kind van Hom nie. Hy is beslis nie godsdienstige handeling nie. Nee God se wese is nou deel van my.

So beteken dit ons moet heeldag in meditasie en gebed sit, Bybelstudie doen, ernstige gesprekke mee besig wees? Beteken dit ons moet vaal, vervelig en uitsigloos wees?
Ek dink juis die teendeel. God is vol humor. Soos God vir Job sê, kyk na die seekoei, sy stert is so reguit soos die seder, sy boudspiere inmekaargevleg (40:12). Ek dink dit is baie snaaks.
Jesus het nie geskroom om na 'n bruilof te gaan en water in wyn te verander nie. God is kleurvol. Kyk net na die blomme en plantegroei. Ek wil nie nou hier in te veel detail ingaan nie. Die  punt wat ek wil maak, is dat God het die mens na Sy beeld geskape. Die vrug van die Gees is juis 'n goeie ontspanne lewe.

En ons, individueel en as kerk, as beeld en liggaam van God, moet die lewe wat Hy vir ons kom gee het, geniet. Voluit. Die wêreld het 'n opsessie met "happiness", geluk, ontwikkel. Almal soek na geluk en alles moet na happiness lei. En dan word dit gesoek in alles behalwe die bron. Die vrug van die Gees is onder ander vreugde. Maar die beeld van God wat die wêreld dikwels het, is 'n spul vaal dansers sonder genot en lewensritme.

Ek dink die kerk, kinders van God, moet die voorbeeld stel van 'n voorspoedige, uitbundige gelukkige en vrugtevolle lewe. Dis tyd dat ons as kerk ophou antwoorde soek in die wêreld en die trends probeer navolg en weer terugdraai na die Bron. En leef soos Hy bedoel het dit moet wees en dit in Jesus kom herstel het.

Sunday, 28 December 2014

Met dankbare harte


Ek wil vandag sommer net skryf oor dankbaarheid. Vanoggend se diens het ook gegaan oor dankbaarheid vir die jaar wat verby is en al die goeie wat ons uit God se genade ontvang het.
Wanneer 'n mens begin sien hoe groot God se genade is, hoe hy jou dra deur en in alles, hoe meer wil jy net met 'n dankbare hart uitjubel: "DANKIE VADER."

Dink daaraan, en dit is iets wat ek vir solank self misgekyk het, maar hoe God nie net in die algemeen vir ALLE mense sorg nie, of dié Hom nou erken en liefhet of nie, maar hoe God juis Sy versorging en genade soms oor almal uitstort ter wille van Sy kinders. 

Wow dink daaraan. Omdat God jou wil seën as Sy kind, net omdat Hy uit Sy liefde wil, sorg Hy eintlik vir almal uit Sy genade. Dat daar werk is, dat almal veilig is, dat dinge goed gaan, al is dit nie altyd soos ons daarvan hou nie.

En dadelik hoor ek sommer al die teenargumente. Ons is mos geneig om eerder in dit wat verkeerd, negatief en sleg is vas te kyk. Al die "wat asse" te wil uitlig. Of dat sommige plekke dit nie gemaak het nie. Sommige mense afbetaal is. 

Ekself het my hardste les geleer in 'n baie moeilik werkplek onder baie moeilike omstandighede. Om vas te staan. Om my gesindheid reg te kry en te hou. Om dankbaar te wees. Ek het die breek gemaak toe ek oortuig was die tyd is reg omdat ek 'n loopbaanskuif moet maak. So ja, ek weet van moeilike werksomstandighede met onregverdige, egosentriese en selfs onbeholpe bestuurders en direkteure. Waar winsbejag, tipies Westerse kapitalisme, 'n groter rol speel as die lewens van mense. Waar die aan die onderpunt van die voedselketting net nog verder op getrap en misbruik word sodat sogenaamde "doelwitte" behaal kan word.

Maar selfs te midde van die wêreldse ingesteldheid van goddelose bestuur, net soos 'n goddelose regering, sê God dat Hy ook dit in Sy hand het en beheer. Dink aan Jesus se woorde aan Pilatus toe Hy aan hom gesê het op Pilatus se stelling dat hy die mag het om Jesus te kruisig al dan nie, dat hy geen gesag sou gehad het as dit nie van bo aan hom gegee is nie.

Nou weet ek ook dat baie mense op hul agtervoete spring en sal vra, maar hoekom verander God dit dan nie. My vraag is, hoekom moet Hy. Of die ou geykte argumente van so baie mense as hulle net wil wegskram van hul eie verantwoordelikheid en aandeel om te vra as God dan 'n God van liefde is, hoekom verander Hy dit nie ens...Regtig? As God se liefde nié hier was nie, wat sou dan gebeur het? Ek gaan nie hier eers probeer om dié argumente te besleg nie. Dit is 'n blog vir 'n ander keer. Die tragedie is net, as mense regtig die moeite gedoen het om God te leer ken, sal hulle nie sulke sinnelose goed kwytraak nie.


Terug na my punt, die opdrag wat ons kry is baie duidelik - om ALTYD in ALLE omstandighede dankbaar te wees en so vol te word van dankbaarheid dat dit uiteindelik oorloop. Dis ons opdrag om dankbaar te wees en dit te laat oorloop. God gaan dit nie vir ons doen nie. Ons moet 'n keuse maak om so te leef en dit elke dag te doen. 

Ek het geleer om deur alle omstandighede dankbaar te wees. In 'n werksopset, in persoonlike hoedanigheid en ook in die goeie tye. Dankbaarheid wanneer dinge taai gaan, bring deurbrake. Dankbaarheid wanneer dinge goed gaan, bring verantwoordelikheid en afhanklikheid. Want alles kan môre weg wees.

En hier waar ons vandag die laaste week van 2015 betree het, kyk asseblief saam met my met 'n dankbare hart terug na 2014 en sien saam met my met verwagting en danlkbaarheid uit na die goeie in 2015.

Saturday, 27 December 2014

Refleksie na my vierde week in Oranjemund


Ek kan nie glo 'n maand is reeds verby nie. Ek is reeds vier weke in Oranjamund. Dit voel soos gister wat ek hier aangekom het. My eerste blog geskryf het.

Ek veronderstel so vinnig as wat die tyd gevlieg het om alles gedoen te kry om hiernatoe te kom, so vinnig sal dit seker verbygaan terwyl ek hier is. En dit het. Daar is nie meer veel tyd oor nie. Ja voor ons almal ons oë uitvee, is dit die einde van die eerste maand van 2015. So kom en gaan die tyd.

Tog was dit 'n wonderlike tyd sover. 'n Bederftyd aan die een kant, maar 'n tyd waar ek wonderlike nuwe mense leer ken het, nuwe dinge geleer het en spesifiek 'n ongelooflike luistertyd met die Heilige Gees beleef het. Dié tyd is nog nie verby nie. Daar is nog 'n paar dinge wat moet gebeur, wat ek moet hoor en waaroor ek nog stil is en op die Here  wag.

Die afgelope week was die afsluiting van die meeste van die sake waardeur ek die laaste tyd gewerk het. Baie ou gebeure, vals en verkeerde oortuigings, woorde, seer en dies meer het ek agter my gesit, begrawe en nou los ek dit daar. Afgehandel. Maar ook het nuwe sekerhede, oortuigings en toekomsverwagtinge al meer gevestig begin raak.

Die tyd is hier en dít is om terug te gaan na waar ek geroep is om te wees en myself te gee in God se werk. Hoe, waar en wat die pad tot daar is, weet ek nog nie. Maar ek is seker dit sal of nou of in die nabye toekoms vir my duidelik gemaak word.  

So het Kersfees ook die week gekom en gegaan. En ek het 'n wonderlike stil tyd beleef saam met nuutgevonde vriende. Nou snel ons na die einde van die jaar terwyl ons met dankbaarheid terugkyk na die afgelope jaar wat verby is. Al was dit rof en moeilik, kan ons nie anders as om met 'n gesindheid van dankbaarheid te leef en net te besef hoe ongelooflik God se liefde was nie.

Ek het weer goeie gewoontes die afgelope vier weke gevestig. Sommige wat ek wou nie heeltemal soos ek beplan het nie, maar ek het meer gekry as wat ek voor gehoop en gevra het. Dit is nou vier weke wat ek weer byna elke dag gehardloop het. En dit is lekker om te voel ek word weer fikser. Dis heerlik om mense se liggaam te onderwerp aan die dissipline, maar ook te doen wat noodsaaklik is om gesond te wees.

Ek het net weer besef, begin net die regte ding, gewoonte, affirmation, denke, verhoudings en voor jy besef is jy op die wenpad, besig om 'n blink toekoms te skep.

Balans is van die uitserste belang in ons lewens. Ek het begin om weer balans te begin vind die afgelope maand. Ek sien uit na die aftelling na die einde van die jaar. Ek glo 'n blink 2015 wag op ons almal, vol seën en voorspoed.

Friday, 26 December 2014

Reën in die Mund

Die dag na Kersfees is altyd 'n interessante tyd. Al die oploop na Kersfees, die hype, die kuier en (oor)eet is nou 'n dag agter ons. Sommiges het opgestaan met babelas. Ander met vervulling. Ander met die wete die lang pad moet weer aangedurf word. Kersfees word skoon weggeboks.

Hier in Oranjemund was dit maar stil vandag. Dit is ook een tyd in die jaar wanneer 'n werkende dominee nogal skarrel. Vier dienste volg kort opmekaar. En tradisioneel is die Sondag tussen Kersfees en nuwe jaar 'n dooie tyd in baie kerke,

So het 'n deel van my Boxing day, tweede Kersdag in voorbereiding en oefen ingegaan. Sondag is om die draai.

Nog 'n interessantheid het vandag egter hier in Oranjamund plaasgevind. Laatoggend trek die wolke toe en toe beleef ek wat iemand vir my skryf 'n seldsame weerstoestand is. Ja dit reën. Heerlike groot druppels. Vars en vervullend hier in die woestyn.



En met die varsheid en seldsaamheid gaan ek vannaand min woorde hê en net die rustigheid en stilte geniet en waardeer.

Thursday, 25 December 2014

Ons is Kersfees


Die tema van my Kersdiens vanoggend was, "Die liefde het afgekom." Ek hoor nou die dag die volgende storie, wat ek vanoggend ook vertel het, van die sakeman wat in China kom oor Kerstyd. Baie verbaas sien hy oral kersbome in die winkelvensters. Hy keer toe 'n man voor wat met 'n boom onder die arm by 'n winkel uitgestap kom en vra hom daarna. "Vier julle dan Kersfees?" Sê die man vir hom: "Me, Christmas Christian."

Wat vermy weereens verstom het vanoggend, hoe moeilik dit vir mense is om God se vry genade en liefde net te ontvang en te vat. Om net te aanvaar dit word gratis, verniet en vrylik aan jou geskenk.
Het die wêreld sisteem ons al so verblind dat ons nie glo dat enigiets hoegenaamd gratis kan wees nie?

Ons sê so maklik: "Daar is nie iets soos niks vir niks nie." Maar die koninkryk werk anders. God se sisteem werk anders. Daar is iets soos niks vir niks. Die feit dat God mens word in Jesus is die grootste bewys van niks vir niks. Hy kom stort ál sy liefde op ons uit. Jy kan dit nie verdien nie. Jy kan nie daarvoor werk nie. Jy kan dit nie beslis nie kry deur die wet na te kom nie. Jy kan dit net vat in geloof.

Daar is net twee keuses, wet of genade, slaaf of seun van God, ou verbond of nuwe verbond, Ou Testament of Nuwe Testament.

En selfs in die midde van dié heilige koei, (en vergewe my asseblief as jy groot Kersfeessentiment het) van 'n afgewaterde vrede-kind-in-die-krip-booodskappie waaraan Christmas Christians vasklou, wat kom sê dié kind is gebore as verlosser, verstaan mense nié die evangelie nie. Dat mense dié gratis geskenk van God se liefde net in geloof kan aanvaar.



Kersfees kom wys God se liefde vir ons, want Hy gee dit gratis en verniet en dit is oneindig magtiger en groter as wat ons kan begryp...dit gaan alle verstand te bowe sê Efesiërs 3. As gevolg van Kersfees kan ons liefhê. Dit is wat die kerk is, Jesus se liggaam wat God se liefde nou in die wêreld is. En daarom is ons Kersfees.

My gebed is: As ons net een waarheid uit Kersfees in 2015 kan indra, is dit dat die Liefde afgekom het aarde toe sodat ons Kersfees elke minuut van die dag in ons huwelike, gesinne, families, kerk, werk en die wêreld kan wees. Die wêreld gaan nie begin glo en jong mense gaan nie weer na die kerk terugstroom as ons nie begin om Kersfees te wees nie. Dit is waarna elke mens smag, om God se liefde sigbaar gemanifisteer te sien. Dít is wat "herlewing" sal bring, 'n Kerk wat is wat sy geskep is om te wees: God se liefde wat afgekom het.

Wednesday, 24 December 2014

Krismis in die Mund


Krismisliggies teen die straatlampe. 'n Winkel met 'n lang ry mense vir laaste minuut Kersinkopies. Oukersaanddienste en Kersoggenddienste. Kersetes in die restaurant.
Wat is anders aan Kersfees in Oranjamund?

Eintlik niks. Oral is Kersfees maar dieselfde waar mense bymekaarkom as gesinne en families op Kersdag. Sommige het spesiaal gery. Party ver, ander naby. Ander het weer hul huise se deure oopgegooi en familie ingenooi.

Vir sommige is Kersfees 'n godsdienstige fees. Party probeer 'n skeefgetrekte, materialistiese feestyd met 'n Christelike sousie toegooi en dit terugbring na 'n wortel wat eintlik nooit was nie. En tussendeur is daar die Christmas Christians.
Daar is die wat 'n veer voel oor die Christelike boodskap van Kersfees. Vir sekeres is dit net nog 'n geleentheid om vrolik te wees en te kuier.

Vir die kinders is dit 'n groot joligheid. Speeltyd saam met nefies en niggies wat lank laas gesien is. Geskenke wat hartjies laat warm klop. Die afwagting van 'n geskenk saam met die blink liggies van die Kersboom.

Tafels kreun in baie huise onder die massas kos. Daar word gekuier met vleise, slaaie en poedings wat die mond laat water en die oë na die tyd laat traan.



Hoe dit ook al sy, tussen almal deur is daar dieselfdes oral in elke dorp en stad. Maar wat ook al 'n persoon se sentiment oor Kersfees, dit is 'n tyd  van afskakel. Vergeet van die jaar se sorge en dramas en deel in sy vreugdes. Dit is 'n tyd van vreugde, al is dit net vir die oomblik.

Kerstyd is ook 'n tyd van eensaamheid en hartseer vir baie. Depressie weens alleenheid of ander redes. Baie dink met hartseer herinneringe aan geliefdes wat in die tyd aan die dood afgestaan is. Of mis die eerste Kersfees sonder 'n spesiale persoon wie se plekkie aan tafel en in hul harte nou leeg is. Of dalk 'n tweede of derde Kersfees sonder daardie spesiale persoon in hul lewe.

Tog is Kersfees vir die hele wêreld die teken van hoop. Gelowig en ongelowig hou vas aan die lig wat gekom het en elke dag oor almal skyn. Dié lig wat gekom het om lewe, vrede en vervulling te bring. 'n Lewe van oorvloed, Goeie nuus aan die wat arm is van gees, siel of liggaam. Vrylating vir die wat gevange gehou word deur enige "tronk" waarin hul vasgevang is. Wat blindes laat sien dat daar wel lewe in Hom is. Om onderdruktes te bevry en om te sê die tyd waarin God se goedheid en genade vrylik beskikbaar en sigbaar is, is hier.

Dit is Jesus, die lig vir die wêreld. En of jy nou in Oranjamund, Kaapstad, Krugersorp of waar ook al in Namibië, Suid-Afrika of in die wêreld is, of jy saam met 'n geliefde, jou gesin of familie of vriende is of alleen is dié Kersfees, mag jy die vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar omdat jy in die opgestane en opgevaarde Christus is. En mag almal verstaan dat Kersfees eintlik niks met 'n geboorte te doen het nie, maar met die feit dat God se ongelooflike, onverstaanbare liefde, Imanuel is, God met ons.

Tuesday, 23 December 2014

God se vuurtoring

Kerstyd is liggietyd. Oral word ons verras met liggies. Flinkerende warmte verwelkom jou in voorheen donker strate, vaal winkels en sentrums en vrolik andersinds vervelige huise op tot 'n feestelikheid. Ek is mal oor die liggies in Kerstyd. Die een tyd in die jaar wat 'n nuwe gees geskep word en ons herinner dat te midde van die donker, daar 'n helder lig skyn.



Gister het geskryf oor die lig en donker in terme van ons spiritualiteit. God se lig skyn in en deur ons. Ons hoef net Sy lig te weerkaats. Oral waar ons beweeg verlig God 'n donker wêreld.

Vanaand wil ek hier aan die vooraand van Kersfees verder oor lig en donker mediteer, maar dié slag in terme van die kerk. Hierdie slag gaan ek maar net liggies hieraan raak. Ek beplan om later terug in die Kaap 'n blogreeks oor die kerk te begin skryf. Nie vanuit 'n negatiewe oogpunt nie, maar juis vanuit die die standpunt, "waarom glo ek (nog) in die kerk."

Soos kersliggies 'n andersinds donker, verbeeldinglose  dorp kan ophelder, kom verlig God 'n donker, soekende wêreld, godsdienste, filosofië en mense se donker harte. Sy lig is die enigste hoop. Dit gee hoop waar daar andersinds geen hoop is nie. Lewe waar daar nie eers meer 'n sprietjie gestaan het nie en droogte die aarde laat uitbars in pynlike skurwe velle.

Jesus kom as die lig. Hy alleen kan waarlik lig laat skyn. Ons kan ligte aansit, kerse brand, spotlights skyn, maar ons kan nie die son vervang nie. Wanneer ons die krag afsit of die kers uitblaas, is die donker terug. As die son vir 'n breukdeel van 'n sekonde moet ophou skyn, sê die slim mense vir ons, sal die aarde ophou bestaan. Dit gee dus baie meer as net lig. Die son is die energie vir ons bestaan.

Jesus se lig is beslis nie net die lig aan die einde van die tonnel nie. En beslis nie die trein wat in aankoms is nie. Nee Jesus se lig is die bron. Die energie wat ons laat bestaan. Dit IS ons bestaan. DitJesus se lig is liefde wat ons ondervang en beskerm van alle kante maak nie saak wat die aanslag teen jou is nie (Romeine 8:37-39). Van die begin af was Hy die lig, sê Johannes. As Jesus se lig vir 'n oomblik moet ophou skyn, sal die ganse heelal tot vernietiging geruk word.

Jesus se lig is God se liefde. As God Sy liefde vir net 'n breekdeel van 'n breukdeel van 'n sekonde van die ganse kosmos moet ontrek, sal dit ophou bestaan. God se liefde is die lig, die energie, wat polsend deur elke stukkie van die gansheid klief om dit in stand te hou. Dieselfde liefde wat neerbuig en jou, ja ek en jy klein en nietige mensie, in Sy hand neem en red en versorg en onderhou.

God se lig skyn oor almal, sê die Woord. Gelowig en ongelowig. Genade op genade. Maar God het 'n spesiale groep mense. Sy volk - in die Ou Testament was dit 'n fisieke volk, Israel. In die Nuwe Testament is almal wat in Jesus glo Sy uitverkore volk. Deel van God in Christus.

En nou kom God en Hy skyn Sy  lig in 'n besonderse manier deur Sy kerk in die wêreld. Ongelooflik soos dit is, werk God nie sonder mense nie. Ons en God is een in Christus. En God werk nie los van die kerk nie.

Die hartseer vir my is, dat aan die vooraand van 2015, die kerk deur die wêreld afgelag en afgeskuif word as 'n nikseggende argaïse instelling wat geen relefansie meer het nie. Maar die ergste van dit alles is dat mense in die kerk dit glo. Die kerk het so een geraak met die wêreld en ons kulture dat dit totaal en al irrelevant geword het. En ons praat nou nie van ons kleredrag nie, maar ons denke en optrede.

Dit is nie die kerk waarvan die Bybel praat nie. Nie die kerk wat Jesus kom vestig het nie. Die kerk is nie net nóg 'n godsdiens met nóg 'n spul reëls en regulasies en soeke na God nie.
Die kerk van die Nuwe Testament, die kerk wat Jesus agtergelaat het, die kerk wat Sy liggaam is, die kerk wat die Gees van God het, IS God op hierdie aarde. Ons IS Jesus se liggaam.
Die kerk IS God se krag. Is God se lig. Is God se verteenwoordiging.

Dit is hoe Hy besluit het om dit te doen. En daarom is ons nie net nog 'n spul wickey wackey klomp godsdienstiges nie. Ons IS die lig. As die wêreld nabyheid by God soek, sielerus van al hul arbeid en bekommernis, ware lewe na hy uitgewoed is in sy gierigheid en soeke na plesier en seks, uitgebrand van al sy filosofië en pogings om eksisteniële sin te vind, is die kerk daar.

Ons hoef nie slim te wees, sterk te wees of relevant te wees nie. Ons moet net lig wees. Net God deur ons laat skyn. As God se liefde skyn, verdryf dit alle vrees, alle afstand, alle pyn, alle gebrek, alle selfgeregtigheid, alle sinneloosheid en alle siekte.

My uitroep na God die Kerstyd is soos Jabez: "Vader seën ons dat ons u lig sal wees wat soos 'n soeklig, met u lig alle donker sal verdryf, dat wat ons doen u liefde sal wees. Bewaar ons van die pyn en drama, spot en vervolging van die wêreld. En gebruik my in u kerk om te vestig en te doen wat u my geroep het om te wees. "

Monday, 22 December 2014

Geestelik hoog, maar stewig gegrond (#3)

Hoe paar jy jou Spitualiteit, of anders gestel, jou belewenis van God, jou wandel met God, jou manier waarop jy God se stem hoor en naby Hom is, met jou daaglikse lewe?

Die uitdaging glo ek is om so naby God te leef, dat jy sy asem teen jou kan voel. God sê Hy is by ons in Sy Gees. Dit is hoe Hy werk, nie met donderslag en vuurwerke nie (wat sommer, as 'n kantlyn opmerking, daai mense in die bek ruk wat so graag wil beweer iets is "An act of God" en die wêreld wil veroordeel as natuurrampe en dies meer plaasvind. Of daai wat God se liefde wil bevraagteken uit diesulke gebeure.)

Verder sê God vir ons Hy praat deur die stilte, die fluistering van die Gees. 'n Mens moet baie fyn luister om God se stem te hoor. Hoekom, want God antwoord die wat Hom soek. Hy skreeu nie soos 'n popster of DJ so hard as moontlik oor 'n reuse-klankstelsel nie. God het nie populariteit nodig nie. God praat met enige mense wat op Hom ingestel is.

Soos in my huis. Somige radiostasies wil nie binne my huis opvang nie en ander vang baie sleg op. Jy moet soms instel en instel. Voor jy jou kan kry, is daar weer 'n suising. 'n Steurnis. En dan moet jy weer fyn instel. As jy 'n helder, duidelike uitsending wil hoor, moet jy baie fyn instel. So is om na God se stemm te luister. Dis so fyn soos wanneer jy die fyn ritselinge deur die blare hoor. Wanneer jy 'n skoenlapper verby jou oor hoor vlieg.

Om dus naby God te leef geestelik, vra 'n uitdaging in ons moderne, stadsgejaagde, rut race lewens. Iemand het eendag gesê die Duiwel het die wapen gekry om die kerk te vernietig. Maak Kinders van God se lewens so vol en besig dat daar nie tyd is om by God stil te word nie. En hoe waar is dit nie.

En dit is die kern van my vraag in dié blogs. Hoe kan ek so fyn ingestel op God leef, maar tog met my daaglikse verantwoordelikhede en werk voortgaan en ook nog die lewe hier, op aarde, geniet.

Die Prediker se konklusie is duidelik. Geniet jou lewe op aarde. Maar nie sonder God nie. 'n Lewe van oorvloed is tot jou, as kind van God, se beskikking, maar net bereikbaar IN Christus. In die wingerdstok. Nerens anders nie. So die vraag gaan nie oor teenoorgesteldes nie. 'n Genotvolle lewe op aarde is deel van 'n passievolle verhouding met God.

In die moderne wêreld is nog 'n leuen waarin ons vasgevang geraak het, kompartilisme. Ons wil alles in hokkies sit.



Maar wanneer jy in Christus is, is jy in die lig. Hy sê: "Ek is die lig van die wêreld." "Mense sal na My toe getrek word soos na die lig." "In U lig sien ons die lig." "U Woord is die lig op my pad." 'n Kind van God leef dus 'n lewe in die lig in 'n wêreld gevul met duisternis. En so lees ek hierdie stunning vers raak: Psalm 139:11-12 - "11Sou ek sê: “Mag duisternis my oorweldig en die lig nag word rondom my,” 12dan is die nag vir U nie donker nie, maar is so helder soos dag,want duisternis is vir U soos lig."

In die konteks sê die Psalmdiger hoe onmoontlik dit is om van God af te vlug, want Hy IS oral. En so ook in my ergste duisternis. Dalk ken jy daai gevoel wanneer jy wens dit wil liewer net nag word. Maar ook daar is God, want nie net IS Hy die lig wat alle duisternis vernietig en verdryf nie, vir Hom is selfs die donkerste nag so helder soos dag.

Ons, as Sy kinders IN Hom, IS weerkaatsers van Sy lig. Soos sterre wat die son se lig reflekteer. So al is jou omstandighede, of waar jy woon en werk donker, is dit nie nag nie, want jy, as deel van God, bring lig in elke plek en omstandigheid.

Dus, ek hoef nie enige religuese handeling en godsdienstige skynheilighede op te dis om "anders" te wees in die donker wêreld nie. Ek moet net God se lig weerkaats. God soek juis nie super godsdienstiges nie. Ons weet wat noem hy diesulkes. God soek gewone mense met gewone lewens wat bewus is van hul afhanklikheid van Hom, in geloof uitstap en verby die wêreld en sy sisteme en kragte, in die oorwinning van Jesus  leef en daaroor heers in 'n lewe van oorvloed.

Fyn ingestel op God kan ons gelukkig, vrolik, saam met goeie vriende en jou gesin en familie, elke dag jou werk geniet, jou ontspanning, sport en waar jy ook al beweeg of doen Sy lig reflekteer.

Sunday, 21 December 2014

Krom stokke is vir God bruikbaar


Op Kweekskool het die slim ooms altyd vir ons gesê God slaan 'n reguit hou met 'n skewe stok. Menende dat God ons kan gebruik ten spyte van wie ons is. Enigeen wat in die bediening is, sal kan getuig dat dit waar is. Veral in my nuutgevonde ontdekking van my eie perfeksionistiese neigings wat my terughou. Ek besef dat jy nie perfek hoef te wees om een vir God te werk en twee om bruikbaar te wees nie. Juis nie, want, sê Paulus, hoe swakker ons is, hoe meer kom God se krag na vore.

Die ander kant daarvan is natuurlik dat dit nooit enige verskoning vir ons is om nie ons beste te gee, uitmuntend te wees of swak verskonings te gebruik as ons nie ons beste gee nie. Paulus en Jakobus en dalk van die ander Bybelskrywers ook, is baie duidelik dat dié wat voorgaan en die Woord verkondig hoër geag word en aan strenger vereistes onderwerp word.

Met baie respek aan die slim ooms, wat hulle egter dikwels bedoel het met dat ons dikwels krom stokke is, is swak eksegese. Nou natuurlik, as 'n verantwoordelike teoloog en prediker, moet jou eksegese noukeurig en goed wees, maar 'n lewensopbouende en veranderende preek kom beslis nie van goeie eksegese alleen nie. Daarvan kan leeglopende kerke, Christene se lewens getuig wat nie 'n lewe van oorvloed reflekteer nie en "honger" Christene wat in tradisies en godsdiens vasval. En ek reflekteer nie op enige denominasie persei nie. Dit kan op enige plek gebeur.

Om met 'n krom-stok-mentaliteit te leef is ook nie heeltemal waar of aanvaarbaar nie. Dis genade om te besef God kan jou gebruik ten spyte van jouself, jou oomblikke, moeilike tye, selfs sonde, want dit is immers Sy Woord wat verkondig word, is nie 'n verskoning nie. Die krag lê in God se Woord, nie die boodskapper nie.


Die krag van 'n goeie, lewensveranderende, opbouende, uitsturende boodskap lê in 'n paar dinge. Eerstens, ja goeie eksegese. Maar nie akademies gedrewe kopkennis eksegese alleen nie. Dit ookk. Maar verder eksegese wat kom uit 'n wandel met God. 'n Sit met die Woord. Mediteer oor die Woord en met die Gees van God. Tweedens, die Gees. Wanneer Paulus praat oor waarmee ons bou, goud, klip of hout ens. (1 Kor.3:12), dan verstaan ek 'n deel van die 'ons' verantwoordelikheid is juis die hoeveelheid wat die Heilige Gees werk, in en deur ons. Van die voorbereiding tot by die lewering. Verder is dit belangrik dat die preek geleef is en geleef word. So dikwels preek ons 'n mooi en waar boodskap, maar dit het nog nie in ons eie lewens vergestalting gevind nie. Dan is dit maar net 'n mooi retoriek. 'n Goeie akademiese oefening.

Ek het weer vanoggend deel 3: Vuurgesifte denke lei tot keurige woorde, oor gepreek. En ek besef hoe staan ekself nog op die punt van die ysberg met die integrasie daarvan in my lewe. In alle opsigte. En dit spreek myself harder aan as enige hoorder. Walk the talk brother.

Gelukkig, wanneer die Woordverkondiging gepleeg word, is dit God se Woord wat NOOIT onverrigter sake terugkeer nie. Die boodskapper is dus nie die belangrikste element nie, want soms, net soms, of is dit altyd?, slaan God 'n baie reguit hou met baie krom stokke.

Saturday, 20 December 2014

Refleksie na my derde week in Oranjemund


Vandag stap ek toe al die pad tot by die mond. 'n Stewige stappie van die laaste stilhouplek langs die rivier as jy nie 'n viertrek het om tot by die mond te ry nie. En hier word ek bewus van die genade wat water simboliseer. Vars water stroom see toe, see water stoot terug in die rivier in op. En soos die branders in en uit beweeg, is dit ook met ons lewens.

Daar is altyd verskillende strominge. Dit gaan nooit net goed of net sleg op alle vlakke van jou menswees nie. Maar die wonder is, die oomblik as die golf gebreek het en terugtrek, is hy verewig weg. Daar sal sekerlik so lank die aarde bestaan golwe wees. Die een na die ander. Maar nie twee na mekaar is dieselfde en nie een kan herhaal nie. Elke keer nuut.

So is ons lewens ook. Elke dag word ons met 'n hand vol vars genade deur God geseën. Gister is verby. Dit kan nooit weer gebeur nie. Die foute, maar ook die goeie. Besef die waarde van genade, want gister se 'goed' (of goeie goed wat gebeur het of gedoen is), is nie genoeg om jou vandag te handhaaf nie. Jy moet weer vars begin. Harde werk. En so is gister se foute, tekortkominge en "sonde" verby. Dis nie genoeg om genade vandag van jou te weerhou nie.

Die lewe is inderdaad nie die stil water van 'n koidam nie. Soms is dit die kalmer golwe van 'n breë rivier. Soms is dit die stroomversnellings in 'n rivier en soms is dit die golwe en strominge van die see. Maar deur dit alles kan ons elke dag voluit leef in oorwinning, gefokus op dit wat voor ons lê.

En so kom ek die week onder die besef van hoe die tyd vlieg. Week drie het gekom, en ook gegaan, Amper soos 'n skoenlapper wat saggies sy verskyning maak, jou vir 'n oomblik met sy skoonheid trakseer en genotvolle bewondering verskaf om dan die volgende oomblik te verdwyn. Net weg.

En wat 'n week was dit nie. Ek moes bitter moeilike besluite neem, in die verlede gaan delf en skoonmaak en baie dinge vir eens en altyd finaal afhandel. Maar dis gedoen. Klaar. En nou, in die gees van Paulus in Fillipense 3:13 maak ek my totaal los van die verlede. Ons is die somtotaal van dit wat onsself in die verlede gedink, gesê, besluit en gedoen het. Ons reaksie op gebeure in ons lewens. Maar dit beteken nie dit moet ons gevange hou en ons toekoms bepaal nie. Ja ek weet en ervaar die resultate pynlik sigbaar. Ek gaan my egter nie laat viktimiseer en toesluit nie. Nee dit het gebeur. Dit is so. Maar nou, soos Oom Paul ons geleer het, leer ek daaruit, vat die goeie en bou daarop en die slegte as 'n goeie leerskool en strek my uit na dit wat voor my lê - 'n blink nuwe toekoms in oorvloed.

In die gees van Kersfees, wat nie vir my enige godsdienstige sentiment inhou nie, pak ek die volgende deel en helfte van my tyd hier in Oranjamund en week aan in die wete met God is daar altyd 'n nuwe begin, nóg 'n kans, 'n nuwe seisoen. En ek sien uit na wat die Gees nou gaan doen.

Ek sien ook uit na môre se erediens en preek. Wat 'n voorreg om 'n instrument in God se hand te mag wees. En mag mense se lewens positief verander en hul gees gevoed word.

Friday, 19 December 2014

Die dorp-sindroom in die stad

Vandag toe loop ek deur die "mall" hier in Oranjamund. Ek weet nie wat die geskiedenis van die plek is nie. Maar as jy daarin stap, is dit of jy 'n tree terug in die geskiedenis gee. Ek sal nog foto's opsit, maar dit was baie interessant vir my dit te ervaar. Eintlik al wat dit is, is 'n groot skuur met klein winkeltjies wat ingebou is. Die anker-winkel is 'n Lewis. Meeste van die winkeltjies staan toe en daar is hoofsaaklik 'n paar klere- en skoenwinkels en "tailors".



Die "mall" is nie die sentrum van die dorp se inkopie"mecca" wat hoofsaaklik om die Spar in die middel van die dorp  draai nie. Soos ek voorheen al geskryf het, inkopies in Oranjemund is 'n unieke ervaring. Ek dink goed vir die mans, maar die vrouens kry seker maar swaar. Die winkel wat die laatste oop is, is Rianne se Kafee. Dié is oop tot 9-uur in die aand. Die ander winkels maak tussen 5- en 6-uur toe. Die garage is oop tot 8-uur, want 10-uur maak die hekke toe, dan kan niemand in elk geval nerens heen ry nie.

Wat my by my punt vir vannaand se blog bring. Ek was die laaste tyd in verskillende plattelandse dorpe. Nou ek aanvaar daar is platteland en platteland. En ek besef daar is plattelandse dorpe wat werklik 'n uitdaging bied. Maar plekke soos Oranjemund en Springbok bied heel gerieflik al die nodige. Sommer so tong in die kies, wat nogal vir my opvallend is, is dat Oranjemunders na Springbok ry vir groot inkopies. Maar Springbokkers ry weer Kaap toe vir die groot inkopie-ervaring.



Die laaste paar maande val 'n ding my egter in die stad baie op. In die stad is mense ook maar basies gesentreer rondom hul onmiddelike omgewing. Meeste woonbuurte (voorstede) het 'n klein sentrum of selfs 'n paar wat in 'n bepaalde aantal blokke gesentreer is. En dit is hier waar die plaaslike bevolking hoofsaaklik hul daaglikse brood en benodighede kry. Die mall is meestal vir die groot uitstappies. Die stad is vir eksklusiewe koop-ervaringe.

Hier, by die klein sentrumpie, is waar die plaaslike inwoners soos bye om 'n korf of miere om 'n miershoop vergader. Soms loop jy 'n bekende raak. Ander kere voel jy soos 'n vreemdeling in jou eie omgewing. Nog iets wat vir my baie interessant is in die stad is dat 'n mens in jou omgewing bly, dit as jou huis beskou, jouself sal identifiseer as 'n Durbanviller of Table Viewer byvoorbeeld, maar jy ken so min van die ander Durbanvillers of Table viewers. Jy kan by jou plaaslike sentrum dag na dag kom en niemand raakloop wat jy ken nie.

En dít is seker grootliks die verskil tussen die platteland en die stad. Tussen hordes mense en tog stoksielalleen...

Thursday, 18 December 2014

Geestelik hoog, maar stewig gegrond (#2)

Verlede week het ek met 'n blog begin waar ek bietjie saam met jou wil dink oor ons spiritualiteit. Jy kan dit weer hier lees.

Die vraag wat ek gevra het is hoe leef ons as kinders van God in die wêreld? Om absoluut met jou hele hart en siel en verstand vir God lief te wees, maar tog in die wêreld en in jou kultuur relevant te wees.

Verlede week moet ek in 'n vraelys vir 'n aansoek by 'n gemeente invul wat my spiritualiteit is. Gelukkig is daar 'n vraelys wat jy by die konselent kan kry om dié te bepaal. Nodeloos om te sê tussen die vier moontlikhede, was al my tellings basies dieselfde.

Ander mag van my verskil, maar ek beskou dit as geestelik onvolwasse wanneer jy een styl so ver bo 'n ander verhef dat daar geen ruimte vir enige ander aanbiddingstyle of spiritualiteite is nie.  Ons as Christene mag nooit esklusief wees nie. Jesus was nooit eksklusief nie. Jy kan maar net na sy keuse van dissipels kyk om dit te waardeer.



God is ook nie ekskusief nie, want almal is deel van die koningkryk en die kerk en dis tog hoe Hy dit verkies. Diversiteit. God hou van die verskillende smake, klere, tale, kulture en gewoontes.

As God en Jesus inklusief is in die manier waarop Hy die kerk en koningkryk bou, dan kan ons mos nie onsself wil ekskulisifiseer nie.

Die ander kant van die munt is dan ook, dat verskillende kerke tog vir verskillende smake voorsiening maak. Of 'n gemeente met verskillende eredienste wat vir verskillende tipe aanbiddingstyle ruimte maak. Niks fout daarmee nie.

Maar my gevoel is geestelike leiers en geestelik volwasse kinders van God moet iets van al die elemente in hul samestelling hê.

Jy kan tog nie anders as om teologies verantwoord met die Bybel om te gaan en met jou aanbieding nie. Jou teologie moet tog suiwer en woordgebonde wees sover as jy kan en so in die prediking aangebied word. Ons aanbidding is egter nie net kopkennis nie. Ons harte moet tog gevul wees met entosiasme oor ons Verlosser en ons moet die warmte van ons gemeenskap met mekaar kan ervaar. En tog is ons nooit onbewus van die mistieke, die Almagtige Mistiese God wat so groot is, en tog soveel bemoeienis met ons kom maak. Om stil te word en  na die stem van die Gees te luister. Maar wat help dit alles, om die kennis te kry, God met jubelende harte te loof en aanbid en Sy stil stem te hoor, as jy nie eerstens mekaar versorg en daarna uitgaan na 'n stukkende en verlore wêreld om diensbaar te wees en die liefde van Jesus te gaan wys en vertel nie.

'n Spiritualiteit is goed. Daar is tog 'n manier waarop jy God beter hoor of waarin jy God meer vrymoedig aanbid, maar kom ons laat ruimte vir mekaar en leer bymekaar.

Volgende keer wil ek bietjie verder dink oor ons spirtualiteit en lig en donker en ons kulturele invloed.

Wednesday, 17 December 2014

Die pad na sukses

Ek het nou so twee dae terug die vraag gevra of ek kan terugkyk na die jaar wat verby is en dankbaar wees vir sukses wat behaal is na aanleiding van 'n aanhaling van Nataniël.
Ek vermoed elkeen sal aan die einde van die jaar op 'n ander manier terugkyk na die jaar wat verby is. Sommige sal dalk voel dit was goed, ander sal sê dit was 'n moeilike jaar, dalk 'n hartseer of seer jaar, of dalk 'n jaar vol tevredenheid en genoegdoening.
Baie mense sal sekerlik dankbaarheid oorkoepelend oor die jaar sit. En mag almal dankbaar wees, veral diegene wat met die meer "negatiewe" emosies oor gebeure na die jaar terugkyk, want die feit dat ons dit gemaak het na die einde van die jaar en wel hier kan wees en sekerlik meer as genoeg gehad het om te eet en 'n bed om in te slaap moet ons al klaar oorweldig met danbaarheid.

Hoe dit ook al sy, ek wil vir 'n oomblik stilstaan by die hele ding van dankbaarheid vir 'n suksesvolle jaar of omdat jy voel jy was suksesvol.
Hoe definieër ons sukses? Dit is aan die een kant 'n baie individuele ding. Maar aan die ander kant is daar tog sekere kriterea wat die samelewing in geheel of die wêreld soms in ons kele wil afdruk as 'n definisie vir sukses. Wel beslis kan geld, of materiële welvaart beslis nie die enigste maatstaf vir sukses wees nie. Dalk 'n hoë posisie? Groot sakeryk? Of sukses op die sportveld of met musiek of 'n ander kunsvorm?

Aan die ander kant is ek bekommerd dat ons  soms prestasie onderspeel met ons morele prekies van sukses is eintlik om 'n goeie ouer en huweliksmaat te wees of om gebalanseerd te wees of om nie deur die jaar in die rut race  uit te gebrand het nie.

Verder wonder ek ook hoeveel van ons het maar net weer deur die jaar geploeter, van naweek na naweek geleef, van somer na herfs na winter na lente na somer. Elke dag dieselfde roete werk toe gery, dieselfde kantoorroetine deurgegaan, huistoe gery, kos gemaak, kinders versorg en doodmoeg in die bed geval. Huweliksmaats wat mekaar verdra ter wille van oorlewing. Kinders wat wees voel maar dankbaar moet wees vir die versorging. Individue wat uitgebrand die vakansie injaag om net so moeg weer die volgende jaar aan te pak. Gebalanseerd? Allermins! Suksesvol volgens die prestasie kriterea? Hoegenaamd nie.

So wat is sukses? Hoe gaan ons onsself meet aan die einde van die jaar? Ek dink daar moet iets van ál ie bogenoemde fasette in wees. Kom ek verduidelik.

'n Hypno-kolega skryf 'n artikel en hy vra die vraag, gaan sukses daaroor om jou goal, doelwit, te bereik of oor die reis na die doelwit?

My eerste reaksie, hoeveel mense het regtig doelwitte? Hoeveel mense jaag 'n goal vir die jaar  na? Hoeveel mense dink hoegenaamd oor die einde van 2015 wat nog te sê 2020?
En as jy nie 'n destinasie (jammer vir dié anglisisme, maar eindbestemming klink net nie so sterk nie) het nie, hoe kan jy die reis aanpak? Dis goed en wel om te sê geniet die reis en leef in die nou, maar sonder 'n visie, gaan mense dood - geestelik, emosioneel en verstandelik (Spreuke 29:18).

Meeste mense sê natuurlik dis te veel werk om te dink en doelwitte te stel. Dis mos makliker om net te ploeter...maar wat is die resultaat? Die teenoorgestelde is egter eerder waar, want doelwitte gee 'n mens energie. Maar ek wil nie nou hier daarop ingaan nie. Volgens dié kriterea was ekself ook nie met alles suksesvol nie, maar wat my opgewonde maak is dat ek mintens dinge kon uitsorteer as gevolg daarvan.

Dus, daar moet 'n kombinasie wees, 'n balans wat gehandhaaf word tussen 'n visie en om daaarnatoe te werk aan die een kant, maar om op só wyse na die eindbestemming  op pad te wees dat jy die reis daarheen geniet. Dat jy elke oomblik mindful op hierdie reis in die volheid van die nou leef en en dit beleef, maar jou oog gefokus op die doelwit, die prys.

Sukses is dus na my mening aan die een kant 'n prestasie. Iets wat jy wil bereik, behaal, bymekaar wil maak of doen. Jy moet kan terugkyk aan die einde van die jaar en sê ek het eindbestemming X, Y en/of Z behaal.

Maar sukses is ook om te kan terugkyk en die juwele op die reis te kan onthou. Daardie spesiale oomblikke. Daai lesse wat jy geleer het te koester. Die sukses van daai hindernisse wat jy oorkom het te smaak. Om te weet ek het my reis met integriteit gestap. Ek het nie mense vernietig in die proses nie. Ek het nie my waardes prysgegee of my gesin of huwelik opgeoffer nie. Om te weet jy het die nou volkome geniet en beleef.

Wat my bring by nog 'n faset van sukses. Sukses is, so wil dit vir my voorkom, nie een eksklusiewe saak nie, maar 'n inklusiewe samevoeging van verskillende elemente. En dit is om op die reis met integriteit, karakter, etiese optrede en binne jou waardes te wees. Ek vra myself die vraag het ek werklik so geleef? Ek onthou twee of drie jaar terug het diè saak so sterk by my opgekom en ek het begin dink hoe wil ek hê mense moet my onthou aan die einde van my lewe. As iemand met integriteit en karakter? As iemand wat nie afgewyk het van sy waardes nie? En face dit, in ons dag word 'n etiese leefwyse as oudmodies beskou. Maar is ek bereid om só te leef? Dit gaan jou beslis nie red nie. Maar is dit nie op die ou einde juis deel van ons anderslyk as koninkryksburgers nie? En ek wonder oor een of twee situasies die jaar of ek wel so opgetree het?

Maar laastens, ons reis is beslis nie los van ons daaglikse lewens nie. Weereens 'n fyn lyn tussen om te verval in 'n groef van daaglikse oorlewing en om wel in die nou in die daaglikse roetine maksimum die lewe te leef. Die enigste verskil tussen 'n groef en 'n graf is die diepte. So hoe bly jy uit die graf?



Prediker 3:12-13 het vir ons die antwoord -  Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is 'n gawe van God. Vers 22 - Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk; dit is wat hom toekom. Wie kan hom laat sien wat ná hom sal gebeur? 9:9-10 - Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie.

Sukses is na aanleiding van Prediker om  nie vasgevang te raak in die sinneloosheid van die lewe nie. Dit wat die vlees, die natuurlike mens, dikwels na strewe - mag, rykdom, plesier, seks, drank, kos, kennis ens. Nee sin en dus sukses kom wanneer jy dit wat jy elke dag doen volkome kan geniet en in 'n gelukkige verhouding staan. Iemand spesiaal waarnatoe jy kan huis toe kom aan die einde van die dag.

My konklusie so ver is, as ons onsself aan die einde van die jaar wanneer ons in dankbaarheid terugkyk en vra hoe suksesvol die jaar was,  wil meet, dan is daar vier elemente waaraan ons ons sukses kan meet. Ons kan dalk ook praat van vrugbaarheid. Of nog beter, 'n lewe van oorvloed!

Het ek voluit geleef op pad na my doelwitte (met die veronderstelling dat jy doelwitte het waarnatoe jy werk) met integriteit, karakter, waardes en 'n etiese lewensstyl? En met voluit leef bedoel ek om die reis te geniet, mindful in die nou te leef en dat dit wat jy doen vir jou vreugde verskaf saam met die persoon wat jy liefhet.

As ons op 'n skaal van tien ons sukses volgens dié kriterea meet en nie tevrede is met die resultaat nie, is dit dalk 'n goeie uitdaging om onsself in die komende jaar daarna uit te strek.
Was ek suksevol? Beslis nie 'n tien nie, maar darem ook nie 'n een nie! Dalk rondom 'n vier, maar nou het ek dit minstens vir myself uitgemaak hoe die besigheid werk! En daarvoor gee ek myself 'n tien uit tien!

Tuesday, 16 December 2014

Daar is 'n tyd - Dit is tyd

Turn! Turn! Turn!
Die laaste paar blogs was diep sake. Ek wil ook nie almal heeltyd vermoei met my eie worstelinge en meditasies nie, maar aan die ander kant glo ek ook dat iets hiervan dalk net iets vir iemand kan beteken. Daarom skryf ek soos dinge gebeur en op my hart gedruk word.

Die tema van die bundel is: Wilco se 40-dae-in-die-Mund-refleksies. Die Heilige Gees druk al die grootste deel van die jaar dit op my hart om 'n stilword tyd te kry en te luister. Dit wou egter nie realiseer nie behalwe vir drie dae erens in die begin van Julie. Maar die begeerte daarna het net al hoe dringender geword en toe kry ek die geleentheid om vir ses weke, of te wel 40 dae, hier in Oranjemund te kom aflos. Die perfekte geleentheid. Dit is stil en rustig en alles het perfek uitgewerk.

Weliswaar was die stilword-proses heelwat moeiliker as wat ek gedink het dit gaan wees. Dit is moeilik genoeg vir my om stil te word en ek sukkel nog altyd met die "luister-na-God-se-stem"-ding. Nie dat ek een oomblik twyfel dat Hy praat op en deur verskillende wyses en mense nie. Daarvoor het ek Sy stem al té duidelik in my lewe gehoor. So sekere dissiplines kom bietjie makliker as ander.
Tog ervaar ek dat God só gracious, genadig, is dat Hy jou vat waar jy is en deur die Gees met jou die pad stap na waar jy moet kom.

Soos ek nou die dag geskryf het, besef ek toe ek moet meer genadiglik op myself wees en besef dat God wel besig is.
Vanoggend toe tref dit my mos nou soos 'n nat snoek wat die Gees doen.



Die Heilige Gees het my toe, teen my eie sterkste verwagtinge of oortuiginge in, eers teruggevat na die verlede. Nie om daar te gaan vassteek nie. Juis om te gaan skoonmaak. Want 'n mens kan nie vorentoe beweeg as daar toue en ankers is wat jou vasbind nie. Dit moet los en af. Jy moet vry wees. Paulus sê in Fillipense 3:13 ek maak my los van wat agter is. Dit is soms 'n proses.

Seker so twee maande terug wys God my duidelik in 'n droom dat Hy besig is om my in sy furnace, sy smeltkroes, sy vuur, skoon te brand. Jy weet soos silwer wat gesuiwer word. In 1 Petrus 1:7 praat hy van ons geloof wat soos goud deur die vuur gelouter word. 

Om suiwer silwer, of enige ander edelmetaal te kry, moet ál die onsuiwerhede verwyder word. Dit word gedoen teen temperature van duisende grade. As alles gesmelt is kom alles wat nie deel is van die edelmetaal nie boontoe en word verwyder en die metaal sak af ondertoe. Só suiwer God ons deur verskillende dinge in ons lewens soos die Woord, mede-gelowiges en omstandighede. Vandag herinner God my aan die droom en ek besef waarmee Hy die afgelope tyd  besig is. Dinge word skoongemaak en gesuiwer. Sommige is baie pynlike besluite. Gewoontes, gedagtes en sake word uitgesorteer en afgehandel. Geen wonder ek is so melancholy die laaste twee maande nie!

Die tweede openbaring kom uit Prediker 3 wat al 'n geruime tyd op my hart druk. Ek word wakker met 'n baie swaar las vanoggend oor 'n ding wat ek moet afhandel en Prediker 3 kom net skielik in my gedagtes op. Ek besef God sê vir my iets en ek word rustiger. Later wil ek Bybelstudie doen en ek maak my Bybel oop om na my Psalm vir die dag te blaai en raai waar val my Bybel oop. Ja, Prediker 3. Nou kyk, ek glo nie in 'n, slaan-jou-Bybel-oop-en-hardloop-daarmee-oplossing nie. Daarvoor is ek 'n tè ernstige en verantwoordelike teoloog. Maar ek glo ook nie aan toeval nie. So ek weet vanoggend praat God reguit met my.

Die van julle wat my ken weet ek mediteer al lankal oor die seisoene in ons lewens. Kort opgesom, dit is wat Prediker 3 sê. Luister die song wat ek heelbo gelink het. Daar is 'n tyd vir alles. As ons die tye en seisoene in ons lewens ontken, benadeel ons net onsself en die normale prosesse van die lewe. Dit bevestig maar weer net, daar bestaan nie iets soos goed of sleg nie. Dit is perspektiewe wat gekoppel is aan persoonlike voor-of-afkeure. Nee, daar is seisoene. Tye in ons lewens waar die verskillende kante van 'n saak na vore kom. Hoeveel keer in die lewe benadeel onsself nie omdat ons vaskyk in wat ons dink sleg is, of nie goed na ons subjektiewe mening op daardie bepaaalde tydstip, en dan mis ons 'n blessing net omdat dit aan die ander kant lê. Of ons klou vas aan 'n seisoen en beweeg nie aan nie.

 Lewe is organies dinamies. Dit groei en sterf die hele tyd.

Ek besef hoe ek myself vir jare vasgeketting het met goed in die verlede waaraan ek vasklou.
Dit is tyd om af te haal, los te maak, gedagtes te vernuwe en aan te beweeg. Dit is tyd.

Nog 'n ding wat die Heilige Gees my toe wys so uit Prediker 3 en in my meditasie en luister vanoggend, is dat ek nie in die woestyn is nie. Vir so lank dink ek ek is in die woestyn en ek moet die beloofde land in. Ek worstel met God oor die woestyn. So tong in die kies, nou sit ek letterlik midde-in 'n woestyn. God se humor!

Maar toe vanoggend wys God my ek sit in ballingskap. Daar is 'n merkwaardige verskil. Ek is al lankal deur die Jordaan uit die woestyn. Ek het al soveel van die melk en heuning van die beloofde land geproe. Maar weens my eie keuses en soveel dinge wat gebeur het, het ek in die ballingskap beland. Dit is hoekom God my die reeks, Kies 'n lewe van oorvloed, ook gegee het. Hy herstel jou eers. Wys jou waaroor dit gaan. Help jou om jou kop reg te kry. En dan haal hy jou uit en vat jou terug. En vanoggend besef ek daar is 'n tyd. En die tyd is hier om uit te trek terug en die die tempel te herstel.

Vir elke ding is daar 'n tyd...'n tyd van suiwering, 'n woestyntyd, 'n ballingskaptyd en dan 'n tyd van oorvloed en beloofde land en om in die "tempel" te dwell. Van die verlede agter jou sit en jou uitstrek na wat voor is. 




Monday, 15 December 2014

Sukses van bo gesien

As 'n terapeut en ook 'n persoon wat alles oor-analiseer, weet ek hoe moeilik dit vir ons as mense is om na onsself en ons omstandighede van buite af te kyk. Maak nou nie saak of ons deur moeilike tye of goeie tye gaan nie, ons is geneig om in die berg vas te kyk en te dink daar is geen ander oplossing of moontlikhede nie.
Gaan dit goed, dan leef ons asof daar geen môre is nie. Gaan dit sleg, bekommer ons of daar geen uitkoms is nie.

Hier buite Oranjemund is 'n koppie by die Swarkop Natuurreservaat. Sover ek kan sien is dit, benewens 'n sandduin en die mensgemaakte 'berg', die mynhoop, die hoogste ding in die onmiddelike omgewing.
Maar as jy bo-op dié kop staan, het jy die mooiste uitsig oor die Oranjerivier en die omgewing.


Die vermoë om na jou omstandighede van 'n afstand te kyk is een van die mees verligte dinge om aan te leer.
Een van my vriende, Leon Klue, praat altyd van 'n helicopter view. Ek noem dit sommer 'n arendsblik.

Ek dink dit is hoekom gebed so belangrik is, want God kyk van bo. Hy sien die groter prentjie. Ons sien gewoonlik net raak wat om ons is. En daarom voel dit soms of daar geen uitkoms, geen môre is nie. Of ons nou vasgevang is in probleme óf in plesier, om te leef asof daar nie hoop is nie, kan vernietigend wees.

So dink ek vandag oor die afgelope jaar. Ek leef  met dankbaarheid en daar is só baie om voor dankbaar te wees. Maar in die Oase, die gemeente se maandblaadjie, lees ek vanoggend 'n aanhaling van Nataniël wat reflekteer oor alles waarvoor hy dankbaar is aan die einde van dié jaar. En dan sê hy 'n ding wat my vandag 'n bietjie in meditasie  laat stilstaan het . Ek het nog nie 'n antwoord hieroorv nie. So hier kom nog 'n blog.

Nataniël noem onder andere hy is dankbaar vir sy eie sukses en die van sy familie. En dit het my laat dink oor myself. Kan ek sê dat ek dankbaar is vir sukses aan die einde van dié jaar? Hoe definieër ek sukses? En wat moet ek doen om aan die einde van die volgende jaar te kan sê ek is dankbaar vir sukses?

En so, dink ek, is die uitsig van bo, as deel van my persoonlike refleksies op hierdie stadium, 'n belangrike vraag na wat is 'n suksesvolle jaar.

Sunday, 14 December 2014

Die genade van gee

Dit is beter om te gee as om te ontvang. 

Dié koninkrykbeginsels is so waar in alle aspekte van ons lewe. Die tye wanneer mens selfsugtig raak en net na binne leef, of kwaad raak omdat jy "niks" kry nie (of dit nou vriendskap, liefde, 'n glimlag of net simpatie is), is dit gewoonlik ook wanneer 'n mens self niks gee nie.

Wanneer ek bedien en ek weet dat die Gees gebruik my en ek doodmoeg by die huis kom, dan besef ek maar net watter voorreg dit is om te gee. 

Dis genade om as  as kinders van die Here so baie aan mekaar te kan gee. In ons kapitalistiese lewens dink ons so baie keer gee beteken net geld. Of by die skool en selfs by die kerk gee mense partykeer baie makliker geld as om self te help of moeite te doen om iets te bring. Maar ons het soveel om te gee. 
Ek leer in my eie lewe al hoe meer, hoe meer ek my eie gemak soms opsy skuif, my eie "nie lus nie" of verskoning van te moeg of besig wees en myself gee, hoe meer geseënd is ek. 

Dit wat jy terugkry is soveel meer as die bietjie wat jy gee. As jy na die tyd  terugkyk dan besef jy hoeveel jyself geseën is in jou eie gee.

Soms hoef 'n mens net 'n glimlag te gee. Of 'n handdruk of 'n bemoedigende woord of 'n gebed. Of iets klein wat jy vir iemand doen. 



Ná vanoggend se erediens besef ek die genade van gee met jou gawes, talente en roeping. En ek besef weereens hoe belangrik dit is dat ons mekaar as gemeente dien met ons gawes. Dit is ons voorreg om as koninkryksburgers te kan gee en mekaar te kan bedien of dit nou deur 'n ete is, 'n gloeilamp te vervang of te bemoedig of te leer. 

Dankie Heilige Gees dat ons in die Kerstyd kan dink aan wat dit beteken om te gee en dat ons in Jesus se voetspore kan volg!   

Saturday, 13 December 2014

Refleksie na my tweede week in Oranjemund


Ek het al 'n paar keer die afgelope maand gesê ek weet nie waarheen het die tyd dié jaar heen gevlieg nie. Ek kan byna dieselfde sê van die afgelope week. Ek weet dit was nog Dinsdag erens, maar toe ek weer sien is ons deur 'n vakansiedag, Vrydag uit en hier is die week verby en môre begin die nuwe week weer.

Welliswaar is die lewe opwindend. Ek besef net meer en meer hoe belangrik dit is om met "mindfulness" te leef. Carpe diem - Gryp die dag. Leef in die nou. Wees bewus van dit wat nou gebeur, wat jy nou ervaar, wat jy op dié oomblik beteken.

Só gryp ek vandag die dag vir 'n vinnige heen en weerkie na die Port (Port Nolloth). Met my terugkom ry ek toe na die uitkykpunt bo by die Swartkop Natuurreservaat wat iemand (nie eers 'n inwoner nie) my dié week van vertel het. En wat 'n belewenis was dit nie. Vir die eerste keer sedert ek hier is, het ek ervaar dat ek regtig stilword. En het daarmee saam die pragtiste sonsondergang gesien.
Ek vermoed ek gaan in die komende paar weke 'n hele paar keer weer op dié kop gaan loop sit.

In my refleksie het ek 'n paar dinge besef. En soos die brug tussen twee grense (boonste foto) is ons lewens soms in oorgangstye van die een "grens" na 'n volgende "grens". Jy kan dit seisoene ook noem. Selfs deur die Jordaan-trek-ervaringe. Wat ek weet die plek is waar ek nou in my lewe is. Ek is besig om van die woestyn-winter-grens na die beloofde land-somer-grens oor te gaan. Stadige transformasie wat begin plek inneem.

Grensbrugtye is eintlik baie opwindende tye. Dis tye van skoonmaak, van refleksie en agterlaat en skoon begin en ontvou-tye.

En so in my refleksie besef ek maar dit is tyd, in die oorgrens beweeg van my, dat ek nou werklikwaar van 'n vreeslike gogga moet begin ontslae raak. Daai gogga (of spinnerak soos sommige dit noem) het 'n naam, en sy naam is, ja, perfeksionisme. Baie van my teleurstellings, uitstel (procrastination), luiering, nie klaarmaak nie kan ek toeskryf aan my perfeksionistiese streep. Ek, 'n talent of iets soos 'n stuk werk of 'n song is net nooit goed genoeg nie. So ja, daar is dit in die ope. En dit is nou een grens wat in my lewe agtergelaat moet word. Die brug moet gekruis word. En dit wie ek is in Christus en in myself moet net beskikbaar wees om gebruik te word.


En so, as die son ondergaan op week 2, besef ek, ek moet genadig wees met myself. Daar was tye wat ek gefaal het, daar was goed wat ek nie gedoen het nie en daar was tye wanneer ek moeg was. Maar dis oukei. Want in refleksie, het ek eintlik baie gedoen, deurbrake gehad, baie beteken en 'n baie goeie onderhoud gehad met werklik positiewe verwagtinge.

My grootste besef is ek het nie nodig om al doer in my refleksies, wag, stilword-tyd te wees nie. Dis nie 'n kompetisie nie. Dit hoef nie perfek te wees nie. Luister net. En as jy nie nou hoor nie, sal jy wel, want jy SAL Sy stem hoor sê: "Hier is die regte pad, draai om en loop hierlangs." (Jesaja 30: 21) "Wees stil en weet ek is die Heer," se God in Psalm 46:10 en vir Sagaria sê die Gees: "Wees stil voor die Here," (2:13) en "Nie met mag of krag nie, maar met my Gees. sê die Here die Almagtige" (5:6).

As ek terugkyk op die week, is die grootste les wat ek leer, dat stilword beteken gee net oor. Maak net los en laat toe dat die Gees jou gees lei.

Friday, 12 December 2014

Skaam Gemsbok?

Gister het ek geskryf oor die humor in die 'Mund" oor die bordjie wat Gemsbokke in die Spar verbied. Vandag kry ek toe goeie 'intel' dat die moontlikheid tog wel bestaan. Klaarblyklik is die Gemsbokke in Oranjemund hoogs gekultiveerd, ontwikkeld of het dalk net aangeleerde gedrag, maar hulle weet wanneer daar "groen, sappige en aanloklikke gras" in die Spar is.

Volgens Annetté Schoeman wat al 30 jaar in die dorp woon, bestaan die moontlikheid tog wel dat die Gemsbokke vir 'n wandeling deur die Spar kan gaan. Of hulle wel regs kyk en die bordjie gehoorsaam, smaak my egter nie so nie. Ek haal haar aan: "Jy was seker op n Donderdag in die Spar, want dan kom die groente en vrugte lorrie van die Kaap af in...........en ek dink die Gemsbokke weet dit, en sal dan, net dan n kans probeer vat om daar by ou Eva (die dame wat die groente en vrugte weeg) 'n ou ietsie gaan probeer hollang! "

Nou daar het jy dit. Hierdie oase in die woestyn het beslis baie meer as net oulik, vriendelike mense, hier is ook slim Bokke! Ek weet nie of die bestuur die Gemsbokke vir leeslesse gaan stuur nie, maar beslis is hulle optimisties dat 'n Gemsbok nié die winkel gaan betree as hy die bordjie raaksien nie!

Maar ek is veral dankbaar vir die foto wat Annetté gestuur het. Ek wou die foto gister plaas saam met die storie oor die Gemsbok aan 'n leiband, maar ek kon dit om die dood nie opspoor nie. Nou hier is dit:


Ek weet nie of dié dame begin skaam voel het, of dalk só gekultiveerd geraak het dat sy besluit het dis tyd om behoorlik te klee nie, maar hier het jy dit nou! Sy het besluit sy gaan 'shop' maar onderdeur die wasgoeddraad.
En kyk hoe onskuldig lyk daai gesiggie. Geen sorge in die wêreld nie.

Het Jesus ons nie kom leer dat ons nie moet bekommer oor wat ons aantrek nie, want as God vir die Gemsbokke en die voëls sorg, sal Hy ons nie soveel te meer versorre nie?

Hoe dit ook al sy, die Gemsbokke is nie net deel van die karakter in die "Mund" nie, maar sorg vir genoegsame humor, rustigheid en helaas 'n besef hoe ongelooflik die skepping is!